YouVersion Logo
Search Icon

Lukas 1

1
1Baie mense het al ’n verhaal geskryf oor al die groot dinge wat onlangs onder ons gebeur het. 2Hulle het gebruik gemaak van inligting wat aan ons deurgegee is deur mense wat al hierdie dinge self meegemaak het en wat God al van daardie tyd af getrou dien.
3Ek het besluit om ook oor al hierdie gebeure aan u te skryf, hooggeagte Teofilus. Ek verseker u dat ek deeglik navorsing oor hierdie groot verhaal gedoen het sodat ek alles reg aan u kan oorvertel, presies net soos dit gebeur het. 4U sal deur die loop van my verhaal agterkom dat alles wat u in die kerk geleer het, die volle waarheid is.
Johannes die Doper is op pad
5My verhaal begin by Sagaria. Hy was ’n priester en ’n lid van die priesterlike diensgroep van Abia. Dit was in die tyd toe Herodes die koning van Judea was. Sagaria se vrou was Elisabet. Sy kom uit Aäron se nageslag. 6Hulle was twee goeie mense wat God se voorskrifte gehoorsaam het. Hulle het nooit ’n voet verkeerd gesit nie. 7Sagaria en Elisabet was kinderloos, want Elisabet kon nie kinders hê nie. Hulle albei was ook al baie oud.
8Op ’n dag, toe dit Sagaria se beurt was om as priester in God se tempel in Jerusalem diens te doen, 9het die lot op hom geval om wierook op die altaar te gaan brand. 10Terwyl Sagaria in die tempel daarmee besig was, het ’n groot skare buitekant gebid. 11Skielik het ’n engel aan hom verskyn, daar aan die regterkant van die wierookaltaar. 12Sagaria het hom boeglam geskrik. 13Maar die engel het hom gerusgestel: “Moenie bang wees nie, Sagaria. God het jou gebede verhoor. Jou vrou Elisabet gaan binnekort ’n seun hê. Noem hom Johannes. 14Hy gaan nog groot vreugde in jou lewe bring, ook in baie ander mense se lewe. 15God het hom uitgekies vir ’n baie belangrike taak.
“Johannes mag nooit wyn of sterk drank drink nie. Die Heilige Gees sal reeds van voor sy geboorte af by hom wees. 16Johannes sal baie Israeliete wat in sonde leef na die Here hulle God toe terugbring. 17Sy belangrikste werk sal wees om te sê dat die Here na sy volk toe op pad is. Hy sal dit doen met dieselfde krag en oortuiging as die profeet Elia van ouds. Johannes sal maak dat pa’s en seuns weer in vrede met mekaar leef. En hy sal mense wie se harte so hard soos klip is, terugkry op die regte pad. So sal hy die Israeliete voorberei vir die Here se koms.”
18Sagaria was heeltemal uit die veld geslaan oor die engel se woorde. “Dit klink te goed om waar te wees. Hoe weet ek u praat die waarheid? Ek is dan al stokoud. My vrou ook. Sy kan mos nie meer kinders hê nie.”
19Toe sê die engel vir hom: “Besef jy nie met wie jy te doen het nie? Kyk, ek is Gabriël. Ek staan voltyds in God se diens. Hy het my spesiaal na jou toe gestuur met hierdie goeie nuus. 20Maar omdat jy my nie wou glo nie, sal jy stom wees tot op die dag dat jou seun gebore word. Tot dan sal jy nie ’n woord uitkry nie. Alles wat ek vir jou gesê het, sal binnekort waar word; presies op die tyd wat God bepaal het.”
21Intussen het die skare wat buite gewag het dat Sagaria hulle moet kom seën, ongeduldig geraak. “Hoekom kom hy dan nie uit nie?” het hulle onder mekaar gevra. 22Toe Sagaria uiteindelik buitetoe kom, kon hy glad nie praat nie. Die skare het agtergekom dat hy ’n visioen gesien het, want hy het aanhoudend met sy hande vir hulle beduie wat gebeur het sonder om ’n woord uit te kry.
23Toe Sagaria se verpligtings daar in die tempel klaar was, het hy teruggegaan na sy huis toe. 24Nie lank daarna nie het Elisabet begin verwag. Sy was so bly daaroor dat sy vir vyf maande lank eenkant gaan bly het, weg van almal af. 25“Die Here het ’n wonderwerk aan my gedoen,” het sy gesê. “Hy het gesorg dat mense nou nie meer agteraf met my sal spot omdat ek nie kinders kan hê nie.”
Jesus is op pad
26In die sesde maand van Elisabet se swangerskap het God die engel Gabriël na Nasaret toe gestuur, ’n dorp in Galilea. 27Hy moes ’n belangrike boodskap na ’n meisie toe neem wat daar gebly het. Haar naam was Maria. Sy het nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad nie. Sy was verloof aan Josef, ’n man uit die nageslag van koning Dawid. 28Toe Gabriël by Maria aankom, het hy haar gegroet en gesê: “Goeiedag. Ek het baie goeie nuus vir jou. Die Here het groot genade aan jou bewys. Hy is by jou!”
29Maria was baie verbaas oor sy woorde. “Wat is aan die gang?” het sy haar afgevra. 30Die engel het haar egter gou gerusgestel: “Moenie bang wees nie. God het ’n wonderlike verrassing vir jou. 31Hy het jou uitgekies vir ’n spesiale taak: jy sal binnekort begin verwag. Een van die dae sal jy ’n Seun in die wêreld bring. Jy moet Hom Jesus noem. 32Hy sal baie belangrik wees; so belangrik dat Hy die Seun van die allerhoogste God genoem sal word. 33Die Here God sal Hom aanstel om te heers oor die koninkryk van sy voorvader Dawid. Jesus sal vir altyd oor Israel regeer. Sy koningskap sal nooit ophou nie; nooit nie.”
34Maria vra toe benoud vir Gabriël: “Maar hoe is so iets moontlik? Ek het nog nooit eens by ’n man geslaap nie.” 35Daarop antwoord hy: “Moenie jou bekommer nie. Die Heilige Gees sal hiervoor sorg. Die Allerhoogste se krag sal ’n Kind in jou verwek. Hierdie Kind wat van God af kom, sal die Heilige genoem word, die Seun van God.
36“Ek het nog goeie nuus vir jou: Elisabet, ’n familielid van jou, verwag ook. Soos jy weet, is sy al baie oud. Tog sal sy een van die dae ’n seun hê. Sy is al ses maande swanger. 37Jy sien, niks is vir God onmoontlik nie.”
38Toe sê Maria: “Ek is in die Here se hand. Sy wil moet in my lewe geskied. Laat alles met my gebeur presies soos u gesê het.”
Daarna het Gabriël vertrek.
Maria kuier by Elisabet
39Maria was so opgewonde oor die goeie nuus wat sy gehoor het dat sy dadelik besluit het om by Elisabet te gaan kuier. Hulle het in ’n dorp in die heuwels van Judea gebly. 40Toe Maria daar by Sagaria se huis aankom, het sy ingestap en vir Elisabet gaan groet. 41Net toe Elisabet Maria se stem hoor, het die kindjie binne-in haar vol vreugde begin beweeg. Elisabet is toe met die Heilige Gees vervul. 42Sy het hardop uitgeroep: “Maria, jy is so bevoorreg in God se oë. Tussen al die vroue op aarde het God juis vir jou uitgekies vir ’n baie spesiale taak. Jy gaan ’n baie belangrike Kind in die wêreld bring. 43Wie is ek dat jy, die moeder van die Here, hier na my toe kom? 44Weet jy, die oomblik toe ek jou stem gehoor het, het die kindjie binne-in my van vreugde opgespring. 45Hoe gelukkig is jy nie, Maria! Jy glo alles wat die Here vir jou gesê het - jy glo dat dit waar sal word.”
Maria se lof aan God
46Maria het toe gesê:
“Ek maak die Naam van die Here groot. 47Ek juig oor God. Hy is my Redder. 48Ek is glad nie belangrik nie, ek is maar een van God se diensmeisies; tog het Hy my raakgesien. Van nou af sal my naam op almal se lippe wees. Alle geslagte sal sê dat ek die gelukkigste vrou op die aarde is, 49want die Almagtige het groot dinge aan my gedoen. Hy is heilig. Daar is niemand soos Hy nie. 50Sy goedheid hou aan van geslag tot geslag. Die Here het magtige dinge gedoen. 51Hy het maar net ’n beweging met sy hand gemaak, dan het groot dinge gebeur. Almal wat te veel van hulleself dink, het Hy oor die aarde verstrooi. 52Magtige heersers het Hy van hulle trone afgestamp, en nederige mense belangrik gemaak. 53Honger mense het Hy by ’n feesmaal laat aansit terwyl die rykes met leë hande moes wegstap. 54God het sy volk Israel baie jammer gekry. Hy het nooit sy beloftes vergeet wat Hy aan hulle gemaak het nie. 55Hy het sy goedheid oor hulle uitgestort, presies net soos Hy aan Abraham belowe het - aan hom en aan sy hele nageslag. Ja, God se beloftes is vir altyd waar.”
56Maria het amper drie maande by Elisabet gebly. Daarna het sy na haar huis toe teruggegaan.
Johannes die Doper word gebore
57Kort daarna het Elisabet ’n seun gehad. 58Haar vriende en familie was baie bly saam met haar. “Die Here was baie goed vir haar,” het hulle almal gesê.
59Agt dae na sy geboorte het Sagaria en Elisabet hulle kindjie laat besny. Die res van die familie wou hom Sagaria noem. 60Maar Elisabet het hulle gekeer. “Nee, wag! Sy naam moet Johannes wees.”
61“Hoekom? Daar is dan niemand in jou familie met die naam Johannes nie,” het hulle haar verbaas gevra. “Kom ons vind uit wat Sagaria dink,” het hulle toe gesê. 62Hulle het met handgebare vir hom gevra hoe hy sy seun genoem wou hê. 63Sagaria het beduie dat iemand vir hom ’n stukkie papier en ’n skryfding moet bring. Daarop skryf hy toe: “Sy naam is Johannes.” Almal was uit die veld geslaan daaroor.
64Terwyl almal nog verwonderd rondstaan, het Sagaria se stem skielik teruggekeer. Hy kon nou weer praat. Dadelik het hy God se Naam begin loof en prys.
65Die hele omgewing is diep geraak deur alles wat met Sagaria en Elisabet gebeur het. Almal was bewus van God se grootheid. 66Hulle kon eenvoudig nie ophou praat oor hierdie wonderwerk nie. “Wat lê nog alles vir hierdie kind voor?” het die mense onder mekaar gevra. Almal kon sien dat God by Johannes was.
Sagaria loof die Here
67Die Heilige Gees het Sagaria vervul. Hy het toe oor God se verlossingsplan begin praat en sy Naam grootgemaak:
68“Loof die Here, die God van Israel! Hy het na sy volk toe gekom. Hy het hulle kom verlos. God het ’n magtige Redder na ons toe gestuur. 69Hierdie Redder kom uit die nageslag van Dawid, die kneg van die Here. Die Here het al lankal belowe dat Hy dit sal doen. 70Die profete wat Hy gestuur het om sy wil bekend te maak, het daaroor gepraat. 71God het belowe dat Hy ons sal red uit die hand van almal wat ons haat 72en dat Hy ons sal oorlaai met sy goedheid. 73Dit alles het Hy in sy spesiale ooreenkoms met ons voorvaders belowe. God het sy beloftes onthou; ook daardie plegtige belofte aan Abraham: 74God het onthou dat Hy ons van ons vyande sal red 75sodat ons Hom voluit kan dien, sonder enige vrees of kommer - elke dag van ons lewe.
76“En jy, my seuntjie, die mense sal jou noem: ‘Boodskapper van die Allerhoogste.’ Jy sal voor die Here uitstap en sy pad gelyk maak. 77Jy sal vir sy volk vertel hoe hulle by God kan uitkom. Jy sal hulle leer hoe hulle sondes vergewe kan word. 78God is so ongelooflik goed vir ons. Binnekort sal sy genade soos die son oor ons donker wêreld begin skyn. 79Hy sal lig maak vir almal wat in die donker leef, ook vir hulle wat in die donker kloue van die doderyk vasgevang is. God sal ons weer op die pad van vrede laat stap.”
80Johannes het vinnig grootgeword. Die krag van die Gees was in sy lewe te sien. Hy het eenkant in die woestyn gebly tot op die dag dat hy onder die Israeliete begin preek het.

Currently Selected:

Lukas 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy