YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 19

19
Dawid se boodskappers word in Ammon beledig
1’n Ruk later is Nagas, die Ammonitiese koning, dood. Sy seun Ganun het in sy plek koning geword. 2Dawid het besluit om dieselfde vriendskap aan Ganun te bewys as wat Nagas vroeër aan Dawid bewys het. Hy stuur toe boodskappers na Ganun toe om medelye te betoon oor sy pa se dood.
3Toe die boodskappers daar aankom, het die Ammonitiese familiehoofde vir Ganun gevra: “Dink jy nou regtig hulle is hier om Dawid se simpatie te betoon? Die eintlike rede is om die land te kom verken sodat hy dit vir homself kan vat.”
4Ganun het die boodskappers toe gevang, elkeen se baard afgeskeer, hulle klere by die boude kort afgesny en hulle na Dawid toe teruggestuur. 5Dawid het gehoor wat met hulle gebeur het. Hulle was te skaam om in die openbaar te verskyn en hy het vir hulle laat weet: “Bly in Jerigo totdat julle baarde weer uitgegroei het. Dan kan julle terugkom.”
Die eerste Ammonitiese veldtog
6Die Ammoniete het besef dat hulle Dawid kwaad gemaak het. Koning Ganun en die Ammoniete het omtrent 34 ton silwer gestuur om strydwaens en bemanning by die Arameërs van Mesopotamië en Maäka asook by Soba te huur. 7Hulle het 32 000 strydwaens gehuur en die steun van die koning van Maäka gewerf. Hy het met sy soldate buite Medeba kamp opgeslaan, terwyl die Ammoniete uit hulle dorpe saamgetrek het om reg te maak vir die oorlog.
8Toe Dawid dit hoor, het hy Joab met sy leër van helde gestuur om te gaan veg. 9Die Ammoniete het by die stadspoort gereed gestaan en die ander konings het hulle magte buite in die veld opgestel. 10Joab het besef dat hy nou aan twee fronte sou moes veg. Hy het toe die beste vegters uitgesoek en hulle teenoor die Arameërs opgestel. 11Die res het hy onder bevel van sy broer Abisai geplaas. Hulle moes teen die Ammoniete veg. 12Hy het vir Abisai gesê: “As die Arameërs te sterk is vir my, moet jy my kom help. As die Ammoniete te sterk is vir jou, sal ek jou kom help. 13Veg dapper! Laat ons dapper wees om ons volk en die stede van ons God te kan beskerm. En mag die Here se wil geskied!”
14Joab en sy manne het die Arameërs aangeval. Die Arameërs het geswig en gevlug. 15Toe die Ammoniete dit sien, het hulle ook voor sy broer Abisa gevlug en in die stad gaan wegkruip. Joab het toe na Jerusalem teruggegaan.
Oorwinning oor die Arameërs
16Die Arameërs het besef dat Israel hulle verslaan het. Hulle het toe dringend versterkings aangevra. Sobak, die bevelvoerder van Hadad-Eser se leër, het dadelik met soldate van oorkant die Eufraatrivier af kom help.
17Dawid het dit gehoor en die hele Israel vir oorlog opgeroep. Hulle het deur die Jordaanrivier getrek en die Aramese leër daar ontmoet. Dawid het sy soldate vir die geveg opgestel. Toe het die Arameërs aangeval. 18Die Arameërs het nog ’n keer die onderspit gedelf en vir die Israeliete gevlug. Dié keer het Dawid 7 000 strydwaspanne en 40 000 voetsoldate doodgemaak. Die bevelvoerder, Sobak, is ook in die geveg dood.
19Toe Hadad-Eser se mense sien dat Israel hulle verslaan het, het hulle met Dawid vrede gesluit en sy onderdane geword. Die Arameërs het ook nie verder hulp aan die Ammoniete gegee nie.

Currently Selected:

1 Kronieke 19: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy