YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 20

20
Jesus staan op en verskyn aan sy volgelinge
1Daardie Sondagmôre was die son nog nie eens op nie, toe was Maria Magdalena al by die graf. Sy het dadelik gesien dat iemand die groot klip voor die ingang van die graf weggerol het. 2Toe sy dit agterkom, vlieg sy om en hardloop na Simon Petrus en die ander dissipel toe (dit was die een van wie Jesus baie gehou het). “Die Here is nie meer in die graf nie. Hy’s weg!” hyg sy. “Ek weet nie waarheen hulle Hom gevat het nie.”
3Petrus storm toe saam met die ander dissipel uit die huis uit. Hulle sit dadelik af graf toe. 4Die ander dissipel het vir Petrus weggehardloop en eerste by die graf gekom. 5Hy steek toe by die ingang vas en loer by die graf in. Net die linne het daar eenkant gelê. 6Toe Petrus daar aankom, bars hy sommer by die graf in. Hy het ook net die linne daar sien lê. 7Die spesiale lap wat hulle op Jesus se gesig gesit het, het nie by die ander linne gelê nie. Dit het eenkant alleen gelê, mooi opgevou. 8Die ander dissipel, wat eerste daar was, het nou ook sy moed bymekaargeskraap en in die graf ingegaan. Daar het hy al die linne sien lê. Dit het hom oortuig dat Jesus regtig is wie Hy gesê het Hy is. 9Tot in daardie stadium het hulle nog nie verstaan wat die Skrif daarmee bedoel dat Jesus moes sterf en weer uit die dood moes opstaan nie. 10Daarna is die twee daar weg, elkeen na sy eie huis toe.
11Maria het by die graf agtergebly en hartseer gehuil. So deur die trane het sy by die graf ingeloer. 12Daar, presies op die plek waar die liggaam van Jesus gelê het, het twee hemelse wesens gesit. Hulle het helder, wit klere aangehad. Die een het gesit waar Jesus se kop gelê het en die ander een by sy voete.
13“Vir wat huil jy so?” vra hulle haar.
“Hulle het my Here se liggaam hier weggevat. En ek weet nou glad nie waarheen hulle Hom gevat het nie,” sê Maria hartseer. 14Met dié kyk sy om. Daar sien sy Iemand staan. Dit was Jesus, maar sy het Hom glad nie herken nie.
15Jesus vra haar toe: “Waarom huil jy so? Vir wie soek jy?”
Maria het gedog dis die man wat in die tuin werk. “Asseblief, Meneer,” smeek Maria, “as jy Hom uit die graf gevat het, sê my tog waar sy lyk nou is. Ek sal dit vat en verder daarna kyk.”
16“Maria!” sê Jesus.
Sy swaai vinnig om. “Rabbi!” roep sy in Hebreeus uit. (Die naam verwys na iemand wat mense leer.)
17“Moenie My vashou nie,” sê Jesus. “Ek het nog nie na my Vader toe teruggegaan nie. Gaan liewer gou terug na my broers toe. Gaan sê vir hulle: Ek gaan terug na my Vader en julle Vader; ja, Ek is op pad na my God en julle God.”
18Maria Magdalena is toe daar weg na die ander volgelinge van Jesus toe. “Ek het die Here nou net lewendig gesien!” roep sy uit. Opgewonde vertel sy alles wat Jesus gesê het.
19Laat daardie Sondagaand was Jesus se volgelinge nog bymekaar. Hulle was egter bang vir die Joodse leiers en het al die deure van die huis gesluit. Al was die deure gesluit, het Jesus skielik daar tussen hulle gestaan. “Vrede vir julle,” sê Hy. 20Met dié woorde wys Hy vir hulle sy hande en sy sy. Die dissipels was buite hulleself van blydskap om die Here te sien. 21Jesus praat toe verder: “Vrede vir julle. Julle weet die Vader het My met ’n boodskap na die wêreld toe gestuur. Net so stuur Ek julle nou.” 22Toe blaas Jesus oor sy volgelinge met die woorde: “Ontvang die Heilige Gees! 23Wanneer julle mense help om hulle verhouding met God reg te maak, sal hulle verhouding met God reg wees. God sal hulle sondes nie teen hulle hou nie. Maar as mense nie luister wanneer julle met hulle oor hulle sondes praat nie, kan julle maar hulle sondes teen hulle hou. God sal dit ook doen.”
Tomas ontmoet sy Here en God
24Tomas was een van Jesus se twaalf getrouste volgelinge. (Party het hom “Tweeling” genoem.) Hy was nie by die ander toe Jesus na hulle toe gekom het nie. 25Die ander sê toe vir hom: “Ons het die Here lewendig gesien!”
“Nee wat, ek glo dit nie,” was Tomas se reaksie. “As ek nie self die seerplekke in sy hande kan sien waar hulle die spykers ingeslaan het en met my vinger daaroor kan streel en my hand op die wond in sy sy kan sit nie, glo ek eenvoudig nie wat julle vir my sê nie.”
26Omtrent ’n week later was Jesus se getrouste vriende weer almal bymekaar. Hierdie keer was Tomas ook daar. Hulle het weer seker gemaak dat al die deure gesluit was. Skielik was Jesus weer daar by hulle. Net soos die vorige keer groet Hy hulle: “Vrede vir julle.”
27Hy sê toe vir Tomas: “Bring jou vinger. Kyk na my hande. Kom, sit jou hand hier op die wond in my sy. Moenie twyfel dat dit regtig Ek is nie. Aanvaar dit!”
28Oorweldig sê Tomas: “My Here en my God!”
29Jesus sê vir hom: “Is jy oortuig omdat jy My gesien het? Wel, die mense wat My nie soos jy sal sien nie, maar My tog met oorgawe sal aanvaar, gaan van geluk oorloop.”
Hiervoor skryf Johannes die Evangelie
30Nie alles wat Jesus gedoen het, is hier neergeskryf nie. Hy het nog baie ander en verskillende wonderlike dinge gedoen om te wys wie Hy regtig is. Sy volgelinge het dit alles gesien. 31Dit wat in hierdie boek geskryf is, is met ’n spesifieke doel gedoen.
Dit is geskryf sodat julle geen oomblik hoef te twyfel dat Jesus die Redder, ja, die Seun van God is nie. Julle kan dit maar volledig aanvaar. En hierdie woorde wil julle ook oortuig dat julle vir ewig gaan leef omdat Jesus dit vir julle moontlik gaan maak.

Currently Selected:

Johannes 20: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy