YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 24

24
Jesus is sterker as die dood!
1Vroeg die Sondagoggend is die Galilese vroue na Jesus se graf toe met al die speserye wat hulle bymekaargesit het. Maar toe hulle daar aankom, wag daar ’n groot skok op hulle: 2die groot klip wat die graf verseël het, was weggerol en 3binne was daar geen teken van Jesus se liggaam nie. 4Terwyl die vroue nog staan en wonder wat aan die gang was, kom staan twee mans met helder, blink klere skielik by hulle. 5Die vroue het groot geskrik, want hulle het besef dit is engele. Hulle het dadelik hulle koppe uit eerbied laat sak. 6Toe vra die mans vir hulle: “Waarom kom soek julle die Lewende hier in ’n graf? Dis tog net ’n plek vir die dooies.
7“Onthou julle nog wat Jesus daar in Galilea vir julle gesê het: ‘Die Seun van die mens moet nog in die hande van ’n spul goddelose mense beland. Dan sal hulle Hom kruisig. Maar op die derde dag sal Hy weer lewendig word’?”
8“Ja, ons onthou!” het die vroue opgewonde geantwoord.
9Die vroue het daar en dan omgedraai en vinnig teruggegaan na die ander volgelinge van Jesus toe. Daar aangekom, het hulle vir die elf apostels en vir die ander mense vertel wat hulle gesien het. 10Terloops, die vroue wat eerste daar by die graf was, se name was Maria Magdalena en Johanna en Maria, die ma van Jakobus. Daar was ook ’n paar ander vroue by hulle. Hulle was baie opgewonde oor wat met hulle gebeur het. 11Maar die apostels het hulle skepties gesit en aankyk. Hulle het nie ’n woord daarvan geglo nie.
Twee mense se lewe verander ingrypend
13Twee van Jesus se volgelinge het op daardie Sondag besluit om terug te gaan na die dorp waar hulle gebly het. Hulle dorp se naam was Emmaus, so twaalf kilometer buite Jerusalem. 14Hulle twee was ernstig aan die gesels oor die gebeure van die afgelope naweek. 15Terwyl hulle met swaar harte geloop en praat het, het Jesus by hulle aangesluit en saam met hulle verder gestap. 16Maar hulle het Hom nie herken nie.
17“Wat loop julle so ernstig en praat? En hoekom lyk julle so hartseer?” vra Jesus hulle.
18Kleopas, een van die twee, sê toe vir Hom: “Wat? Ek kan nie glo jy vra so iets nie. Jy kom dan nou uit Jerusalem uit. Het jy nie gehoor wat die afgelope naweek daar gebeur het nie?”
19“Wat?” vra Jesus toe.
“Wel, Jesus van Nasaret, daardie groot Boodskapper van God, is Vrydag daar doodgemaak. Hy het groot wonderwerke gedoen en met gesag oor God se nuwe wêreld gepraat. 20Maar toe het die spul godsdienstige leiers van ons volk Hom gevang. Daarna is Hy skuldig bevind en gekruisig. 21Ons het so gehoop dat Jesus regtig die groot Verlosser van Israel sou wees. Hy het dan vir almal gesê dat Hy ons kom verlos. Maar Hy was verkeerd, want Hy is nou dood en begrawe. Ja, vandag is Hy al drie dae dood.
22“O ja, ons het ook nog ander nuus gehoor wat ons baie omgekrap het. ’n Klompie vroue wat saam met ons vir Jesus gevolg het, was vanoggend vroeg daar by sy graf. Maar sy liggaam was skoonveld. 23Hulle kom vertel toe vir ons dat engele daar na hulle toe gekom en vir hulle gesê het Jesus leef weer. 24’n Paar ander mense het toe vinnig na die graf toe gegaan en dit leeg gekry. Jesus se liggaam was nie meer daar nie.”
25Jesus sê toe vir hulle: “Ek kan nie glo julle geloof is so klein nie. Hoekom glo julle nie wat God se boodskappers in die Bybel sê nie? 26Weet julle nie dat die Messias, God se Gestuurde, eers moes kom ly voordat Hy na sy hemelse woning teruggaan nie?”
27Toe het Jesus stap vir stap vir hulle verduidelik wat Moses en al die ander profete in die Bybel oor Hom geskryf het.
28Later het hulle by Emmaus aangekom. Toe Jesus sê dat Hy nog verder moet stap, het die twee dadelik gesê: 29“Nee, wag! Kom bly asseblief vanaand by ons oor. Dis netnou donker.” Jesus het ingestem en saam met hulle na hulle huis toe geloop. 30’n Rukkie later, toe die aandete klaar was, het hulle by die tafel gaan aansit. Jesus vat toe die brood, sê vir God daarvoor dankie en deel dit aan hulle uit. 31Toe gaan die twee se oë skielik oop. Hulle het Jesus herken. Maar voordat hulle nog iets kon sê, het Hy verdwyn.
32“Dis waar!” het hulle bly vir mekaar gesê. “Ons moes dit eintlik al besef het toe Hy netnou so oortuigend uit die Bybel met ons gepraat het. Toe Hy vir ons gewys het wat regtig daar staan, het ons harte omtrent opgewonde geklop!”
33Dadelik het die twee opgestaan en vinnig in die donker teruggestap Jerusalem toe. Toe hulle daar aankom, is hulle direk na die plek toe waar die elf apostels en die ander volgelinge van Jesus was. Maar voordat die twee ’n woord kon uitkry, sê die apostels en die ander vir hulle: 34“Ons het goeie nuus vir julle. Jesus leef! Hy het aan Simon Petrus verskyn!”
35“Ons het net sulke goeie nuus vir julle,” sê die twee. Hulle vertel toe hoe Jesus saam met hulle kom stap het en hoe hulle Hom herken het toe Hy die brood daar in hulle huis gebreek het.
Die apostels sien Jesus ook
36Terwyl almal nog opgewonde praat oor wat met Petrus en die twee mans uit Emmaus gebeur het, staan Jesus skielik daar by hulle. “Vrede vir julle,” het Hy vir hulle gesê. 37Maar die arme klomp het hulle boeglam geskrik. Hulle het gedink dis ’n spook. 38Jesus vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so bang? Vir wat is julle geloof so klein? Kom staan ’n bietjie nader. 39Kyk mooi na my hande en na my voete. Sien julle die spykermerke? Dit is Ek, Jesus! Toe, kom vat aan My. Voel my arms en bene. Is julle nou oortuig dat Ek nie ’n spook is nie? ’n Mens kan tog nie aan ’n spook vat nie. Dit het nie vleis en bene nie.”
40Terwyl Jesus praat, het Hy sy hande en sy voete vir die apostels gewys sodat hulle aan Hom kon vat en kon sien dat dit regtig Hy was. Party van hulle het rondgespring van blydskap terwyl ander Hom net oopmond aangestaar het. 41Terwyl hulle so verbaas daar rondstaan en nie mooi weet of hulle moet glo wat hulle nou sien nie, sê Jesus vir hulle: “Het julle nie vir My iets om te eet nie?”
42“Ja, natuurlik,” het hulle geantwoord en dadelik vir Hom gebakte vis voorgesit. 43Hy het dit daar voor hulle oë opgeëet.
44Daarna sê Jesus vir die apostels: “Onthou julle dat Ek vroeër vir julle gesê het dat alles wat die Bybel oor My sê binnekort waar sou word? Wel, elke uitspraak oor My in die wet van Moses, en ook in die profete en die psalms, het nou waar geword.”
45Toe het Jesus gesorg dat hulle meteens verstaan wat die Bybel sê. 46“Sien julle nou dat die Bybel sê dat die Messias moes kom ly en dat Hy op die derde dag weer uit die dood sou opstaan? 47Wel, van nou af gaan julle hierdie goeie nuus wêreldwyd oorvertel; van hier in Jerusalem af tot aan die uithoeke van die wêreld. Julle moet vir ander mense sê om hulle sondes te laat staan en dat hulle hulle tot God moet bekeer. Sê vir hulle dat al hulle sondes vergewe word wanneer hulle in My glo. 48Julle het alles wat met My gebeur het self aanskou. Gaan vertel dit aan ander mense.
49“My Vader het ook nog ’n baie groot Geskenk vir julle. Ek gaan hierdie Geskenk binnekort na julle toe stuur. Wag nog net so ’n klein rukkie hier in Jerusalem. Een van die dae gaan julle met baie groot krag direk uit die hemel toegerus word.”
Jesus keer terug na sy hemelse woonplek
50’n Rukkie later het Jesus sy apostels na Betanië toe gevat. Daar het Hy sy hande oor hulle uitgestrek en God se seën oor hulle afgebid. 51Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het Hy na die hemel toe vertrek. 52Die apostels het op hulle knieë neergeval en Jesus aanbid terwyl Hy van hulle af weggegaan het. Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggestap. 53Hulle was baie opgewonde oor alles wat hulle gesien en beleef het.
In Jerusalem het hulle elke dag na die tempel toe gegaan om God te dien en te eer.

Currently Selected:

Lukas 24: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy