YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 20

20
Abraham en Sara in Gerar
1Abraham het in die suidelike deel van die land rondgetrek en tussen Kades en Sur kamp opgeslaan. Terwyl hy in die omgewing van Gerar getrek het, het die mense hom oor sy vrou begin uitvra. 2Abraham het toe gesê dat sy vrou Sara eintlik sy suster is. Abimelek, die koning van Gerar, het Sara gesien en manne gestuur om haar te gaan haal.
3Die Here het egter in ’n droom vir Abimelek gesê: “Jy is so goed as dood oor die vrou wat jy gevat het, want sy is ’n ander man se vrou.”
4Gelukkig het Abimelek nog nie aan Sara geraak nie. Daarom het hy vir die Here gesê: “Here, sal U regtig ’n onskuldige mens doodmaak? Abraham het self gesê dit is sy suster en ek het hom geglo. 5Boonop sê sy ook dat Abraham haar broer is. Hoe moes ek dan nou geweet het? My bedoelings was goed en my gewete is skoon, maar hulle het my mislei.”
6God het Abimelek geantwoord: “Ek weet dit. Ek weet jy het dit goed bedoel, maar hulle het jou mislei. Dit is hoekom Ek gesorg het dat jy nie naby haar kom of by haar slaap nie. 7Maar nou moet jy haar vir haar man gaan teruggee. As jy dit nie doen nie, sal dit sleg met jou en jou mense gaan. Abraham is eintlik ’n goeie man. Hy is ’n boodskapper van My en hy sal vir jou bid.”
8Vroeg die volgende oggend het Abimelek sy manne bymekaargeroep en hulle alles vertel. Almal was baie bang. 9Later het Abimelek vir Abraham laat kom en woedend gevra: “Wat het jy gedoen? Wat het ek verkeerd gedoen dat jy so ’n groot sonde oor my en my mense gebring het? Jy kon ons almal vernietig het. Jy het my en my mense in die allergrootste verleentheid geplaas. 10Waar het ek jou al ooit sleg behandel? Ag nee wat, Abraham, wat jy gedoen het, is verkeerd.”
11Abraham het probeer verduidelik: “Ek was bang, Meneer, ek was bang. Ek het vir myself gesê dat hierdie plek se mense nie vir God ken nie en dat hulle my sommer oor my mooi vrou sal doodmaak. 12En, Meneer, sy is eintlik my suster. My pa is ook haar pa, maar ons het nie dieselfde ma nie. 13Toe God my destyds geroep en my ver van my ouerhuis af laat weggaan het, het ek vir Sara saamgevat. En ek het haar gevra om oral waar ons kom te sê ek is haar broer. So sal sy wys dat sy my liefhet.”
14Abimelek het toe ’n klomp skape en beeste gevat en vir Abraham gegee. Hy het ook van sy werkers, mans en vroue, saam met hom gestuur. Hy het ook vir Sara aan Abraham teruggegee. 15Abimelek het vir Abraham gesê: “My land lê voor jou oop. Jy kan gaan net waar jy wil.”
16Vir Sara het hy toe gesê: “Jy het niks verkeerds gedoen nie en almal weet dit nou. Ek het 1 000 silwerstukke vir jou broer gegee. Dit is ’n teken dat jy onskuldig is. Jy is nou vergoed hiervoor.”
17Abraham het vir Abimelek gebid en dit het baie goed met hom en al sy mense gegaan. God het Abimelek heeltemal gesond gemaak en sy vrou, asook al die ander vroue, kon weer kinders in die wêreld bring. 18Want toe Abimelek vir Sara gevat het, het die Here al die vroue in sy gebied skielik onvrugbaar gemaak, ter wille van Sara. Maar na Abraham se gebed was almal weer vrugbaar.

Currently Selected:

Genesis 20: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy