YouVersion Logo
Search Icon

2 Korintiërs 13

13
Christus se groot krag
1My derde besoek aan julle is voor die deur. Luister daarom mooi na wat ek nou vir julle sê; dan sal alles goed verloop wanneer ek daar opdaag. Kyk, die Bybel sê twee of drie getuies is nodig om in ’n saak te getuig voordat ’n hof enige uitspraak daaroor lewer. 2Wat wil ek hierdeur vir julle sê? Wel, onthou julle hoe ek tydens my tweede besoek die klomp sondaars daar tussen julle vasgevat het? 3Nou sê ek weer vir julle hier kort voor my derde besoek dat ek net mooi niks daarvan hou dat party van julle aanhou sondig nie. Hou dadelik op daarmee, of dra die gevolge!
4Party van julle soek mos die een of ander bewys dat Christus ook deur my praat. Wel, daar wag ’n groot verrassing op julle. Hy gaan hierdie keer wanneer ek by julle is, met groot krag onder julle werk, nie met swakheid nie. Natuurlik was Christus vroeër weerloos en swak toe Hy aan die kruis gehang en daar gesterf het. Maar daardie tyd is vir altyd verby. Christus lewe nou uit die groot krag van God. Natuurlik is ek ook maar swak, al is ek ’n volgeling van Christus. Maar moenie dat dit julle mislei nie. Wanneer ek daar na julle toe kom, sal julle sien dat God se groot krag deur my werk wanneer Christus my daar tussen julle gebruik.
5Nou wil ek ernstig met julle praat: gaan kyk ’n slag deeglik na julle eie lewe. Glo julle nog? Is Christus regtig in julle? 6As julle dié toets nie slaag nie, wag daar groot probleme op julle. Terwyl julle julle eie geloof onder die vergrootglas plaas, hoop ek julle sal agterkom dat ek hierdie toets al lankal geslaag het.
7Ek bid ernstig tot God dat julle niks verkeerds sal doen nie. Want dis regtig nie so belangrik wat julle van my geloof dink nie. Julle kan maar sê ek is nie ’n Christen nie, solank julle net doen wat God wil hê. Dis al wat saak maak. 8Maar julle kan daarvan seker wees dat ek nooit in die pad van die waarheid staan nie. Inteendeel. Ek doen my bes sodat die waarheid nog meer mense kan bereik. 9Ek gee nie om om swaar te kry nie, solank julle net sterk is in julle geloof. Dan loop my hart oor van blydskap. Daarom bid ek dat julle geloof regtig sal begin groei.
10Ek skryf al hierdie dinge terwyl ek nog nie daar by julle is nie. Dan hoef ek nie later, wanneer ek in Korinte aankom, met julle te raas en te baklei nie. Die Here het my immers aangestel om mense se geloof op te bou, nie om dit af te breek nie.
Seën
11Ten slotte: julle lewe moet altyd vol blydskap wees. Lewe presies net soos God vir julle sê. Luister na alles wat ek vir julle gesê het. Wees eensgesind. En lewe asseblief in vrede met mekaar. Ons wonderlike God wat sy liefde oor ons almal uitgestort het en aan ons sy vrede gee, sal altyd by julle wees.
12Groet mekaar hartlik, soos dit by broers en susters in die Here pas. Almal wat aan die Here behoort, stuur ook vir julle groete.
13Die goedheid van die Here Jesus Christus, die oorvloedige liefde van God en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees is by julle almal. Amen.

Currently Selected:

2 Korintiërs 13: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy