YouVersion Logo
Search Icon

1 Johannes 5

5
Kinders van God het mekaar lief
1Elkeen wat geen twyfel daaroor het dat Jesus die Messias is nie, kan weet dat God hom sy kind gemaak het. Elkeen wat God wat mense sy kinders maak, liefhet, het ook almal lief wat sy kinders is. Wie dus die Vader liefhet, het ook sy kinders lief.
2Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Ons weet dat wanneer ons God liefhet en doen wat Hy van ons vra, ons ook sy kinders met liefde en respek sal behandel.
3Om God lief te hê beteken om sy opdragte ernstig op te neem en uit te voer. Wat Hy van ons verwag, is nie moeilik om te doen nie, 4want elke kind in die familie van God is ’n wenner, ’n wenner oor hierdie sondige wêreld. Die manier waarop ons die sondige wêreld wen, is deur naby aan Jesus te leef. 5Dus: Wie is die wenner oor die wêreld? Dit is die persoon wie se verhouding met Jesus reg is omdat hy weet Jesus is die Seun van God.
Oor God, Jesus en die Gees
6Dit is Jesus Christus wat deur die water van sy doop en sy bloed aan die kruis hierheen gekom het, nie net deur die water van sy doop nie, maar deur die doopwater én sy bloed aan die kruis.
Die Heilige Gees staan vir die waarheid daarvan in. Die Gees se getuienis en die waarheid is natuurlik presies dieselfde. 7Daar is drie wat getuienis aflê: 8eerstens is daar die Heilige Gees; dan is daar die water van die doop van Jesus, en laastens is daar sy bloed wat aan die kruis gevloei het. Hierdie drie getuies sê presies dieselfde.
9Gewoonlik aanvaar ons dit wat mense getuig sonder veel probleme. As God egter iets getuig, lê dit op ’n heel ander vlak; dit is eenvoudig baie belangriker. Onthou, dit is die getuienis van God. En weet jy waaroor hierdie getuienis handel? Ja, oor sy Seun.
10Wie in die Seun van God glo, hou hier diep binne-in hom aan hierdie getuienis van God vas. Daaruit put hy baie motivering. Wie God egter nie glo nie, gee voor dat God ’n klomp leuens sou vertel. So ’n ongelowige weier sowaar om die getuienis wat God self oor sy Seun gelewer het, ernstig op te neem.
11Wat behels hierdie getuienis oor sy Seun presies? God bied die ewige lewe vir ons aan. Hierdie lewe is in en by sy Seun beskikbaar. 12Wie dus in ’n hegte verhouding met die Seun staan, kry die lewe by die Seun. Wie nie in so ’n verhouding met die Seun van God staan nie, loop die lewe heeltemal mis.
13Ek het ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf: dit is sodat julle wat in die Seun van God glo, kan weet dat julle die goddelike, nimmereindigende lewe het.
Bid en God sal luister
14Ons kan heeltemal vry en vol selfvertroue met God praat. 15Immers, as een van ons vir God iets volgens sy wil vra, kan ons maar weet: Hy luister! Wel, een ding is seker, dit is so goed of ons het wat ons van God vra. 16Kyk na die volgende voorbeeld. Sê nou iemand sien ’n medegelowige wat verkeerde dinge doen, maar darem op so ’n manier dat hy Jesus nie heeltemal die rug toekeer nie, wat dan? Wel, dan moet hy in gebed vir God vra om daardie persoon te help. God sal daardie persoon help. Die persoon is immers nog nie by die afgrond van die geestelike dood af nie. In sommige gevalle is persone al klaar by die afgrond af. Ek praat nie oor hulle as ek sê dat julle moet bid nie.
17Dinge wat nie vir God reg is nie, is natuurlik sonde. Maar deur sonde te doen dompel die gelowige hom nie noodwendig in die geestelike dood in nie. 18Tog weet ons ook dat iemand wat God se kind is, nie heeltyd al agter die sonde aanloop nie. Die Bose kan nie ’n houvas op hom kry nie.
19Ons weet dat ons kinders van God is. Al die ander mense in die wêreld wat nie kinders van God is nie, is verstrik in die mag van die Bose.
20Dit weet ons: die Seun van God het gekom en vir ons die geestelike dinge kom verduidelik. Daarom kan ons nou die ware God ken. Ons is deel van die familie van die ware God, van sy Seun, Jesus Christus. Hierdie Jesus self is die ware God en die ewige lewe.
21My kinders, loop wye draaie om alles wat julle hinder of keer om God voluit te dien.

Currently Selected:

1 Johannes 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy