YouVersion Logo
Search Icon

Nehemia 13

13
Nehemia se hervormings
1In daardie tyd, terwyl hulle gedeeltes uit die boek van Moses vir die volk voorgelees het, het hulle op die gedeelte afgekom wat sê dat geen Ammoniet of Moabiet ooit in God se gemeente toegelaat moes word nie. 2Die rede hiervoor was dat die Ammoniete en die Moabiete geweier het om vir die Israeliete kos of water te gee in die tyd van die uittog uit Egipte. Om die waarheid te sê, dit was hulle wat vir Bileam gehuur het om Israel te vervloek sodat God niks meer van hulle sou hou nie. Ons God het sy vloek in ’n seën verander. 3Toe die mense hierdie woorde hoor, het hulle besluit om geen vreemdelinge onder die Israeliete toe te laat nie.
Nehemia tree op teen Eljasib en Tobija
4Die priester Eljasib, wat die opsigter van die tempelstoorkamers was, en Tobija was lank reeds goeie vriende. 5Daarom het hy Tobija toegelaat om in ’n ruim kamer in te trek. Hierdie kamer was eintlik bedoel as stoorplek vir die koring, wierook en gereedskap wat hulle in die tempel gebruik het, asook vir die tiendes van die koring, wyn en olyfolie wat vir die Leviete, die tempelmusikante en die tempelwagte bedoel was. Die priesters se deel van die offers is ook daar gebêre. 6Ek was nie in Jerusalem toe hierdie dinge gebeur het nie, aangesien ek in die 32ste regeringsjaar van Artasasta, die koning van Babel, na die koning toe terug is om aan hom te gaan rapporteer hoe alles afgeloop het. Na ’n ruk het ek sy toestemming gekry om terug te gaan. 7In Jerusalem aangekom, was ek geskok om uit te vind dat Eljasib vir Tobija toegelaat het om in ’n kamer op die tempelterrein te bly. 8Ek was so kwaad dat ek al Tobija se goed uit die kamer op straat gegooi het. 9Daarna het ek opdrag gegee dat die kamer opnuut vir die Here skoongemaak moet word en dat die toerusting wat in die tempel gebruik word, asook die graan wat vir die offers gebring is en die wierook, in die kamer teruggesit moes word.
Nehemia reorganiseer die Leviete
10Ek het ook gehoor dat die Leviete nie hulle deel van die offers gekry het nie. Daarom is die meeste van hulle en die tempelmusikante elkeen terug na sy eie plaas toe. 11Ek het met die leiers geraas omdat hulle toegelaat het dat die tempel verwaarloos word. Daarna het ek die Leviete en die tempelmusikante gaan haal sodat hulle weer hulle werk vir die Here kon doen. 12Hierna het die mense van Juda weer hulle tiendes van koring, wyn en olyfolie na die tempelstoorkamer toe gebring. 13Ek het die priester Selemja, die sekretaris Sadok en die Leviet Pedaja in beheer van die stoorkamers geplaas. Ek het ook vir Ganan die seun van Sakkur en kleinseun van Mattanja, aangestel as hulle assistent. Die mense het geweet dat hulle eerlike en opregte mense is. Daarom het hulle hulle vertrou om die voorraad regverdig te verdeel.
14My God, onthou tog hierdie goeie daad. Moenie al die mooi dinge wat ek so getrou vir u woonplek gedoen het, vir ’n enkele oomblik vergeet nie.
Reëlings oor die sabbat
15In daardie tyd het ek gesien hoe die mense van Juda op ’n sabbat by hulle wynperse werk. Dit was nie al nie; hulle het ook sakke vol koring, wyn, vye en allerhande ander handelsware op hulle donkies gelaai en dit Jerusalem toe gevat om dit daar te gaan verkoop. Ek het hulle gewaarsku om nie sulke goed op ’n sabbat te doen nie. 16Daar het ook mense van Tirus in Jerusalem gebly en hulle het vis en allerhande ander goed in die stad ingebring en dit op die sabbat aan die mense in Jerusalem verkoop. 17Ek het ernstig met die leiers van Juda hieroor gepraat: “Besef julle nie dat julle die sabbat verkeerd hou as julle sulke goddelose goed toelaat nie?” het ek gevra. 18“Was dit nie presies wat julle voorouers gedoen het nie? Dit is oor sulke dinge dat hierdie stad vernietig is. Al wat nou gaan gebeur, is dat God weer verskriklik kwaad gaan word omdat julle toelaat dat die sabbat so verkeerd gehou word.”
19Ek het toe beveel dat die stadshekke gesluit moes word sodra dit begin donker word op die Vrydagaand voor die sabbat en dat hulle nie weer oopgesluit mag word voordat die sabbat verby was nie. Ek het van my eie mense aangestel om die hekke op te pas om seker te maak dat niks die stad inkom nie. 20Dit het een of twee maal gebeur dat van die handelaars op hierdie aande net buite Jerusalem kamp opgeslaan het. 21Ek het hulle ernstig gewaarsku en gesê: “Wat dink julle doen julle hier? Dit help nie julle wag hier buite vir iemand om uit te kom nie. As julle dit weer doen, gaan ek julle laat arresteer!” Van toe af het hulle nie weer op die sabbat daar aangekom nie. 22Ek het toe vir die Leviete opdrag gegee om hulleself aan die Here te gaan toewy sodat hulle die hekke op die sabbat kon oppas. Op hierdie manier kon hulle sorg dat die sabbat gehou word as ’n dag wat spesiaal aan die Here behoort.
Onthou my asseblief ook vir hierdie goeie daad, my God. Gee tog baie vir my om. U is tog die God wat ons liefhet.
Reëlings oor huwelike
23Ek het ook in daardie tyd gesien dat baie Joodse mans met vroue van Asdod, Ammon en Moab getroud is. 24Erger nog, die helfte van hulle kinders het die taal van Asdod, of die een of ander vreemde taal gepraat. Hulle kon nie eens hulle eie moedertaal praat nie. 25Ek het hierdie mans hiermee gekonfronteer en baie streng teen hulle opgetree. Ek het die Here gevra om hulle hieroor te straf. Ander het my so kwaad gemaak dat ek hulle sommer laat slaan het en hulle aan hulle hare laat rondpluk het sodat hulle kon verstaan dat hulle verkeerd optree. Ek het hulle die volgende voor God laat beloof: “Ons dogters sal nie met ongelowige volke se seuns trou nie, en hulle dogters sal ook nie met ons seuns of met onsself trou nie.”
26“Kyk maar na koning Salomo,” het ek ook vir hulle gesê. “Daar was nie nog ’n koning soos hy nie. God het hom liefgehad en hy het oor die hele Israel regeer. Tog was sy liefde vir die vroue van ander volke sy ondergang. 27Hoe kan julle selfs daaraan dink om so ’n sonde te pleeg en verkeerd teenoor God op te tree deur met vreemde vroue te trou!” 28’n Seun van Jojada, die hoëpriester Eljasib se seun, het met Sanballat die Goroniet se dogter getrou. Vir hom het ek summier uit die gemeente weggejaag.
29Moenie vergeet wat hulle gedoen het nie, my God. Hulle het die priesterskap en al die beloftes van die ooreenkoms wat die priesters en Leviete voor U afgelê het, onder hulle voete vertrap.
30So het ek die mense en die stad gehelp om ontslae te raak van alles wat vreemd en verkeerd was in die oë van die Here. Ek het ook spesifieke diensbeurte vir die priesters en die Leviete ingestel en seker gemaak dat hulle presies geweet het wat om te doen. 31Ek het ook seker gemaak dat die hout wat vir die offers gebruik word, op die regte tyd daar was en dat die mense hulle eerste opbrengs van hulle koring en vrugte as ’n dankoffer tempel toe gebring het.
Onthou asseblief al hierdie dinge, my God! Wees baie goed vir my!

Currently Selected:

Nehemia 13: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy