YouVersion Logo
Search Icon

1 Korintiërs 16

16
Hou julle bydrae vir Jerusalem reg
1Ek wil ook nog ’n bietjie met julle praat oor die geld wat julle vir die Christene in Jerusalem bymekaargemaak het. Maak asseblief soos ek met die mense in Galasië gereël het. 2Sondae moet elkeen van julle iets opsy sit, afhangende van wat hy daardie week verdien het. Spaar dit sodat ons nie ’n ekstra klomp geld hoef in te samel wanneer ek daar by julle aankom nie.
3Al wat dan nodig sal wees, is dat julle ’n paar persone moet aanwys om die geld na Jerusalem toe te vat. Ek sal vir hulle briewe saamgee sodat wanneer hulle in Jerusalem kom, die mense hulle vriendelik sal ontvang. 4As julle voel dat ek ook moet saamgaan, kan ons sommer saam reis.
Paulus praat oor sy toekoms en met sy vriende
5Ek moet in Noord-Griekeland ’n draai gaan maak. Daarna sal ek na julle toe kom. 6Ek gaan ’n rukkie daar by julle oorbly, miskien nog die hele winter. Dan kan julle my help met wat ek nodig het om verder te reis, waarheen dit ook al is. 7Ek wil hierdie keer nie net kom inloer nie, maar graag behoorlik by julle kom kuier. Dit is natuurlik as die Here wil. 8Ek wil graag hier in Efese bly tot na pinkster, 9want hier het ’n klomp goeie dinge gebeur wat ek nie so kan los nie - die Here het vir my wonderlike geleenthede gegee om vir mense van Hom te vertel. Daar is ook ’n klompie wat probeer keer dat ek vir die Here werk.
10Wanneer Timoteus daar opdaag, moet julle hom gasvry ontvang. Laat hom tuis voel en kyk mooi na hom, want hy werk hard vir die Here, net soos ek. 11Niemand moet hom verkleineer nie. Julle moet hom eerder help om sonder probleme in vrede te reis sodat hy weer na my toe kan kom. Ek verwag hom saam met die ander broers. 12Ek het mooi met Apollos gepraat en gevra dat hy saam met die ander broers na julle toe moet gaan. Hy kon egter nie nou gaan nie en daarom het hy nee gesê. Sodra hy kans kry, sal hy wel gaan.
13Wees wakker in die lewe en moenie toelaat dat iemand julle geestelik van balans af gooi nie, want julle glo mos. Moenie soos bangbroeke wees nie, maar staan julle man. 14Doen alles wat julle doen met liefde.
15Ek wil julle nog iets vra, my broers en susters. Julle onthou mos nog vir Stefanas. Hy en sy huisgesin was die eerste mense in Suid-Griekeland wat Christene geword het. 16Hulle was van die begin af meer as gewillig om mede-Christene te help waar hulle kan. Sulke mense se voorbeeld moet julle volg en almal wat saam met hulle vir die Here woel en werskaf. 17Ek was bly toe Stefanas, Fortunatus en Agaïkus hier aangekom het. Dit het sommer baie gehelp vir my verlange na julle almal. 18Hulle het vir my net so baie beteken as vir julle. Sulke mense moet julle waardeer.
19Die gemeentes hier in Asië stuur vir julle groete. Akwila en Priscilla saam met almal wat in hulle huis bymekaarkom, stuur spesiaal vir julle as mede-Christene baie liefde. 20Al die gelowiges het my gevra om hulle groete oor te dra. Groet mekaar opreg en hartlik soos Christene dit behoort te doen.
21Ek, Paulus, skryf hierdie laaste paar groetwoorde self. 22Mag die Here die persoon straf wat in liefdeloosheid die rug vir die Here draai. Kom, Here!
23Mag die Here vir julle baie goed wees.
24Ek sal altyd in liefde aan julle dink, want ons almal behoort aan Jesus.

Currently Selected:

1 Korintiërs 16: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy