YouVersion Logo
Search Icon

Efesiërs 2

2
Wanneer jou pad God s’n
kruis, is jy nie meer dieselfde nie
1Dink weer ’n slag mooi na oor alles wat God vir julle gedoen het. 2Julle was eers soos dooie mense as dit by God en sy dinge gekom het. Kyk net hoe lelik het julle geleef en hoeveel dinge het julle gedoen waarvan God net mooi niks gehou het nie. Dit was toe julle al agter die duiwel, die leier van die onsigbare geeste, aangeloop en presies gedoen het wat hy van julle gevra het. Daardie selfde ou duiwel is nog steeds bedrywig onder die mense wat nie luister na wat God vra nie.
3Dit is eintlik maar die storie van ons almal se lewens. Eers het ons almal agter die sonde aangeloop. Wat ons gedink of gedoen het, was die ene sonde. As iets sonde was, was ons daar om dit te doen. Ons het dieselfde menslike geaardheid as al die ander gehad: ons het net in die sonde belanggestel. En vir iemand wat so is, wag daar net een ding: die ewige straf van God.
4Maar God het sake, en veral ons, nie so gelos nie. Hy het ons baie lief en Hy loop oor van goedheid.
Toe ons nog in die sonde geleef het asof God nie eens bestaan nie, het God ons kom haal. Saam met Christus het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee. Ons kon weer voor begin.
Moenie dink dat dit is omdat julle so goed is nie. 5Nee, omdat God so goed is, sonder dat julle iets daarvan verdien, is julle uit die kloue van die sonde gered. Julle is nou Jesus s’n, en wat Jesus s’n is, is julle s’n. 6Saam met Jesus is ons, wat soos dooie mense nie eens van God geweet het nie, lewend gemaak. Saam met Christus Jesus sit ons ook nou op ’n spesiale plek by God in die hemel. 7Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe goed God regtig is nie. Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie. Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het. 8Vra julle waarom julle nou juis gered is? Wel, dit is omdat God so goed is en julle Jesus so vertrou. 9Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie. 10Onthou, God het ons gemaak wat ons nou is. Dit is Hy wat ons nuut gemaak het omdat ons Christus Jesus s’n is.
Hy het dit gedoen sodat ons reg en goed kan leef soos Hy lankal besluit het ons moet leef.
Jesus maak nuut wat stukkend gegaan het
11Julle moet onthou waar julle vroeër vandaan gekom het. Julle was nie Jode nie. Die klomp Jode, wat vreeslik klem lê op die uiterlike seremonie van die besnydenis, het die neus vir julle opgetrek omdat julle nie ook daardie hele seremonie deurgemaak het nie. Hulle het julle toegesnou en gesê: “Julle klomp onbesnedenes!” Maar die besnydenis is vir God nie so belangrik nie, want dit is iets wat mense doen.
12Dink liewer terug aan die tyd toe julle niks van Jesus af geweet het nie. Toe was julle nie deel van die mense van God nie en julle het nie eens geweet watter ooreenkoms God met mense wil maak en wat Hy daarom alles vir hulle beloof het nie. Julle het geestelik in hierdie wêreld rondgedobber sonder enige vooruitsig of hoop, want julle het God nie geken nie. 13Maar nou is julle deel van die mense wat aan Christus Jesus behoort. Julle was eens so ver van God af. Maar Jesus het vir julle gesterf en sy bloed vir julle gegee sodat julle nou naby God kan wees.
14Jesus is die ware vredemaker. Hy is die Een wat vrede kom maak het tussen die Jode en dié wat nie Jode is nie. Die vyandige houding, wat soos ’n groot muur tussen ons gestaan het, het Jesus tot op die grond kom afbreek. Nou is daar niks meer wat ons in twee groepe verdeel (naamlik Jode en nie-Jode) nie, maar ons is een groep, Jesus s’n. Om dit vir ons reg te kry het Jesus sy lewe gekos. 15Al die Joodse wette en reëls, wat een mens ’n Jood maak en die ander een nie, het Jesus eenkant toe geskuif. Hy het een nuwe groep mense uit die twee groepe gemaak deur hulle almal soos een man in vrede agter Hom te laat aankom. Maar dit is nie al nie. Jesus het ook gesorg dat daar vrede kom tussen God en hierdie groep mense (wat eers self verdeel was). 16Daarvoor was Hy bereid om sy lewe aan die kruis te gee. Dit het die mense laat besef dat hulle met mekaar in vrede moet leef. 17Jesus het die goeie boodskap gebring dat daar vrede in die wêreld gekom het. Die vrede is nie net bedoel vir die klompie Jode wat naby aan God geleef het nie, maar ook vir almal in die wêreld wat vir baie jare so ver van God af was dat hulle niks van Hom geweet het nie. 18Vir almal (Jode of nie-Jode) het Jesus die pad na God toe oopgemaak, en deur die Gees ervaar ons nou ook hoe naby God regtig aan ons gekom het.
Die gelowiges is God se familie
19Julle moet besef wat dit alles vir julle beteken. Vir God en sy mense is julle nie nou meer vreemd of staan julle daar buite iewers nie. Nee, julle is nou in die volste sin van die woord deel van God se mense. Julle is deel van sy familie. 20Of laat ek die beeld van die bou van ’n huis gebruik. Julle is deel van die gebou wat God in hierdie wêreld aan die bou is. Die fondament van die gebou is die boodskap oor Jesus wat julle gehoor het van die manne wat deur God gestuur is en namens Hom praat. Die belangrikste steen in die gebou, waarsonder die gebou sommer inmekaar sal val, is Jesus self.
Omdat ons almal Jesus s’n is en Hy ons Here is, vorm ons almal saam ’n sterk en stewige gebou. 21Dit is soos ’n spesiale huis net vir God. Elkeen van julle wat Jesus s’n is, is deel van hierdie gebou. 22En God self woon in julle gebou omdat sy Gees in julle is.

Currently Selected:

Efesiërs 2: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy