YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 28

28
Dawid se voorskrifte vir die bou van die tempel
1Dawid het al die belangrike mans van Israel in Jerusalem bymekaargeroep. Dit het die leiers van die stamme, die weermagoffisiere, die toesighouers oor die koninklike eiendomme en ander belangrike mense ingesluit.
2Koning Dawid het hulle toegespreek: “My broers, my volk, luister na my! Ek wou baie graag ’n gebou opgerig het vir die verbondsark van die Here wat as ’n rusplek vir die voete kon dien vir ons God. Toe ek amper reg was om te begin bou, 3het God vir my gesê: ‘Jy moenie ’n huis bou om my Naam te vereer nie, want jy is ’n soldaat wat baie mense doodgemaak het.’ 4Maar tog het die Here, die God van Israel, my uit my hele familie gekies om vir altyd Israel se koning te wees. Hy het die stam van Juda gekies om te regeer en uit die families van Juda het Hy my pa se familie gekies. Tussen al my pa se seuns het Hy my gekies om oor die hele Israel te regeer. 5Uit die baie seuns wat die Here my gegee het, het Hy my seun Salomo gekies om na my koning te word van sy volk Israel. 6Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo moet my tempel bou, want Ek het hom vir My as seun gekies en ek sal vir hom ’n pa wees. 7Ek sal sy koningskap vir altyd laat duur as hy gehoorsaam bly aan my wette en voorskrifte, soos wat hy tans doen.’
8“Daarom beveel ek julle nou hier waar die hele Israel, die Here se gemeente, teenwoordig is en waar die Here self ons getuie is: maak seker dat julle al die wette van die Here julle God uitvoer, sodat julle hierdie goeie land kan behou en dit as ’n ewige erfenis vir julle kinders kan nalaat. 9Salomo, my seun, leer die God van jou voorouers goed ken. Vereer en dien Hom met jou hele lewe en met ’n gewillige gemoed, want die Here weet wat in ’n mens se gedagtes aangaan en Hy verstaan jou planne. As jy Hom soek, sal Hy toelaat dat jy Hom vind, maar as jy van Hom af wegdraai, sal Hy jou vir altyd verwerp. 10Luister nou mooi: die Here het jou gekies om die tempel as heiligdom vir Hom te bou. Spring dadelik aan die werk!”
11Dawid het vir Salomo ’n bouplan gegee van die pilaargang met al die geboue wat daarmee saamgaan: die voorraadkamers, solderkamers, binnekamers en binneste heiligdom waar die ark se deksel sou kom. 12Dit was ’n grondplan van alles wat hy vir die tempel beplan het: van die pilaargange van die tempel, die stoorkamers vir skatte en buit wat aan die Here gewy mag word, 13tot by die plekke vir die priesters en Leviete wat in die tempel moes werk en vir al die gereedskap wat nodig kon wees vir hulle diens. 14Dawid het ook presies vir Salomo gesê hoeveel goud en silwer hy nodig sou hê vir al die verskillende soorte gereedskap. 15Hy het ook vir hom gesê presies hoeveel goud nodig sou wees vir die goue kandelaars met hulle goue lampe, en hoeveel silwer vir die silwerkandelaars met hulle lampe. 16Hy het ook vir hom gesê hoeveel goud nodig sou wees vir die tafels met die offerbrood, en hoeveel silwer vir die silwertafels; 17ook hoeveel goud vir die vurke, komme en kanne van suiwer goud, die hoeveelheid goud en silwer vir elke goue beker en elke silwerbeker; 18asook die hoeveelheid gesuiwerde goud vir die wierookaltaar, en die hemelwesens van goud wat die verbondsark van die Here met hulle vlerke moes bedek.
19Dawid het vir Salomo gesê: “Ek weet al hierdie dinge omdat die Here dit aan my bekendgemaak het. 20Wees sterk, moenie huiwer nie, maar begin die werk doen! Moenie bang wees of jou bekommer nie, want die Here God, my God, is by jou. Hy sal jou nie in die steek laat of van jou af padgee nie. Hy sal toesien dat al die werk aan sy huis reg gedoen word. 21Al die priesters en Leviete is aangewys en gereed om in die tempel diens te doen en daar is vakmanne wat alles kan doen wat jy gedoen wil hê. Daarby wag die hoë amptenare en die hele volk dat jy vir hulle moet sê wat hulle moet doen.”

Currently Selected:

1 Kronieke 28: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy