YouVersion Logo
Search Icon

Galasiërs 5

5
Moenie julle vryheid weggee nie
1Christus het ons vrygemaak om regtig vry te wees. Hou vas aan hierdie vryheid. Moet dit vir niks ter wêreld prysgee nie. Moenie toelaat dat ander mense julle weer slawe van hulle skewe sienings maak nie.
2Kom ek sê reguit vir julle wat ek bedoel. As een van julle julle laat besny, maak julle ’n bespotting van die nuwe vryheid wat Christus aan julle gegee het. Dan kan julle maar net sowel ophou om in Hom te glo. 3Dan moet julle ook weer die wet gehoorsaam.
4Julle wat besluit het om al hierdie godsdienstige reëls en wette te hou om in die regte verhouding met God te wees, sny julle heeltemal van Christus af. Julle het buite die kragveld van sy genade beland.
5Aan die ander kant, ons wat glo, het ’n wonderlike vooruitsig. Omdat die Gees by ons is, weet ons dat ons op pad is na God se nuwe wêreld. Hy sal sorg dat ons saak met God reg is wanneer ons eendag voor Hom moet gaan staan.
6As ons in Christus glo, maak dit glad nie saak of ons die teken van die besnydenis aan ons liggaam dra of nie, want dit tel glad nie meer by God nie. Dit is uit die mode; ou nuus. Al wat nou saak maak, is geloof, daardie soort geloof wat maak dat ons ander mense met alles in ons liefhet.
Hardloop volgens God se reëls
7Tot dusver het julle baie goed gevorder op die pad van die geloof. Soos goeie atlete het julle voluit gehardloop. 8Wie het nou vir julle kom sê om anders te lewe? Beslis nie God nie. As julle op hierdie verkeerde pad aanhou loop, gaan julle later die hele kerk saam met julle in die gemors insleep. 9Onthou, ’n klein bietjie suurdeeg maak immers ’n groot stuk deeg suur. 10Maar voordat julle dink ek het julle heeltemal afgeskryf, wil ek darem net sê: ek is nie te mismoedig oor julle nie. In vertroue op die Here weet ek dat julle nie op sleeptou geneem sal word deur verkeerde leringe nie. Maar daardie persoon wat julle kop so deurmekaar kom krap het, wie hy ook al is, speel met vuur. God se oordeel wag op hom.
11My liewe broers en susters, daar by julle word ’n storie versprei dat ek sou gesê het dat gelowiges nog steeds besny moet word. Dit is ’n leuen. Ek sou mos nooit soveel teëstand ervaar het as ek dit gesê het nie. My prediking oor die kruis sou dan nie so ’n groot probleem vir my opponente gewees het nie. Dit lyk vir my diegene wat sê Christene moet besny word, het julle kop behoorlik deurmekaargemaak. 12Ek wens daardie spul se mes gly ’n slag sodat hulle hulleself ontman. Dan het hulle iets anders om hulle oor te bekommer.
Dra die Gees se vrug
13My broers en susters, God het julle na Hom toe geroep sodat julle vry kan wees. Moet asseblief nie hierdie vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie. Die belangrikste wat julle moet doen, is om mekaar lief te hê. Wanneer julle regtig vir mekaar omgee en lojaal aan mekaar is, doen julle presies wat God van julle vra. 14Die hele wet van God word in een enkele sin opgesom: “Jy moet vir ander mense net soveel omgee soos vir jouself.” 15As julle altyd aan die baklei is, as julle mekaar soos ’n trop kwaai honde byt en verskeur, bly daar later niks meer van julle oor nie.
16Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê. Dan sal die sonde julle nooit onderkry nie. 17Onthou, sondige begeertes is ’n vyand van die Heilige Gees. Maar die omgekeerde is ook waar: die Heilige Gees is ’n vyand van elke sondige begeerte. Daarom kan julle nie die een dag aan julle sondige begeertes toegee en die volgende dag aan die kant van die Gees probeer staan nie. Julle kan nie leef soos julle wil nie. 18As julle lewe deur die Heilige Gees beheer word, hoef julle nie meer al die reëls en voorskrifte van die wet te gehoorsaam nie.
19’n Mens kan duidelik sien watter mense gekies het om deur hulle sondige begeertes oorheers te word. Hulle doen mee aan die verskriklikste seksuele sondes. Hulle lewe is vol onreinheid en goddeloosheid. 20Hulle aanbid ’n spul dooie afgode en hou hulle besig met waarsêery. Hulle lewe loop oor van haat en twis. Hulle gun niemand iets nie. Hulle is aggressief, selfsugtig, altyd besig om te stry en verdeeld onder mekaar. Hulle lewe is vol jaloesie. 21Die een dronkpartytjie na die ander is hulle kos. Hulle gee hulle oor aan vieslike uitspattighede en nog baie ander slegte dinge.
Ek waarsku julle, soos ek julle al tevore gewaarsku het, om nie soos hierdie mense te lewe nie. Onthou, mense wat so lewe, sal nooit ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie.
Aan die ander kant kan ’n mens duidelik sien watter mense se lewe deur die Heilige Gees beheer word. 22Net soos ’n boom wat ’n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander. Hulle lewe is vol vreugde. Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle. Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hulle teenwoordigheid wees. Hulle doen goeie dinge vir ander mense. Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou. Hulle is vol deernis en ontferming. Die Gees stel hulle in staat om hulleself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hulle lewe vier nie. 23Natuurlik is die wet nie gekant teen so ’n leefwyse nie. 24Elkeen wat in Jesus Christus glo, moet so leef. Want al ons sondige begeertes is saam met Hom aan die kruis vasgespyker.
25Die Gees het ons splinternuut gemaak. Daarom moet ons toelaat dat Hy elke dag ons lewe bestuur. Hy moet besluit wat ons dink en sê en doen. 26Kom ons hou dadelik op om so baie van onsself te dink. Ons mag nie onder mekaar stry of op mekaar jaloers wees nie.

Currently Selected:

Galasiërs 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy