YouVersion Logo
Search Icon

Esra 1

1
1In die eerste jaar wat Kores koning van Persië was, het die Here Kores oorreed om ’n besluit te neem. Hy het dit laat neerskryf en na almal in sy ryk gestuur om te lees. Dit het die belofte laat waar word wat die Here vir sy boodskapper Jeremia gemaak het, dat hulle sal terugkom na hulle land toe. Die besluit het so gelui: 2“Kores, die koning van Persië, gee die volgende opdrag: Die Here, die God van die hemel, het my koning gemaak van al die lande van die wêreld. Die Here het gesê dat ek weer vir Hom ’n tempel in Jerusalem in die provinsie Juda moet bou. 3Enigeen wat aan die Here se volk behoort, mag nou teruggaan na Jerusalem in Juda toe om te gaan help om die tempel vir die Here te bou. Die Here is die God van Israel. Hy bly in Jerusalem. Mag die Here saam met elkeen wees wat bereid is om terug te gaan. 4Die ander mense wat saam met hulle op dieselfde plek bly, moet die Judeërs help wat wil teruggaan. Hulle moet vir die mense wat teruggaan, die silwer en goud en diere en vee gee wat hulle gaan nodig kry om God se tempel in Jerusalem te bou.”
Hulle bure help hulle
5’n Hele klomp leiers uit die families van Juda en Benjamin het besluit om terug te gaan. Daar was ook priesters en mense uit die familie van Levi wat by God se huis kon werk, en wou teruggaan. Hulle wou almal teruggaan om die tempel van die Here in Jerusalem te help bou. Die Here het hulle oorreed om te gaan. 6Hulle bure het hulle ondersteun. Hulle het vir hulle dinge gegee wat van silwer en goud gemaak was. Hulle het ook vir die mense wat wou teruggaan, kos en vee gegee, soos Kores gesê het. Hulle het daarby nog vir hulle allerhande geskenke gegee van goed wat hulle kon gebruik.
Kores gee die goed terug
wat Nebukadnesar gevat het
7Koning Kores het die goed laat haal wat Nebukadnesar destyds uit die Here se tempel in Jerusalem weggevat het om dit in sy eie god se tempel te sit. 8Persië se koning Kores het dit eers vir Mitredat gegee. Hy was die minister van finansies van Persië. Mitredat het ’n lys gemaak van alles wat daar was. Hy het toe die lys vir Sesbassar gegee. Sesbassar was die leier van die groep wat sou teruggaan Juda toe. 9Op die lys het die volgende gestaan: 30 bakke van goud; 1 000 bakke wat van silwer gemaak is; 29 ander bakke; 1030 bekers wat van goud gemaak is. Daar was 410 bekers van silwer en 1 000 verskillende ander stukke. 11Daar was altesaam 5 400 goed wat van goud en silwer gemaak was. Sesbassar het al hierdie goed saamgevat toe hy die Judeërs uit Babel teruggelei het Jerusalem toe.

Currently Selected:

Esra 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy