YouVersion Logo
Search Icon

Rigters 1

1
1Na Josua se dood het die Israeliete vir die Here gevra: “Watter stam moet eerste teen die Kanaäniete gaan veg?”
2Die Here sê toe: “Stuur vir Juda, want Ek gee die land vir hulle.”
3Toe sê Juda se leiers vir hulle familie uit die stam van Simeon: “Kom veg saam met ons teen die Kanaäniete wat in die gebied bly wat ons gekry het om in te woon. Dan sal ons julle weer help om julle gebied in te neem.” Hulle is toe saam daar weg om te gaan oorlog maak. 4-5Met die Here se krag het hulle die Kanaäniete en die Feresiete verslaan. By Besek het hulle teen koning Adoni-Besek geveg en 10 000 van sy soldate doodgemaak. 6Hy het probeer ontsnap, maar hulle het hom agternagesit. Toe hulle hom vang, het hulle sy duime en sy groottone afgesny. 7Hy sê toe: “Nou het God my my verdiende loon laat kry, want ek het self 70 ander konings se duime en groottone laat afsny en hulle soos honde behandel. Hulle moes onder my tafel sit en staatmaak op die stukkies kos wat ek vir hulle laat val het.” Hulle het hom Jerusalem toe gevat, waar hy later dood is.
8Juda het Jerusalem aangeval en dit verower. Hulle het al die inwoners doodgemaak en die stad aan die brand gesteek. 9Daarna het hulle teen die Kanaäniete gaan veg wat in die suidelike gebiede, die bergagtige gebiede en die woestynagtige dele gebly het. 10Toe het Juda teen die Kanaäniete van Hebron, wat vroeër as Kirjat-Arba bekend was, gaan veg. Hier het hulle die magte van Sesai, Agiman en Talmai verslaan.
11Van hier af het hulle oorlog gaan maak teen die mense van die dorp Debir. Hierdie plek was vroeër bekend as Kirjat-Sefer. 12Hier het Kaleb gesê: “Die man wat dit regkry om Kirjat-Sefer in te neem, kan met my dogter Aksa trou.”
13Otniël, hy was Kaleb se jonger broer Kenas se seun, het dit reggekry; daarom het Kaleb hom met sy dogter Aksa laat trou. 14Na die troue het hy haar omgepraat om vir haar pa nog landbougrond te vra. Toe sy haar ouers gaan groet en van haar donkie afklim, het Kaleb vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen, wat wil jy hê?”
15Sy sê toe vir hom: “U het my die droë Suidland gegee. Wil u nie ook vir my ’n paar goeie waterbronne as huweliksgeskenk gee nie?” Hy het toe vir haar fonteine op die heuwels en die vlakte gegee.
Juda en Benjamin se gebiede
16Toe Juda uit Jerigo wegtrek, het die Keniete (hulle was familie van Moses se skoonpa) saamgetrek tot in die Judese woestyn en by die mense van Arad gaan woon. 17Juda en Simeon het weer saamgespan en die Kanaäniete in Sefat verslaan. Hulle het die stad heeltemal verwoes; daarom word dit Gorma, of verwoeste stad, genoem. 18-19Die Here het Juda gehelp en hulle het die berggebiede ingeneem asook die vlaktestede Gasa, Askelon en Ekron met hulle omliggende gebiede. Juda kon egter nie die mense op die vlakte verdryf nie omdat hulle ysterstrydwaens gehad het, en daarom kon Juda hulle nie wen nie. 20Soos Moses vroeër beveel het, het Kaleb die dorp Hebron gekry. Hy het die mense verdryf wat daar gebly het. Hulle was die nakomelinge van die drie seuns van Enak. 21Die Benjaminiete kon nie daarin slaag om die Jebusiete, wat in Jerusalem gebly het, te verslaan nie. So het dit gekom dat die Jebusiete van toe af saam met hulle in Jerusalem bly woon het.
Efraim en Manasse se gebiede
22Die Here het die afstammelinge van Josef gehelp toe hulle Bet-El aangeval het. 23Hulle het verkenners Bet-El toe gestuur. Vroeër was Bet-El ook bekend as Lus. 24Hulle het ’n man uit die stad sien kom en vir hom gesê: “As jy ons wys hoe om die stad in te neem, sal ons jou goed behandel.” 25Hy het hulle toe gewys wat die beste manier sou wees om dit te doen. Die afstammelinge van Josef het toe die stad ingeneem en al die mense daarin doodgemaak, behalwe hierdie man en sy familie. 26Hierdie man het later na die gebied van die Hetiete toe getrek en vir hom daar ’n stad gebou en dit Lus genoem. Dit is nou nog die stad se naam.
Sekere dorpe en gebiede word nie ingeneem nie
27Die stam van Manasse kon nie daarin slaag om die dorpe Bet-San, Taänak, Dor, Jibleam en Megiddo met die dorpe rondom hulle in te neem nie, want die Kanaäniete wat in daardie gebiede gebly het, was te sterk. 28Later het die Israeliete sterker geword en toe het hulle dit reggekry om die Kanaäniete te dwing om vir hulle te werk. Tog het die Kanaäniete steeds in die gebied bly woon.
29Dieselfde het ook met die stam van Efraim gebeur. Hulle kon dit ook nie regkry om die Kanaäniete wat in Geser gebly het te verslaan nie. Daarom het die Kanaäniete saam met hulle daar bly woon. 30Ook die stam van Sebulon se aanslag op die dorpe Kitron en Nahalal was onsuksesvol. Al het hulle die Kanaäniete gedwing om vir hulle te werk, het hulle steeds saam met hulle in hierdie gebiede gebly.
31Die stam van Aser kon ook nie die dorpe Akko, Sidon, Aglab, Aksib, Gelba, Afek en Regob inneem nie. 32Daarom dat die mense van Aser maar tevrede moes wees om saam met die Kanaäniete in hierdie gebiede te bly.
33Die stam van Naftali kon ook nie daarin slaag om die inwoners van Bet-Semes en Ben-Anat uit hulle dorpe te verdryf nie. Hulle moes maar saam met hulle daar bly, alhoewel hulle dié mense verplig het om vir hulle te werk.
34Die Amoriete het die stam van Dan die berge ingejaag en hulle nie toegelaat om op die vrugbare vlaktes te kom bly nie. 35Daarom het die Amoriete in die dorpe Ajalon en Saälbim en ook by die berg Geres bly woon. Later het die afstammelinge van Josef sterker geword. Toe het hulle die Amoriete gedwing om vir hulle te werk.
36Die grens van die Amoriete se gebied het vanaf Skerpioenpas tot by Sela geloop en van daar af in ’n noordelike rigting.

Currently Selected:

Rigters 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy