YouVersion Logo
Search Icon

2 Tessalonisense 1

1
1Van Paulus en Silvanus en Timoteus.
Aan die kerk in Tessalonika: julle is die eiendom van God ons Vader en die Here Jesus Christus. 2God ons Vader en die Here Jesus Christus se oorvloedige goedheid en vrede is met julle.
Staan sterk, al is dit moeilik
3My broers en susters, ons dank God altyd vir julle. Hoe anders? Want die wonderlikste dinge is daar by julle aan die gebeur: julle vertroue in die Here word by die dag sterker. En julle almal se liefde vir mekaar word net al hoe groter.
4Wanneer ons by die ander gemeentes van God kom, spog ons graag met julle. Ons vertel vir hulle hoe julle vas bly staan en bly glo ten spyte van al die vervolging en swaarkry wat julle moet verduur. 5Moenie mismoedig word nie. Sien al hierdie dinge eerder as ’n bewys dat julle op die regte pad is. Julle hoef glad nie meer te twyfel dat God julle gekies het om deel te hê aan sy nuwe wêreld nie, want julle glo so vas in Hom dat julle bereid is om ter wille van Hom te ly. 6God tree altyd reg op. Daarom sal Hy met al daardie mense afreken wat julle nou so swaar laat kry. Laat dit aan Hom oor.
Die dag van redding is op pad
7God sal julle swaarkry laat ophou op daardie dag wanneer die Here Jesus saam met al sy sterk engele terugkom. 8Hulle koms sal soos ’n reusevuur wees wat in die hemel verskyn. Dan sal Hy almal straf wat nie in God glo nie. Almal wat geweier het om die goeie nuus oor ons Here Jesus te glo sal op daardie dag in groot moeilikheid wees. 9Pyn en lyding sal dan hulle voorland wees, vir altyd! Die Here sal niks verder met hulle te doen wil hê nie. Hulle het hulle kans gehad. Hulle sal nooit weer die Here se goedheid en sy groot krag beleef nie. 10Op daardie dag wanneer Christus terugkom, gaan al hierdie dinge waaroor ek nou met julle praat voor julle eie oë gebeur. Almal wat aan Hom behoort, sal dan in bewondering voor Hom kom staan. Julleself sal ook daar wees vir die fees, want julle het ons prediking met julle hele lewe geglo.
Volhard op die regte pad
11Ek bid dag en nag vir julle. Ek bid dat God julle in staat sal stel om die soort lewe te leef wat Hy vir julle in gedagte het. Ek bid dat Hy deur sy krag in julle sal werk sodat dit vir julle al hoe lekkerder word om daardie dinge te doen wat sy hart blymaak. Mag Hy heeltemal tevrede wees met die manier waarop julle elke dag julle geloof uitleef.
12Dan sal julle ons Here Jesus se heerlikheid uitdra soos nog nooit tevore nie. Ander mense sal sien hoe groot en belangrik Hy regtig is. Op julle beurt sal julle met eer beklee word deur die Here. Dit is presies hoe die goedheid van ons wonderlike God en die Here Jesus Christus in julle lewens werk.

Currently Selected:

2 Tessalonisense 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy