1
1Hier volg die Here se boodskap aan sy volk deur Joël, die seun van Petuel.
Die mense huil oor die
sprinkaanplaag wat hulle oeste verwoes
2Luister hierna, leiers van die volk! Maak oop julle ore, inwoners van die land! Het julle al ooit so iets in julle geskiedenis beleef? 3In die jare wat kom, moet julle dit vir julle kinders vertel. Hierdie aaklige verhaal moet van geslag tot geslag oorvertel word.
4Die een swerm sprinkane na die ander het in julle oeste ingevaar. Wat die een swerm gelos het, het die volgende een verwoes. Hulle het aangehou om in julle oeste in te vlieg totdat hulle alles opgevreet het.
5Word wakker en huil, julle klomp dronklappe! Al die druiwe waarmee julle nuwe wyn wou maak, is verwoes. Huil oor die wyn wat julle nie meer sal drink nie, julle spul wynsuipers! 6’n Groot sprinkaanplaag het ons land getref; hulle is verskriklik sterk, te veel om te tel. Hulle tande is vlymskerp soos dié van ’n leeu. 7Hulle het ons wingerde verwoes en al ons vyebome opgevreet. Hulle het selfs die bas van die jong lote afgevreet. Net die kaal, wit stamme het oorgebly.
8Huil van hartseer soos ’n jongmeisie wat rou oor haar verloofde wat dood is voordat hulle kon trou. 9Luister hoe huil die priesters omdat daar nie koring of wyn is om by die tempel aan die Here te offer nie. 10Die weiding is weggevreet en die lande verwoes. Van die koringoes, die druiweoes en die olyfoes het daar net mooi niks gekom nie. 11Begin huil, saaiboere, want die koring en die gars, ja, al die oeste is daarmee heen. Huil, vrugteboere, 12want die wingerde en die vyeboorde het almal van droogte doodgegaan; al die granaat-, dadel- en appelbome, ja, al die bome in julle boorde het verdroog en is besig om dood te gaan. Boonop het die mense se vreugde heeltemal opgedroog.
13Trek vir julle rouklere aan en treur, priesters, julle wat die offers op die altaar moet bring. Huil die hele nag deur daar waar julle God dien, want daar is niks meer koring of wyn oor om in die huis van julle God aan Hom te offer nie. 14Roep nou dadelik ’n vasdag uit. Almal moet uit berou oor hulle sondes ophou eet. Belê ’n gemeentevergadering. Kry die leiers en die hele volk in die woonplek van die Here julle God bymekaar. Pleit by die Here om weer goed te wees vir julle.
15Die dag van die Here is bitter naby, die dag van die Almagtige is ’n dag waarop al die slegte mense vernietig gaan word! Hoe verskriklik gaan hierdie dag nie wees nie!
16Ons staan en kyk hoe ons kos voor ons oë verdwyn. Ons het niks meer om oor bly te wees wanneer ons in die woonplek van ons God bymekaarkom nie. 17Die saad gaan dood op ons lande. Ons gaan geen oeste hê nie. Daarom staan die skure leeg, want daar is nie koring om daarin te bêre nie.
18Die vee bulk en blêr van die honger. Die beeste dwaal oral rond op soek na iets om te vreet, want daar is nie meer kos nie. Tot die kleinvee kry al swaar.
19Help ons, Here! Ons weivelde en ons bome is verdroog. Dit is of ’n vuur alles rondom ons weggebrand het. 20Selfs die wilde diere van die veld wag dat U moet ingryp, want al die spruite het opgedroog. Daar is niks vir hulle om te eet of te drink nie. Die son het alles doodgebrand.
Loading reference in secondary version...
2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.