YouVersion Logo
Search Icon

Haggai 1

1
1Die Here wou ’n boodskap aan Serubbabel en Jesua stuur en daarvoor het Hy Haggai gebruik. Serubbabel was in hierdie stadium die hoof van Juda en Jesua was die hoëpriester. Serubbabel se pa se naam was Seältiel en Josadak was Jesua se pa. Dit het gebeur op 29 Augustus 520 v.C. in die tweede jaar wat Darius koning was.
2Niemand het soveel mag as die Here nie. Hy sê dat die mense van Juda die tempel weer moet opbou. Hulle was gevang en uit hulle land uit weggevat na Babel toe. Nou is hulle terug in hulle land. Maar vandat hulle terug is, het hulle nog nie weer daaraan gedink om die Here se tempel te herbou nie. 3Daarom wil Hy hê dat Haggai ’n paar dinge vir hulle moet sê. 4Hy wil weet of die mense van Juda reg maak deur in hulle spoghuise te bly terwyl sy huis nog verwoes lê. 5Die Here sê vir die mense van Juda: “Dink mooi na oor wat op die oomblik aan die gang is. 6Julle het baie saad op die landerye gesaai, maar die oes wat julle ingebring het, was maar klein. Julle het wel kos om te eet, maar dit laat julle nie juis versadig voel nie. Julle het wyn om te drink, maar nie genoeg om julle tevrede te stel nie. Julle het klere om aan te trek, maar dit is nie genoeg om julle warm te maak nie. Die geld wat julle vir julle daaglikse werk kry, verdwyn ook so vinnig asof daar ’n gat in julle beursie is.”
7Die Here sê weer: “Dink mooi na oor wat aan die gang is. 8Gaan haal hout in die berge en begin om my tempel reg te maak. Ek sal baie bly wees as my huis weer reggemaak is. Dan sal die mense weer daarheen kan gaan en My daar kan dien, sê die Here. 9Julle het ’n groot oes verwag, maar dit het nie veel opgelewer nie. Die bietjie wat julle ingesamel het, het Ek laat verdwyn. Hoekom, dink julle, gebeur dit? vra Ek die Here wat mag het wat met niks en niemand vergelyk kan word nie. Dit is omdat my tempel nog verwoes lê terwyl julle almal besig is om aan julle eie huise te werk. 10Dit is julle eie skuld dat dit nie reën nie en niks wil groei nie. 11Dit is Ek wat droogte oor die land gebring het. Dit het ’n effek op die berge, die graanlande, die wingerde, die olyfboorde, die oeste en wat ook al uit die grond groei. Die droogte raak ook mens en dier en alles waarvoor julle gewerk het.”
Juda reageer positief op die boodskap van die Here
12Haggai het gedoen wat die Here gesê het. Hy het met die mense van Juda gepraat en gesê wat die Here wou hê hulle moes hoor. Serubbabel, wat nou die hoof van die land was, die hoëpriester Jesua en al die mense wat in die land was, het positief gereageer op wat die Here hulle God te sê gehad het. Die mense van Juda het weer besluit om die Here met hulle hele hart te dien. 13Die Here het toe weer vir Haggai gebruik om vir die volk die belofte te gee dat Hy by hulle sal bly. 14Die Here het vir Serubbabel, Jesua en die mense wat uit Babel teruggekom het, soveel moed en energie gegee dat hulle aan die werk gespring het om die huis van Here reg te maak. 15Die werk het op 21 September 520 v.C. begin in die tweede jaar wat Darius koning was.

Currently Selected:

Haggai 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy