YouVersion Logo
Search Icon

1 Korintiërs 12

12
God se Gees sorg vir sy gemeente
1My liewe vriende, nou wil ek met julle praat oor die verskillende maniere waarop die Gees in ons werk. Dit is vir my baie belangrik dat julle dit mooi verstaan. 2Julle onthou mos nog wat met julle gebeur het toe julle die Here nog nie geken het nie. Die afgode het die een of ander mag oor julle gehad wat julle na hulle toe getrek het. En dit is dooie beelde wat nie eens kan praat nie. 3As julle nie seker is of iemand regtig onder die invloed van die Heilige Gees praat nie, wil ek julle ’n goeie toets daarvoor gee. Iemand wat deur die Gees praat, sal nie sê: “Vervloek is Jesus” nie. As iemand egter sê: “Jesus is die Here,” is dit die Heilige Gees wat hom dit laat sê.
4Daar is natuurlik baie verskillende gawes wat ons as Christene kan kry, maar dit beteken nie dat daar ’n gees vir elke gawe is nie. 5Al hierdie gawes kom van een en dieselfde Gees. Daar is ook baie dinge wat aan Christene gegee word om spesiaal te doen, maar dieselfde Here staan agter al hierdie verskillende dinge. 6Daar gebeur ook baie spesiale dinge met ons as Christene. Dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in ons doen.
7Die Gees werk in elkeen van ons op ’n unieke manier. Die doel daarvan is egter dat ons vir ander mense iets moet beteken. Daar is baie verskillende maniere waarop die Gees in ons kan werk, byvoorbeeld: 8Party mense kan vir ’n mens goeie raad gee oor hoe om te leef. Ander kan weer goeie onderwysers vir die Here wees. 9Dan is daar mense wat in moeilike omstandighede, as ander begin twyfel, steeds eenvoudig blindelings op die Here kan vertrou. Daar is ook sommige deur wie die Gees mense gesond kan maak. 10Dan is daar nog mense wat dinge kan doen wat gewone mense glad nie kan doen nie. Die Gees sorg ook vir mense wat die boodskap van God duidelik en goed kan verkondig. Dan is daar ook mense wat weet wanneer die Gees van God deur iemand werk en praat en wanneer dit ’n valse gees is. Vir sommige gee die Gees die vermoë om ’n “spesiale taal” te praat terwyl ander die vermoë kry om te verduidelik wat daar met die “spesiale taal” gesê word.
11Al hierdie dinge kom van een en dieselfde Gees. Hy besluit aan wie Hy wat wil gee en gee dit dan aan daardie persoon.
Die Here se kerk is soos ’n liggaam
12’n Mens kan Christus vergelyk met ’n menslike liggaam. Daar is net een liggaam, maar die een liggaam het baie dele. Al is daar hoeveel dele, dit bly maar net een liggaam. 13Met die doop het die Gees ons almal so aan mekaar vasgebind, soos ’n liggaam. Dit maak nie saak wie ons is of waar ons vandaan kom of hoe belangrik mense dink ons is nie, dieselfde Gees werk in ons almal.
14Soos ek reeds gesê het, het ’n liggaam nie net een liggaamsdeel nie, maar baie. 15Sê nou die voet kla: “Ek is nie die hand nie. Daarom voel ek nie deel van die liggaam nie,” beteken dit nou dat hy skielik nie meer deel van die liggaam is nie? Nee. Hy bly deel van die liggaam. 16Net so min hou die oor op om deel van die liggaam te wees net omdat dit nie die oog is nie. 17Net om te sê: “Ek is nie die oog nie, nou voel ek nie meer deel van die liggaam nie,” verander niks daaraan dat dit deel van die liggaam is nie. As alles nou net oog was, waarmee sou ons dan gehoor het? As die hele liggaam net een groot oor was, waarmee sou ons geruik het? 18Nee, God het elkeen van die dele van die liggaam ’n spesiale plek in die liggaam gegee, net soos Hy dit beplan het. 19As die hele liggaam net uit een orgaan bestaan het, hoe sou die liggaam dan nie gelyk het nie! 20Natuurlik is dit nie so nie, daar is baie dele wat saam die een liggaam uitmaak.
Elke liggaamsdeel het sy spesiale plek
21Dink julle die oog kan ooit vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie,” of dat die kop dit vir die voete kan toesnou? 22Om die waarheid te sê, daar is dele van die liggaam waaraan ’n mens nie eens baie dink nie, maar waarsonder die liggaam glad nie kan klaarkom nie. 23Daar is ander dele van die liggaam wat ons nie wil hê mense moet sien nie. Daarom trek ons klere aan. So wys ons byvoorbeeld dat ons spesiaal vir hierdie liggaamsdele omgee. 24Aan ander dele van die liggaam waaroor ons nie skaam voel nie, gee ons ook nie so baie aandag nie. God het die liggaam juis so aanmekaargesit. Hy sorg daarvoor dat die dele wat dit nodig het, juis met meer respek behandel word. 25Daarom kan liggaamsdele nie onder mekaar “stry” nie. Hulle moet eerder respek hê vir mekaar en vir mekaar omgee. 26As een deel van die liggaam seerkry, voel die hele liggaam die pyn, en as een deel van die liggaam geprys word, voel die hele liggaam bly.
In die gemeente van die Here het
elke Christen ook sy spesiale plek
27Kom ons kyk wat ons hieruit oor julle as gemeente kan leer. Julle as Christene is saam die liggaam van Christus. Elkeen van julle is ’n lid van hierdie liggaam. 28Een lid van die gemeente is iemand vir wie die Here spesiaal gestuur het om sy boodskap te preek; ’n ander een moet in die gemeente self vertel wat die Here van die gemeente wil hê; dan is daar gemeentelede wat die ander moet touwys maak oor alles wat die Here ons geleer het; dan is daar mense wat spesiale kragtige dinge doen en ander vir wie die Here die krag gee om mense gesond te maak. Die Here het ook gesorg dat daar mense in die gemeente is wat ander kan help as hulle hulp nodig het. Party het weer die vermoë om te sorg dat die gemeentebedrywighede vlot verloop. Dan is daar ook mense in die gemeente wat “spesiale tale” praat. In die gemeente kan almal mos nie presies dieselfde ding doen nie. 29Almal kan mos nie preek of die ander gemeentelede leer nie. Wie is dan oor om te luister? 30Die hele gemeente kan mos nie net uit ’n klomp mense bestaan wat net kragtige dinge kan doen en mense gesond kan maak nie. Net so kan almal nie in “spesiale tale” praat of verduidelik wat met die “tale” gesê word nie. Wie gaan dan al die ander dinge doen wat in en deur die gemeente gedoen moet word? Daarom het verskillende lede van die gemeente verskillende dinge van die Here ontvang om te doen. 31Doen moeite met die gawes wat vir jou situasie die beste is. Maar nou wil ek vir julle van iets vertel wat vir elkeen van julle altyd die beste is.

Currently Selected:

1 Korintiërs 12: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy