YouVersion Logo
Search Icon

Hebreërs 10:31-39

Hebreërs 10:31-39 DB

Om voor die lewende God te staan as jou saak met Hom verkeerd is, is erger as die verskriklikste nagmerrie wat jy kan hê. Onthou julle nog toe julle pas Christene geword het? Julle het baie swaargekry, maar niks kon julle wegkry van julle vertroue op God nie. Voor almal het mense partymaal die lelikste dinge vir julle gesê en julle probeer seermaak. Ander kere moes julle die mense help aan wie sulke lelike dinge gedoen is. Party het selfs in die tronk beland en dan het julle hulle ondersteun. Julle het maar net geglimlag toe mense al julle goed kom vat het omdat julle Christene is. Julle kon dit doen, want julle het geweet dat julle in die hemel dinge het wat beter is en wat niemand van julle sal kan wegvat nie. Moet dus nie toelaat dat daar ’n krakie in julle vertroue op God kom nie. Wie op God bly vertrou, sal ’n groot beloning by Hom kry. Julle moet tot elke prys vasbyt. As julle so aanhou om te doen wat God wil hê, sal Hy sorg dat julle kry wat Hy vir julle beloof het. In die Skrif sê God: “Dit is nog net ’n baie kort rukkie, dan kom Hy wat moet kom. Hy sal nie lank draai voor Hy kom nie. Die persoon wie se saak met My reg is omdat hy op My vertrou, sal saam met My leef. Maar as iemand se moed hom begewe en hy nie meer vir alles kans sien nie, moet hy nie verwag dat Ek met hom tevrede sal wees nie.” Ons is nie van die soort wat bang word en so ons plek by God verloor nie. Ons bly op Hom vertrou en sal saam met Hom vir ewig leef.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy