YouVersion Logo
Search Icon

Genesis 16

16
Die verhaal van Hagar en Ismael
1Na al die jare was Abram se vrou, Sarai, steeds kinderloos. Uit frustrasie het sy haar Egiptiese slavin, Hagar, na Abram toe gevat en gesê: 2“Die Here het my nie ’n kind van my eie gegee nie. So, vat haar. Slaap by haar en laat haar kind ook my kind wees.” Vir Abram was dit ’n uitstekende plan.
3Hulle was immers al tien jaar in die land en nog niks het gebeur nie. Sarai het toe haar slavin, Hagar, die vrou uit Egipte, vir haar man, Abram, as byvrou gegee. 4Abram het by Hagar gaan slaap en sy het ’n kind verwag. Hagar het toe hoogmoedig geword en Sarai sleg behandel. 5Diep seergemaak het Sarai vir Abram gesê: “Dis alles jou skuld. Ek verdien nie om so beledig te word nie. Ek het haar vir jou gegee, maar toe sy sien sy verwag, het sy my begin verag. Laat die Here tussen my en jou oordeel.”
6Abram het toe gesê: “Dis jou slavin, maak met haar wat jy wil.” Sarai het haar toe so sleg behandel dat Hagar haar goed gevat en weggeloop het.
7Die Here het deur sy Engel vir Hagar by ’n fontein in die woestyn ontmoet. Dit is die fontein op die pad na Sur. Hy vra haar toe: “Hagar, Sarai se slavin, sê My, waarvandaan kom jy en waarheen gaan jy?”
8“Ek vlug van my eienares, Sarai, af weg,” het sy geantwoord.
9Die Here se Engel sê toe vir haar: “Gaan terug na daardie plek toe waar jy nie wil wees nie. Gaan terug na jou eienares en doen wat sy vir jou sê. 10Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle nie getel kan word nie.”
11Die Here se Engel het ook nog verder gesê: “Jy verwag en binnekort sal jy ’n seun hê. Jy moet hom Ismael noem (dit beteken: ‘God het gehoor’), want die Here het jou gehoor toe jy in jou nood geroep het. 12Soos ’n wilde donkie in die veld sal jou seun wees. Vry en ongebonde sal hy leef. Niemand sal oor hom heers nie. Teen almal sal hy hom verset en almal sal hom probeer tem. Met sy eie mense sal hy in vyandskap leef.”
13Hagar het toe ’n naam vir die Here gegee: “U is die God wat mense raaksien en vir hulle sorg. Vandag het ek God gesien wat my raakgesien het.” 14Tot vandag toe noem hulle die fontein die Beer-Lagai-Roï. Dit is die fontein daar tussen Kades en Bered.
15Hagar het na Abram en Sarai teruggegaan. Na ’n ruk is haar seun gebore. Abram het die kind Ismael genoem. 16Abram was 86 jaar oud toe Ismael gebore is.

Currently Selected:

Genesis 16: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy