YouVersion Logo
Search Icon

2 Petrus 3

3
Dink reg oor die wederkoms
1My liewe vriende, julle weet dat dit reeds die tweede brief is wat ek aan julle skryf. Net soos in die vorige brief wil ek hê dat julle nou ook baie mooi moet luister en reg dink. 2Doen die volgende: Luister na alles wat die profete van die Here vir julle sê. En luister ook na die voorskrifte wat ons Here en Verlosser deur julle apostels vir julle gegee het.
3Onthou, gedurende die laaste dae hier op aarde sal daar spotters op die toneel verskyn. Hulle sal leef net soos hulle wil. 4Hierdie spul sal ook spottende dinge sê soos: “En wanneer gaan die wederkoms nogal plaasvind? Ons voorvaders is al dood en begrawe. Hulle het hulle dood gewag op die wederkoms, maar net mooi niks het nog verander nie. Alles gaan steeds op dieselfde ou trant aan, net soos dit van die begin af was.”
5Die mense wat sulke goed sê, vergeet ewe gerieflik ’n paar belangrike dinge oor God. Hulle vergeet dat God lank terug die hemel en die aarde uit water gemaak het. Hy het dit gedoen deur net ’n woord te sê. 6En hulle vergeet ook hoe God daarna die wêreld deur ’n reuse-oorstroming vernietig het. 7Dis dieselfde hemel en aarde waarin ons nou elke dag leef en wat gereed gehou word vir die groot vuur. God moet net ’n woord sê, dan breek die oordeelsdag aan wanneer Hy al die goddelose mense eens en vir altyd sal skuldig bevind en vernietig.
God se horlosie werk anders as ons s’n
8My liewe vriende, moenie dink dat God van ons mensgemaakte kalenders afhanklik is nie. Dit is glad nie so nie. Vir God is een dag net so goed soos 1 000 jaar, en 1 000 jaar net soos een dag.
9Daarom is Hy glad nie laat vir sy afspraak met die wêreld nie, al dink party spotters so. Die Here stel nie sy belofte uit nie. Hy sal sy woord hou. Op die oomblik is God net geduldig met julle almal. Hy wil nie hê dat sommige mense verlore moet gaan nie. Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.
10Niemand weet wanneer die Here na ons toe terugkom nie. Dit sal onverwags wees, net so onverwags soos ’n dief wat iewers in ’n huis inbreek. Op daardie dag sal die hemelruim bokant julle inmekaarstort, die sterre en die planete sal tot ’n hoop as verbrand, en die aarde met alles daarop sal vergaan.
11Julle weet dat al die dinge waarvan ek praat enige oomblik kan plaasvind. Daarom moet julle al hoe meer doen wat God vra. Gryp elke kans aan! Wys dat julle net aan Hom behoort. 12Sien uit na die dag waarop die Here terugkom. Leef so dat God die datum van sy terugkeer sal vervroeg. Leef daardie groot dag nader! Op daardie dag sal die hemelruim in vlamme verbrand en al die sterre en planete in ’n oomblik wegsmelt. 13Ons hou met alles in ons vas aan die belofte dat ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde op pad is, presies net soos God belowe het. Daar sal God se wil seëvier. Wat ’n wonderlike vooruitsig!
Leef reg, die Here is op pad
14My liewe broers en susters, omdat julle uitsien na alles wat in God se nuwe wêreld op julle wag, moet julle julle bes doen om so te leef dat julle God se hart altyd bly maak. Daar moenie eens ’n vuil kolletjie sonde in julle lewens te sien wees nie. Sorg dat julle eendag in vrede voor Hom kan staan, sonder enige skuldige gewetens.
15Die Here is baie geduldig met ons. Gelukkig! Hy gee ons nog ’n kans om ons lewens behoorlik reg te kry. Kom ons gryp dit met albei hande aan. Dit is presies wat Paulus, daardie broer van ons vir wie ons almal so lief is, ook vir julle geskryf het. 16In al sy briewe wat oor die wederkoms handel, skryf hy oor hierdie dinge. Nou ja, ek moet erken dat sommige van die dinge wat Paulus skryf moeilik is om te verstaan. Daarom dat daardie dwase wat nie begryp waaroor dit alles gaan nie, sy woorde so maklik verdraai. Maar dit is niks vreemds nie, want hulle verdraai die hele Bybel. Daarom wag daar groot moeilikheid op hulle.
Bly elke dag by die Here
17My liewe broers en susters, ek het julle nou behoorlik gewaarsku teen die mense wat die goeie nuus verdraai. Nou weet julle vooruit wat alles op julle wag. Pas op vir hulle! Moenie deur hulle sondes en skewe leringe meegesleur word nie. Staan sterk in julle geloof. 18Leef net elke dag nog meer uit die liefdevolle goedheid wat ons Here en ons Verlosser, Jesus Christus, vir julle gee. En moet nooit ophou om meer en meer oor Hom te leer nie.
Aan ons Here behoort al die heerlikheid, nou en vir altyd. Vir seker!

Currently Selected:

2 Petrus 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy