YouVersion Logo
Search Icon

Josua 2

2
Josua stuur twee spioene
om Kanaän en Jerigo te verken
1Daarna het Josua in die geheim twee spioene uit die kamp in Sittim na Kanaän toe gestuur. Hy het vir hulle gesê: “Gaan kyk die land deur en veral die stad Jerigo.”
Hulle is toe daar weg. In Jerigo aangekom, het hulle in die huis van Ragab, ’n prostituut, gaan bly. 2Die koning van Jerigo het uitgevind dat daar in die nag Israelitiese mans in die land aangekom het om dit te verken. 3Hy laat weet toe vir Ragab: “Die mans in jou huis het hiernatoe gekom om op ons te spioeneer. Lewer hulle dadelik aan my uit!”
4-5“Hier was mans by my,” antwoord sy die koning, “maar ek het nie geweet waarvandaan hulle kom nie. Hulle is in elk geval teen donker al hier weg, nog voordat die stad se hekke gesluit is. Ek weet nie waarheen hulle is nie, maar as julle gou maak, kan julle hulle dalk nog inhaal.” 6Intussen het Ragab egter die twee mans op die dak laat klim en hulle tussen die bondels strooi laat wegkruip wat sy daar opgestapel het.
7Die koning se soldate is toe daar weg om na die spioene te gaan soek op die pad wat langs die vlakker dele van die Jordaan verbyloop. Nadat die soldate daar uit is, is die stad se hekke weer agter hulle gesluit.
8Voordat die spioene uit Israel daardie aand gaan slaap het, het Ragab na hulle toe gegaan 9en vir hulle gesê: “Ek weet die Here het hierdie land vir julle gegee. Ons almal is bang vir julle. Om die waarheid te sê, die mense bewe so bang is hulle vir julle. 10Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat opdroog het toe julle uit Egipte weg is. En ons weet ook dat julle die Amoritiese konings, Sihon en Og, aan die oorkant van die Jordaan saam met al hulle mense uitgeroei het. 11G’n wonder ons het doodbang geword toe ons dit hoor nie. Daarom het niemand die moed om julle aan te pak nie, want die Here julle God is beslis die God van die hemel daar bo en die aarde hier onder. 12-13Belowe my dan nou voor die Here dat julle my en my familie so goed sal behandel soos ek julle behandel het. Gee asseblief vir my ’n waarborg dat wanneer julle Jerigo inneem, julle my pa en ma en my broers en susters en hulle families ook sal laat leef.”
14Hulle sê toe vir haar: “Ons is bereid om ons eie lewe as waarborg te gee vir julle veiligheid. As julle ons nie verraai nie, sal ons ons belofte nakom wanneer die Here hierdie land vir ons gee.”
15Later het Ragab hulle met ’n tou deur die venster laat afsak, want haar huis was in die stadsmuur ingebou. 16“Gaan na die bergagtige gebied toe,” het sy vir hulle gesê, “die soldate sal julle nooit daar kry nie. Kruip dan vir drie dae daar weg totdat die mense wat na julle soek, terugkom Jerigo toe. Daarna kan julle teruggaan na julle eie mense toe.”
17Die spioene sê toe vir haar: “Ons sal die belofte nakom wat jy ons laat maak het. 18Later, wanneer ons die land inneem, moet jy hierdie rooi tou waarmee jy ons gaan laat afsak, weer aan jou venster vasbind. Sorg ook dat jou pa en ma en jou broers en al jou pa se familielede by jou in die huis is. 19Enigeen wat nie dan in jou huis is nie, is self verantwoordelik vir sy dood. Dan is dit nie ons skuld as hulle sterf nie. Ons sal sorg dat niemand in jou huis iets sal oorkom nie. 20Maar onthou, as jy ons verraai, verval ons belofte.” 21Sy het ingestem en hulle toe gehelp om weg te kom. Daarna het sy die rooi tou aan die venster vasgemaak.
22Die spioene is toe weg na die berge toe. Daar het hulle drie dae lank weggekruip. Die koning se manne het intussen oral na hulle gesoek. Uiteindelik het hulle teruggekeer stad toe omdat hulle niks gekry het nie. 23Daarna is die twee spioene bergaf en deur die Jordaan terug na Josua toe. Hulle het hom alles vertel wat gebeur het. 24Hulle het ook vir hom gesê: “Die Here gaan ons beslis hierdie land laat inneem, want die mense is verskriklik bang vir ons.”

Currently Selected:

Josua 2: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy