YouVersion Logo
Search Icon

Hebreërs 6

6
1Laat ons nou nie in die wegspringblokke bly sit deur vas te steek by die heel basiese dingetjies wat ons oor Christus geleer het nie. Kom ons praat ’n bietjie oor dinge wat vir grootmense in die geloof bedoel is. Ons het nou al genoeg gepraat oor hoe ons dinge moet laat staan wat op die geestelike dood uitloop, of dat ons maar net op God moet vertrou. 2Ek gaan ook nie weer die doop of die handoplegging bespreek nie en nie weer ’n keer vir julle vertel dat ons uit die dood lewendig gaan word of dat God die ongelowige mense gaan straf nie. 3Laat ons ’n bietjie oor dieper dinge praat, as God wil.
Moenie dink jy kan met God speel nie
4Een ding sal nie gebeur nie: sê nou daar is mense wat saam met julle in die kerk gesit en oor wie die lig van God reeds geskyn het. Hulle het al ’n voorsmaak gekry van die hemel en van wat vir hulle wag, hulle was deel van die werk van die Heilige Gees 5en hulle ken God se wonderlike boodskap. Hulle het ook al stukkies van die krag ervaar wat met die wederkoms voluit gaan losbreek. 6En sê nou hulle wil ten spyte van dit alles niks meer met God te doen hê nie en hulle los die kerk? Wel, dit is nie moontlik om hulle weer ’n keer na God toe terug te lei nie. Dit is so goed of hulle in hulleself die Seun van God van voor af gekruisig en Hom voor almal belaglik gemaak het.
7Laat ek dit vir julle met ’n voorbeeld verduidelik. Sê nou daar is twee stukke grond en op albei stukke grond val daar genoeg reën. Die een stuk grond lewer die pragtigste oes op en die boer is trots daarop. Van so ’n stuk grond hou God en God sal na so ’n stuk grond kyk. 8Maar die ander stuk grond is net vol nuttelose goed soos dorings en bossies. Dit is hopeloos en niks werd nie. God kan enige oomblik besluit om niks meer met daardie grond te doen te hê nie en om dit aan die brand te steek.
Leef soos mense wat gered is
9My liewe vriende, ek klink miskien kwaai. Nogtans is ek seker dat dit nie so sleg gaan met julle nie. Ek weet julle is God s’n en leef ook soos mense wat gered is. 10God is regverdig. Hy sal onthou wat julle alles vir Hom doen. Hy weet dat omdat julle Hom liefhet, julle gedurig ander Christene help en altyd reg is om te help waar julle kan. 11Ek wil graag hê julle moet aanhou om God so ywerig te dien. Hou so aan tot God alles gedoen het wat Hy beloof het.
12Moenie lui word om God te dien nie. Doen wat die Christene voor julle gedoen het. Hulle het gekry wat God beloof het, omdat hulle geduldig was en op God bly vertrou het.
God se beloftes is julle geestelike lewensanker
13God het Abraham iets beloof. Om vir Abraham te wys hoe ernstig Hy is, het Hy ’n eed afgelê. Om ’n eed te neem moet iemand die gesag van iets groters as hyself inroep. Vir God is daar egter nie iets wat groter is as Hy nie. Daarom het God Homself ingeroep en vir Abraham 14gesê: “Ek sal baie goed vir jou wees en vir jou ’n groot nageslag gee.” 15Abraham het geduldig gewag tot God gedoen het wat Hy beloof het. 16Soos ek gesê het, as iemand ’n eed neem, roep hy die gesag in van iets of iemand wat groter is as hy. Dan twyfel niemand meer dat die persoon ernstig is oor wat hy sê nie. 17Daarom het God ook ’n eed geneem. Hy wou doodseker maak dat nie Abraham of sy nageslag sou twyfel dat Hy sal doen wat Hy beloof het nie. 18Daar is nou twee dinge wat soos ’n paal bo water staan en nooit verander sal kan word nie: daar is die belofte van God en die eed wat Hy geneem het. En God kan nie lieg nie. Ons wat na God toe is om gered te word kan daarom vir seker weet dat God sy beloftes sal hou. 19Om God so te vertrou is soos ’n geestelike anker. Dit gee ons lewe vastigheid en sekerheid. Dit verbind ons ook direk met God self in die heiligste van heilige plekke. 20Jesus, wat die pad na God vir ons oopmaak, is klaar daar ter wille van ons. Hy is mos ons Hoëpriester op dieselfde manier as wat Melgisedek ’n priester was.

Currently Selected:

Hebreërs 6: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy