YouVersion Logo
Search Icon

1 Korintiërs 5

5
Oppas vir die sonde
1Iemand het my vertel dat daar in die gemeente mense is wat baie onsedelik leef. Ek het gehoor dit is so erg dat selfs die nie-Christene hulle skaam en nooit sulke dinge sal doen nie. Neem byvoorbeeld daardie twee wat soos man en vrou saamleef, maar eintlik is hulle kind en stiefma. 2En dan dink julle julle is soveel beter as ander mense. Moet dit nie liewer julle hart breek nie? Behoort julle nie liewer mense wat sulke dinge aanvang te waarsku dat hulle uit die gemeente gesit sal word as hulle so voortgaan nie? 3-4Hoewel ek nie self daar is nie, is ek in my gedagtes by julle. Ek het mooi nagedink wat ek met sulke mense sou doen as ek daar was. Hulle kan nie so aangaan nie. Kom bymekaar as gemeente wat onder die gesag van die Here Jesus staan. Ek sal in my gedagtes ook daar by julle wees.
Die Here Jesus sal vir julle die krag gee om te doen wat reg is.
5Gooi daardie onsedelike man uit die gemeente uit sodat hy kan voel hoe dit is om sonder die Here in die greep van Satan te leef. So sal die sonde wat hy so lustig doen vir hom sleg begin word. Hy sal besef dat die gevolge daarvan nie so lekker is as wat dit altyd lyk nie. Dan sal hy terugdraai na God toe en wanneer die Here weer kom, sal hy weer aan die kant van God staan.
Christene moet van sonde ontslae raak
6Ek haat dit as julle so grootpraat oor julle Christenskap. Laat ek vir julle met ’n voorbeeld verduidelik wat ek bedoel. Julle weet mos hoe suurdeeg werk. ’n Mens sit ’n klein stukkie suurdeeg in ’n groot bak deeg en dan trek daardie bietjie suurdeeg deur al die deeg en laat dit mooi rys. So is dit met sonde. ’n Klein bietjie sonde in die gemeente krap die hele gemeente deurmekaar.
7Raak asseblief ontslae van al die verkeerde dinge wat in die gemeente soos suurdeeg werk. Snuffel elke sonde uit en gooi dit uit die gemeente uit soos die mense van ouds alle suurdeeg uit die huis uitgegooi het voor die paasfees. Die brood vir die paasfees moes sonder suurdeeg gebak gewees het. Wees daarom as gemeente soos vars brood wat sonder die suurdeeg van sonde gebak is. Dit is mos hoe julle eintlik is. Soos daar altyd ’n lammetjie geslag is om paasfees mee te hou, so is Jesus vir ons sonde doodgemaak. Alles is reg vir die fees in die gemeente, die brood en die Lam. 8Laat ons dan die fees hou. Maar om dit te hou moet daar niks van al die lelike dinge waarvan God nie hou nie, soos ou suurdeeg in ons oorbly nie. Al wat vir die gemeente moet oorbly, is om skoon te leef en te doen wat reg is.
Daar’s nie plek vir skynheiligheid in die kerk nie
9In my vorige brief het ek julle gevra om weg te bly van mense af wat nie weet hoe om hulle behoorlik op seksuele gebied te gedra nie. Dit lyk my of julle my verkeerd verstaan het. 10Ek het nie gepraat van nie-Christene wat verkeerde dinge doen soos seksuele sonde, of wat net vir geld leef of met lieg en bedrieg ander uitbuit nie. Ek het nie mense bedoel wat in plaas van God allerhande ander goed aanbid nie. As ek van hulle gepraat het toe ek gesê het julle moet nie met sulke mense deurmekaar raak nie, sou dit mos beteken het dat ons op ’n ander planeet moes gaan bly. 11Wat ek eintlik bedoel het, is dit: julle moet julle nie ophou met iemand wat sê hy is ’n Christen, maar die teenoorgestelde doen nie. Dit is nou “kamma-Christene” wat soos nie-Christene leef deur seksueel skandelike dinge te doen, wat vir niemand behalwe hulleself omgee nie, wat meer lojaal teenoor ander dinge as teenoor die lewende God is, wat allerhande stories versprei wat ander mense baie seermaak, wat in niks anders as drank belangstel nie, of wat net daarop uit is om ander mense te kul en te bedrieg. Met so iemand moet jy niks te doen hê nie.
12Dit is nie my werk om oor nie-Christene se lewe skeidsregter te speel nie. 13God sal met daardie mense afreken. Maar julle moet verantwoordelikheid neem vir wat in julle gemeente aangaan. Die Skrif sê mos: “Raak ontslae van die mense onder julle wat nie reg lewe nie.”

Currently Selected:

1 Korintiërs 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy