YouVersion Logo
Search Icon

Hebreërs 3

3
Laat Jesus die fokus van jou lewe wees
1My broers en susters, God het julle geroep om net Syne te wees. Laat Jesus daarom die fokus van julle lewe wees. Konsentreer op wat Hy wil hê, want ons almal stem saam dat God Hom gestuur het en dat Hy as Hoëpriester ons saak by God moet gaan stel. Dit vertel ons ook vir ander mense. 2God het Jesus aangestel en Jesus het alles gedoen soos God dit van Hom verwag het, net soos Moses destyds getrou gedoen het wat God wou hê. 3In vergelyking met Moses is Jesus egter baie belangriker. Om ’n voorbeeld te gebruik: die bouer is tog baie belangriker as dit wat hy bou. Laat ek die beeld verder neem. 4Elke huis moet deur iemand gebou word, maar dit is God wat almal en alles bou. 5Moses was soos ’n getroue werker in God se huis. Hy het mense ook vertel van al die dinge wat God nog in die toekoms sou sê.
6Christus is egter nie soos ’n werker nie, maar soos die seun lojaal in die huis van God. Ons is die huis van God wanneer ons vasberade tot die einde toe met oortuiging bly vashou aan alles wat God beloof het.
Vertrou op die Here
7Luister na wat die Heilige Gees sê: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, 8moet julle nie ignoreer wat Hy sê nie. Julle voorvaders het presies dit in die woestyn gedoen - hulle het teen My gedraai en gekyk hoe ver hulle met My kan gaan voor Ek my geduld verloor. Julle moet beslis nie hulle voorbeeld volg nie. 9In die woestyn het Ek 40 jaar lank vir hulle so baie gedoen en hulle het dit geweet; nogtans het hulle my geduld tot die uiterste op die proef gestel. 10Uiteindelik het my geduld opgeraak en Ek het gesê: ‘Hulle wil nie regtig by My wees nie, maar is heeltyd op soek na iets anders, hulle stel nie regtig belang om te gaan waar Ek gaan nie.’ 11Dit het My kwaad gemaak en daarom het Ek gesê: ‘Hulle sal nooit voel hoe dit is om vir ewig saam met My te rus nie.’ En Ek sal nooit van plan verander nie.”
12Wees daarom wakker, my broers en susters. Maak seker dat daar nie iemand onder julle is wat so in die sonde baljaar dat hy die pad na die lewende God byster raak omdat hy God nie meer vertrou nie. 13Praat mekaar elke dag moed in terwyl God nog vir ons die kans gee om dit te doen.
Help mekaar dat nie een van julle deur die lekker van die sonde so betower word dat julle God nie meer raaksien nie. 14Wat Christus s’n is, is ons s’n as ons enduit vasberade op God bly vertrou soos ons dit aan die begin gedoen het. 15Luister weer ’n keer wat gesê is: “Vandag, as julle God met julle hoor praat, moet julle Hom nie ignoreer soos julle gemaak het toe julle teen Hom gedraai het nie.”
16Wie was hierdie mense met wie God gepraat en wat so teen God gedraai het? Was dit nie die einste mense vir wie Moses uit Egipte laat trek het nie? 17En met wie het God se geduld in die 40 jaar opgeraak? Was dit nie die mense wat nie wou doen wat God vra nie? Hulle is toe mos net daar in die woestyn dood. 18Vir wie het God gesê dat hulle vir seker nooit sal ervaar wat dit beteken om vir ewig saam met Hom te rus nie? Ja-nee, dit was niemand anders nie as die mense wat nie na Hom wou luister nie. 19Dit is geen geheim waarom hulle nie vir ewig saam met God sal rus nie: hulle het God nie vertrou nie.

Currently Selected:

Hebreërs 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy