YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 13

13
Die Here sal Babel straf
1Jesaja, Amos se seun, het die volgende visioen oor Babel se straf gesien: 2Hys die vlag wat die teken is dat die aanval moet begin op ’n oop heuwel. Roep die soldate bymekaar en moedig hulle aan om die hoogmoedige stad Babel aan te val. 3Ek, die Here, is in beheer van hierdie soldate. Ek het hierdie dapper vegters laat kom om my oordeel te voltrek. Hulle het net een doel voor oë en dit is om vir my eer te veg. 4Luister na die gedreun op die berge, dit is ’n geweldige groot leër wat aankom. Hierdie leër bestaan uit baie nasies en koninkryke wat hulle magte saamspan. Hulle is op pad omdat die Here die Almagtige besig is om ’n leër bymekaar te maak vir oorlog. 5Hulle kom van ver af, van die verste uithoeke van die wêreld af. Deur hulle gaan die Here hierdie land verwoes.
6Begin solank huil, want die dag van die Here se oordeel is baie naby en dit is ’n dag van verwoesting. 7Almal sal lam word van die skrik en vreesbevange bly staan. 8Angs sal hulle oorval soos ’n vrou wat skielik deur kraampyne oorval word, en hulle sal mekaar verskrik aankyk, bleek van die vrees. 9Die dag van die Here is ’n werklikheid. Op dié dag sal sy woede en straf losbars en sal Hy daardie land en al sy sondige inwoners vernietig. 10Dan sal die sterre van die hemel en die sterrebeelde wat hulle vorm nie meer blink nie. Al sou die son opkom, sou dit nie meer skyn nie en die maan sal nie lig gee nie.
11Ek gaan die land straf oor sy sonde en die goddelose mense oor hulle misdade. Ek gaan die verwaandheid van die arrogante mense uitwis. Ek sal hulle bespotlik maak. 12Daar sal maar min mense oorbly nadat Ek met hulle klaar is. Hulle sal baie skaarser wees as die suiwer goud uit Ofir. 13Die hemel sal skud en die aarde sal uit sy plek geruk word die dag wanneer Ek, die Here die Almagtige, my woede laat losbars. 14Al die uitlanders wat in Babel bly, sal na hulle eie land toe padgee. Hulle sal terugvlug na hulle eie land en hulle eie mense toe, nes wildsbokke wat gejag word of skape sonder ’n herder. 15Want as iemand gevang word, sal hy op die plek doodgemaak word. 16Hulle sal hulpeloos moet staan en toekyk hoe hulle babatjies voor hulle oë doodgemaak word, hulle huise geplunder word en hulle vroue verkrag word.
17Kyk, Ek gaan die Mediërs opsweep om Babel aan te val, want hulle kan nie met geld omgekoop word nie. 18Hulle soldate sal die jongmense met hulle pyle afmaai. Daar sal nie genade wees vir die babatjies of die klein kindertjies nie, hulle sal hulle voor die voet doodmaak. 19God sal die asemrowende stad Babel, die trots van die Babiloniese volk, in ’n ashoop omskep, net soos Hy met Sodom en Gomorra gemaak het. 20Geslagte sal kom en gaan, maar niemand sal ooit weer daar bly nie. Nie eens die mense wat rondtrek op soek na beter weiding sal hulle tente daar wil opslaan sodat hulle diere daar kan wei nie. 21Dit sal ’n plek word waar die wilde woestyndiere gaan aas en die uile hulle nes in die murasies maak. Volstruise sal tussen die murasies rondloop en die wilde bokke sal oor die hope klippe spring op soek na iets om te eet. 22Die hiënas se gelag sal in die afgebreekte torings van die paleise weerklink en die jakkalse se gehuil in die murasies van die huise. Babilon se dae is getel, sy ondergang is nie meer ver nie.

Currently Selected:

Jesaja 13: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy