YouVersion Logo
Search Icon

Miga 4

4
Miga en die profete stry oor wat die Here sê
1Miga het gesê: “Daar sal ’n tyd kom wanneer die tempel in Jerusalem die belangrikste plek op aarde sal wees. Mense van verskillende lande en volke sal na die tempel toe kom om die Here te kom dien.
2“Hulle sal sê: ‘Kom ons gaan na die tempel toe in Jerusalem, want Israel se God is daar. Ons wil graag by Hom leer hoe ons behoort te lewe. Jerusalem is ’n belangrike plek, want dit is waar ons sal kan uitvind of die Here iets spesiaals vir ons tyd wil sê.’ 3Al is daar nasies wat ver van Jerusalem af bly, dit maak nie saak nie. Die Here sal die probleme tussen hulle oplos. Hy sal hulle so ver kry om liewer van hulle wapens landbougereedskap te maak. Die verskillende nasies sal nie meer teen mekaar baklei nie en nie eens meer leer om oorlog te maak nie. 4Daar sal vrede onder die mense wees. Hulle sal hulle eie grond hê vir hulle vrugtebome en hulle sal rustig in die koelte van die bome kan sit sonder dat hulle bang is. Hierdie woorde kan julle maar glo, want dit kom van die Here af. Daar is niemand wat met Hom vergelyk kan word nie.”
5Die opponente het geantwoord: “Hierdie nasies moet lewe soos hulle gode van hulle verwag. Ons sal aan die Here, wat ons God is, gehoorsaam wees.”
6Miga antwoord hulle toe: “Die Here sê: ‘Wanneer hierdie tyd kom wat Ek gesê het, sal Ek die mense wat seergekry het toe Ek my volk gestraf het, bymekaarmaak. Ek sal hulle in die ander lande gaan haal waar Ek hulle as vreemdelinge laat swaarkry het. 7Hierdie mense wat die swaar straf oorleef het, sal Ek weer ’n trotse nasie maak. Ek sal tot in die verre toekoms hulle Koning in Jerusalem wees.’”
8“Jerusalem is ’n sterk en veilige stad. Dit is op ’n hoogte gebou sodat die mense van Juda daar veilig kan wees. Jerusalem sal weer soos vroeër die hoofstad wees van waar die koning sal regeer. 9Hoekom skreeu die mense van Jerusalem dan so benoud? Dit is tog onnodig, want die koning regeer mos nog in die stad. Hulle gekreun en gekla is ook onnodig, hulle planmakers is mos nie dood nie!” antwoord die opponente toe.
10“Nee,” sê Miga toe, “die mense van Jerusalem behoort benoud te wees. Hulle kan maar gerus skreeu, want moeilike tye lê vir hulle voor. Jerusalem is nie so veilig as wat hulle dink nie. Dit is beter om uit die stad uit te vlug na die oop ruimtes om die stad of selfs om na Babel toe te gaan. Dit is nou wel die hoofstad van die vyand, maar die Here sal hulle daar kom verlos uit die mag van hulle vyande.”
11Die opponente het gesê: “Dit is nou wel so dat van die nasies hulle kragte saamspan teen Juda en sê: ‘Ons sal met ons eie oë sien hoe hierdie stad ondergaan. En ons sal bly wees!’ 12Maar hulle verstaan nie hoe die Here dink of wat sy planne is nie. Hy is van plan om vir hulle die lewe baie moeilik te maak en hulle swaar te straf. 13Die mense van Juda glo dat die Here hulle baie sterk sal maak om teen die nasies te kan veg en hulle te vernietig. Dan sal hulle die kosbare besittings van die vyand vat en dit na Jerusalem bring as die Here se buit. Hy is mos die Koning van die hele wêreld.”
14Maar Miga het vir die mense van Jerusalem gesê dat hulle moet regmaak vir ’n baie moeilike tyd wat voorlê. Dit sal moeilik gaan, want die stad is deur die vyand omsingel. Die vyand sal die koning van Israel verneder deur te wys dat hy nie meer in beheer van sy mense is nie.

Currently Selected:

Miga 4: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy