YouVersion Logo
Search Icon

Hebreërs 9

9
Christus het alles nuut kom maak
1Met die eerste ooreenkoms was daar ’n heilige plek op aarde en ook baie reëls oor hoe ’n mens God moes aanbid. 2’n Spesiale plek met twee kamers is reggemaak. Die eerste kamer is die “Heilige deel” genoem. Daar het hulle ’n lamp en die tafel met die heilige brood gesit. 3Tussen die eerste en die tweede kamer het daar ’n gordyn gehang wat die twee van mekaar geskei het. Die tweede kamer is die “Heiligste deel” genoem. 4In die kamer het die goue altaar gestaan waarop kruie gebrand is wat lekker ruik, asook die kis wat met goud oorgetrek was. Dit is die “ark” genoem. Die ark het die mense aan hulle ooreenkoms met God herinner. In die ark was daar ’n goue potjie met manna in, Aäron se kierie wat geblom het en die twee plat klipplate waarop die wet van die ooreenkoms tussen God en sy mense geskryf was.
5Bo-op die ark het ’n beeld van twee hemelwesens gestaan wat gerubs genoem is. Hulle het hulle vlerke uitgestrek oor die deksel van die ark. Hulle het die wonderlike grootheid van God voorgestel. Maar ek kan nie nou al dié dinge in besonderhede bespreek nie.
6Nou weet ons ten minste hoe die Heilige plek gelyk het. Die priesters het gereeld in die eerste kamer (die Heilige deel) ingegaan. Daar het hulle alles gedoen wat hulle moes. 7Net die hoëpriester kon in die tweede kamer (die Heiligste deel) ingaan, niemand anders nie. Hy kon dit ook net een maal ’n jaar doen. Dan het hy bloed saamgevat om te offer sodat sy eie sonde deur God vergewe kon word, asook al die verkeerde dinge wat God se mense gedoen het, al het hulle dit nie eens besef nie. 8Die Heilige Gees het hierdie dinge vir ons laat neerskryf sodat ons kan besef dat die pad na die Heiligste deel vir gewone mense soos ons nog toe was solank daar nog ’n ander vertrek, die Heilige deel, ook was. 9Ons kan nogal baie hieruit leer: mense het wel allerhande geskenke en offers na die Heilige plek toe gebring, maar hulle kon nie heeltemal seker wees dat hulle saak met God dan honderd persent reg was nie. 10Hulle was vreeslik ernstig oor wat hulle mag eet en drink en wat nie en het allerhande dinge gedoen om hulle darem aanvaarbaar vir God te probeer hou. Hierdie soort dinge raak nie regtig die hart van die godsdiens nie en daarom, vandat Christus alles nuut kom maak het, is hierdie dinge ook nie meer nodig nie.
Jesus maak vir ons plek reg in die hemel
11Christus het gekom as Hoëpriester van die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense. Dit was baie goed. Hy het nie net in ’n plek ingegaan wat maar hier op aarde deur mense gemaak is nie. Hy het deur die Heiligste plek in die hemel ingegaan. Dit is ’n baie beter en volmaakter plek as die een op aarde. 12Hy het nie in die hemelse Heiligste deel ingegaan omdat Hy die bloed van diere by Hom gehad het nie, maar sy eie bloed. Hy het net een maal in die Heiligste deel met sy bloed as offer ingegaan en so het Hy dit vir mense moontlik gemaak om altyd by God te wees.
Nou kan ons God voluit dien
13Onder die reëls van die ou ooreenkoms is die bloed van bokke of beeste of die as van ’n bul wat op die offeraltaar verbrand is, op iemand gestrooi. So is daar ontslae geraak van al die verkeerde dinge wat die persoon vir God onaanvaarbaar gemaak het. 14Dink net hoeveel duisend keer meer aanvaarbaar sal die bloed van Christus ons dan vir God maak.
Die Heilige Gees het Jesus gelei om Homself aan God te offer al het Hy niks verkeerds gedoen nie. So bevry Hy ons van die bekommernis wat ons het oor al die verkeerde dinge wat ons gedoen het en waarvoor ons eintlik net die dood verdien. Nou kan ons die lewende God voluit dien.
Jesus sorg dat ons dinge by God reg loop
15Hy is die Een wat die nuwe ooreenkoms tussen God en sy mense kom maak het. Nou kan almal vir wie God na Hom toe geroep het, alles by Hom kry wat Hy belowe het, want hulle is nou sy kinders. Daarvoor het Jesus self gesorg. Hy het alles gegee wat God gevra het om die verkeerde dinge te vergewe wat die mense gedoen het. Dit geld selfs vir die mense onder die ou ooreenkoms. 16-17Dit gaan net soos met ’n testament. Die een wat die testament gemaak het, moet eers doodgaan voor die testament in werking kom. Solank hy nog leef, geld die testament nog nie. Die ooreenkoms wat God met sy mense gemaak het, werk soos ’n testament. 18Toe God die eerste ooreenkoms met die mense gemaak het, het daar bloed geloop. 19Julle onthou mos dat Moses eers elke reël wat in die wet gemaak is, vir die volk voorgelees het. Toe vat hy wol wat rooi gekleur is en takkies van ’n hisopplant en sprinkel daarmee die bloed van kalwers en bokke saam met water oor die boek waarin die reëls staan en oor al die mense. 20Hy sê toe: “God het met julle ’n ooreenkoms gemaak en julle moet daarby bly. Dié bloed is die bewys van die ooreenkoms.” 21Toe het Moses die bloed gaan sprinkel op die Heilige plek en alles wat daarin vir die diens van God gebruik is. 22Die wet bepaal tog dat omtrent alles so met bloed besprinkel moes word om aanvaarbaar te wees vir God. God vergewe nie sondes as daar nie bloed geloop het nie.
Jesus het eens en vir altyd
klaargespeel met sonde
23Die aardse Heilige plek en alles daarin is maar soos ’n skaduwee van die hemelse Heilige plek. As die aardse plek so met bloed vir God aanvaarbaar gemaak is, was daar vir die hemelse Heilige plek ’n baie beter offer nodig.
24Christus is nie sommer in ’n heilige plek in wat deur mense gemaak is en net soos ’n skaduwee van die regte een is nie. Nee, Hy is in die hemel self na God toe om ons saak daar by God namens ons te gaan stel. Die hoëpriester op aarde moes ook natuurlik elke jaar in die Heiligste deel ingaan met die bloed van diere. 25Christus is egter nie weer en weer in die hemel in om Homself elke keer van voor af te offer nie. 26Dan moes Hy mos van die begin af oor en oor gely het. Nee, Christus het maar een maal gekom toe die tyd daarvoor ryp was. Toe het Hy Homself vir God geoffer en so klaargespeel met al ons sondes. 27Net soos ’n mens maar een maal sterf en dan voor God moet gaan staan om sy oordeel aan te hoor, 28so het Jesus net een maal gesterf. Sy sterwe was soos ’n offer waarmee Hy gesorg het dat God al die verkeerde dinge oorsien wat baie mense gedoen het.
Christus sal weer kom, maar hierdie keer nie om vir al die verkeerde dinge wat ons doen te kom boet nie. Hy sal dan kom om almal wat vir Hom wag na God toe te neem.

Currently Selected:

Hebreërs 9: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy