Versions

Cancel
 
1
1Die Here het vir Jona, die seun van Amittai, geroep om sy boodskap te gaan oordra. Hy het vir hom gesê: 2“Gaan sê vir die groot stad Nineve dat Ek hulle gaan straf. Hulle sonde is so groot dat dit al aan die hemel raak.” 3Jona het die Here se opdrag probeer ontduik. Hy het weg van Nineve af in die teenoorgestelde rigting na Tarsis toe gevlug. Hy het afgegaan na die hawe in Joppe. Daar het hy ’n skip gehaal wat na Tarsis toe sou vaar. Hy het die reisgeld betaal en op die skip geklim om saam met hulle soontoe te vaar. Hy het van die Here af probeer wegkom.
Die Here stuur ’n storm op see
4Maar die Here self het ’n baie sterk wind oor die see laat opsteek. ’n Yslike storm het op die see losgebars. Dit het gelyk of die skip uitmekaar gaan breek.
5Die matrose het bang geword en gedink dat die skip gaan sink. Elkeen het sy god gesoebat dat hy hulle nie sal laat doodgaan nie. Hulle het selfs van die vrag op die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak.
Jona het onder in die skip gelê en slaap. 6Die skip se kaptein gaan toe na hom toe en vra vir hom: “Hoe kan jy in hierdie storm lê en slaap? Staan dadelik op. Bid ook tot jou god. Miskien sal daardie god hom aan ons steur en keer dat ons vergaan.”
7Die matrose het toe onder mekaar besluit om lootjies te trek. So sou hulle kon agterkom wie die oorsaak van die groot storm was. Hulle het lootjies getrek. Jona se naam is getrek. 8Hulle het hom toe begin uitvra: “Sê vir ons, wat het jy dan gedoen dat hierdie storm oor ons losgebars het? Wat doen jy vir ’n lewe? Van watter land af kom jy? Aan watter volk behoort jy?”
9Hy sê toe vir hulle: “Ek is ’n Hebreër. Ek aanbid die Here, die God van die hemel. Dit is Hy wat die see en die land gemaak het.”
10Die matrose het verskriklik bang geword. Hulle het geweet dat hy van die Here af probeer wegkom het. Jona het vir hulle vertel dat die Here hom na Nineve toe gestuur het en dat hy nie wou gaan nie. Hulle het vir hom gevra: “Hoe op aarde kan jy so iets doen?”
Die matrose gooi Jona in die see
11Die storm het al erger geword. Hulle vra toe vir Jona: “Wat moet ons met jou maak, dat hierdie storm kan bedaar?”
12“Julle moet my in die see gooi,” sê Jona, “dan sal die see weer kalm word. Ek besef nou dat ek die oorsaak is dat julle in hierdie storm beland het.”
13Die matrose het eers land toe probeer roei. Hulle kon dit nie regkry nie, want die see was te rof. 14Hulle het toe tot die Here begin bid: “Here, moet ons asseblief nie oor hierdie man laat doodgaan nie. Ons is jammer as ons hom nou onskuldig in die see gaan gooi, maar U moet maar met hom laat gebeur wat U goeddink.” 15Hulle het toe vir Jona gevat, hom oor die kant van die skip gelig en hom in die see gesmyt. Die storm op die see het dadelik bedaar.
16Dit het die matrose baie groot respek vir die Here gegee. Hulle het net daar ’n offer vir Hom gebring en belowe dat hulle Hom voortaan sal aanbid.
Jona in die vis
17Die Here het ’n groot vis gestuur om Jona in te sluk. Jona was drie dae lank binne-in die vis.