YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 104

104
1Ek sê vir myself: Kom prys die Here!
Here, my God, daar is niemand wat groter is as U nie!
U is so groot, U kan nie met woorde beskryf word nie.
Soos ’n mens sy oë toedruk as hy na helder sonlig kyk, so oorweldig u grootheid ons.
2Oral rondom U is lig; dit is amper soos iemand wat pragtige klere aantrek. Dis mooi om na te kyk.
3U het die blou hemel soos ’n tent bokant die aarde opgeslaan. U bly daar! U ry op die wolke en die wind.
4U beheer die reën en die wind. As die wind waai, sien en hoor ons u krag.
U laat die weerlig slaan waar U wil.
5Die Here het die aarde op ’n vaste baan om die son geplaas.
Op daardie baan sal dit vir altyd bly.
6Aan die begin het U baie water oor die aarde laat spoel.
Alles was onder water, selfs die hoogste berge was toe soos onder ’n kombers.
7Maar toe U praat, het alles bymekaargevloei; u stem was soos harde donderweer wat die water laat beweeg het.
8Soos die water wegloop, het die berge hoër en die klowe dieper geword.
Die water het na die plek geloop waar U dit wou hê.
9Nou het die see ’n grens. U het dit getrek.
Daarom sal die water nooit weer oor die hele aarde loop nie.
10U sorg dat daar genoeg water is.
Water borrel uit fonteine en vloei dan tussen die berge deur.
11Al die wilde diere kan daarvan drink. Ook wildedonkies gaan les hulle dors daar.
12By die water maak die voëls hulle nes; tussen die bome hoor jy hoe hulle sing.
13Uit die wolke laat Hy dit reën op die berge.
Hy gee so baie reën dat die water nie meer kan wegsak nie.
14Hy laat gras groei vir die diere om te eet.
Die groen plante is nuttig vir die mense, dit is hulle kos wat uit die aarde kom.
15So is daar wyn, wat jou vrolik maak as jy genoeg drink.
Daar is olyfolie, waarmee jy jou vel kan versorg.
Die kos bou jou kragte op.
16Die bome wat die Here geplant het, kry meer as genoeg water. Ook die seders op die Libanon wat Hy geplant het.
17Voëls maak nes in hulle takke.
Die reier bly in die hoë toppe van die bome,
18terwyl steenbokkies tussen die klippe van die hoë berge rondspring. Die dassies skuil tussen die rotse.
19Hy het die maan gemaak. Soos ’n horlosie wys dit nuwe maande aan.
Die son gaan elke dag klokslag op die regte tyd onder.
20As U dit laat donker word in die nag, kruip die nagdiere uit hulle gate.
Dan begin die bos lewe.
21Jong leeus brul wanneer hulle op soek is na kos;
hulle herinner God om vir hulle kos te gee.
22Wanneer dit te warm word, verdwyn hulle en gaan lê tussen die gras.
23Mense gaan in die dag uit hulle huis om te werk, maar saans kom hulle terug nadat hulle geld verdien het.
24Daar is baie dinge wat U gemaak het, Here!
U het alles gemaak omdat U weet hoe.
U het die aarde met u hande gemaak.
25Kyk net hoe groot en uitgestrek is die see.
Onder in die water is daar duisende derduisende seediere,
grotes en kleintjies, noem maar op.
26Bo-op die water seil groot skepe rond, terwyl seemonsters onder in die water speel.
27Almal is van U afhanklik. U gee vir almal kos op die regte tyd.
28U sorg dat hulle kan eet. Hulle kom dit net by U haal.
U gee genoeg sodat almal daarvan vol kan word.
29Wanneer U ophou gee, is mens en dier in die moeilikheid.
Hulle lewe is in u hande. U laat hulle ook doodgaan.
30Met u krag het hulle in die wêreld gekom. Dis U wat nuwe lewe uit die grond laat opkom. U laat groenigheid uitspruit.
31Mag mense die Here altyd bewonder!
Mag die Here alles wat Hy gemaak het, geniet!
Die Here is so sterk. 32Hy kyk net na die aarde, dan begin dit bewe.
Hy vat net aan die berge, dan raak dit aan die brand.
33So lank as wat ek lewe, sal ek vir die Here sing. Ek wil Hom eer.
Ek sal lofliedere sing tot eer van my God, terwyl ek lewe.
34Mag ek oor dinge dink wat die Here gelukkig maak.
Ek geniet dit baie om te praat oor alles wat Hy gedoen het.
35Ek wens dat hulle wat die Here nie liefhet nie, gou sal verdwyn.
Hulle wat weier om die Here te dien kan maar doodgaan.
Maar ek sê vir myself: Jy moet vir die Here baie dankie sê vir alles.
Kom, prys die Here!

Currently Selected:

Psalms 104: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy