YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 6

6
Die Here roep Jesaja om ’n profeet te wees
1In die jaar toe koning Ussia dood is, het ek die Here in ’n visioen gesien. Hy het op ’n baie hoë troon gesit, en die soom van sy kleed het die tempel gevul. 2Om Hom was daar serafs. Elkeen het ses vlerke gehad. Hulle het twee van die vlerke gebruik om hulle oë toe te hou sodat hulle nie die Here kon sien nie. Hulle het twee ander vlerke gebruik om hulle naaktheid te bedek en met die ander twee het hulle gevlieg.
3Terwyl hulle so gevlieg het, het hulle oor en weer vir mekaar geroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Sy magtige teenwoordigheid sprei oor die aarde soos ’n doek.” 4Hulle het so hard gesing dat die deure van die tempel in hulle kosyne gerammel het, en die hele tempel het vol rook geword.
5Toe sê ek: “Dit is verby met my, want ek is skuldig! Ek doen gedurig sonde deur wat ek sê, en nie net ek nie, maar ook die volk by wie ek bly. En nou het ek met my eie oë die Koning gesien, die Here die Almagtige!”
6Een van die wesens het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg. 7Hy raak toe met die kool aan my mond en sê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou skuld weggeneem en jou sonde vergewe.”
8Toe het ek die Here hoor vra: “Wie sal Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?”
“Ek sal gaan,” het ek gesê, “U kan my stuur!”
9Toe sê die Here vir my: “Gaan sê vir hierdie volk: Julle sal my stem hoor, maar nie ’n woord verstaan van wat Ek sê nie. Julle sal sien wat Ek doen, maar nie besef wat dit beteken nie.” 10Verder het Hy vir my gesê: “Maak hierdie volk hardkoppig. Druk hulle oë en ore toe sodat hulle niks kan hoor of sien of verstaan nie, sodat hulle nie na My toe terugkom en vra dat Ek hulle moet gesond maak nie.”
11Ek vra toe: “Hoe lank sal dit aangaan, Here?”
Sy antwoord was: “Totdat al die stede verwoes en verlate is en al die huise leeg staan en die hele land in ’n puinhoop omskep is. 12Totdat Ek al die mense ver weggevat het en die land heeltemal verlate is. 13Selfs al bly daar net ’n tiende van al die mense oor sal daardie deeltjie ook verwoes word. Maar soos daar gewoonlik ’n stomp bly staan as jy ’n akkerboom of ’n terpentynboom afgekap het, sal daar vir hulle ook ’n stomp agterbly. Hierdie stomp behoort aan die Here en daaruit sal die Here ’n nuwe geslag laat groei.”

Currently Selected:

Jesaja 6: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy