YouVersion Logo
Search Icon

1 Korintiërs 8

8
Ware kennis beteken om waarlik lief te hê
1Julle het mos ook in julle brief gevra of ’n mens kos mag eet wat aan afgode geoffer is. Dit is waar wat julle sê: “Julle weet wat die kerk alles leer.” Maar as ’n mens dink jy weet so baie, kan dit jou te veel van jouself laat dink. Onthou egter, liefde blaas jou nie so op nie, maar bou liewer ander mense op. 2Boonop, iemand wat dink hy weet so baie van God se dinge af, weet baiekeer nie dít wat eintlik belangrik is nie.
3Maar as iemand God liefhet, is hy gedurig in God se gedagtes.
4Kom ons gesels nou daaroor of ’n Christen kos mag eet wat aan afgode geoffer is. Ons almal weet tog dat afgode nie “regtig” is nie, want daar is net een ware God. 5Mense praat maklik van “gode” wat glo in die hemel of op die aarde is. So hoor ’n mens van baie verskillende “gode” en “here”. 6Ons weet egter dat daar net een God is. Alles het deur Hom ontstaan en ons leef net vir Hom. Daar is ook net een Here, naamlik Jesus Christus. Hy is die instrument waardeur alles gemaak is en aan wie ons ook ons bestaan te danke het.
7Nie al die Christene weet of besef dit nie. Daar is nog van julle Christene wat dink dat die afgode regtig bestaan. As hulle kos eet wat in die afgodstempels geoffer is, pla hulle gewete hulle nog meer as gewoonlik. 8Maar onthou, dit is nie kos wat ’n mens se verhouding met God sterker maak nie. Watter kos ons nou ook al eet of nie eet nie, dit sal ons nie ’n duim nader aan God of verder van Hom af bring nie.
9Maar vir een ding moet julle oppas. Moenie dat julle vryheid om te eet wat julle wil vir ander Christene ’n probleem word wat hulle Christenskap benadeel nie. 10Sê nou net iemand wat nog dink dat daar regtig afgode is, sien jou in die afgodstempel lekker sit en eet. Vir jou is dit natuurlik nie ’n probleem nie, want jy weet dat die kos jou verhouding met die Here nie kan beïnvloed nie. Dit sal die persoon wat nog dink dat afgode “regtig” is, aanmoedig om ook van die kos te eet, al voel hy dit is verkeerd omdat hy daarmee die afgode op ’n manier dien. 11Dié mede-Christen van jou se Christenskap word so eintlik deur jou beter godsdienstige kennis stukkend geskeur. En onthou, Jesus het vir hom gesterf. 12As jy jou mede-Christene so skade aandoen en dit vir hulle moeilik maak om werklik Christen te bly, is jy eintlik besig om Christus self seer te maak. 13Dus, as die kos wat ek eet my mede-Christen dinge laat doen wat nie reg is nie, sal ek nooit aste nimmer my mond weer aan sulke kos sit nie. So sal ek nie die oorsaak wees dat hy die verkeerde dinge doen nie.

Currently Selected:

1 Korintiërs 8: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy