YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 11

11
Dawid, die koning: Dawid word as koning gesalf
1Die hele Israel het toe na Dawid in Hebron toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Ons is deel van jou familie. 2Vroeër, selfs toe Saul nog koning was, was dit tog maar jy wat Israel gelei het. Die Here jou God het vir jou gesê: ‘Jy moet my volk Israel oppas en hulle lei.’”
3Al die leiers van Israel het toe by Dawid in Hebron bymekaargekom. Hy het daar, in die Here se teenwoordigheid, ’n ooreenkoms met hulle aangegaan. Hulle het hom toe as koning van Israel gesalf.
Dit was net soos die Here deur Samuel gesê het dit sou wees.
Jerusalem word ingeneem
4Dawid en al die Israeliete het toe na Jerusalem, wat toe nog Jebus genoem is, gegaan. Die Jebusiete het destyds daar rond gewoon. 5Hulle het vir Dawid gesê: “Jy sal nie in Jebus inkom nie!” Maar Dawid-hulle het die bergvesting Sion ingeneem, dit is nou die Stad van Dawid.
6Dawid het vooraf gesê: “Ek maak die een wat eerste ’n Jebusiet doodmaak, die bevelvoerder van my leërs!” Joab, wat Seruja se seun was, het die aanval gelei en só die bevelvoerder van Dawid se leërs geword.
7Dawid het toe in die bergvesting gaan bly. Dit is waarom hulle dit die Stad van Dawid noem. 8Hy het die stad van die Millo af reg rondom opgebou, terwyl Joab die res van Jerusalem herbou het. 9Dawid het al hoe sterker geword, want die Here, die Groot Bevelvoerder, was by hom.
Dawid se magtigste manne
10Hier is iets meer oor die leiers van Dawid se dapper helde. Hulle het saam met die hele Israel besluit om Dawid Israel se koning te maak, volgens die Here se belofte. 11Hier is ’n lys van Dawid se magtige manne.
Jasobam, Gakmoni se seun, was die leier van die Drietal. Hy het eenkeer 300 man in een veldslag met sy spies doodgemaak.
12Eleasar, Dodo se seun, wat uit Agoag kom, is volgende. Hy was ook een van die Drietal. 13Hy was saam met Dawid by Pas-Dammim om teen die Filistyne te veg. Die geveg het in ’n garsland plaasgevind en die Israeliete het gevlug. 14Eleasar-hulle het egter in die garsland stelling ingeneem en die Filistyne teruggedryf. Die Here het hulle gered en vir hulle ’n groot oorwinning gegee.
15Op ’n keer was Dawid by die rots naby die Adullamgrot, terwyl die Filistyne in die Refaimvallei kamp opgeslaan het. Drie lede van die Dertigtal het na Dawid toe gegaan. 16Dawid was toe in sy vesting en die Filistyne het Betlehem op daardie stadium beset. 17Dawid het verlangend gesê: “Ek wens iemand wou nou vir my ’n bietjie water uit die put by Betlehem se poort gaan haal!”
18Die drie manne het dadelik deur die Filistyne se linies gebreek. Hulle het water uit die put by Betlehem se poort gaan skep en dit vir Dawid teruggebring. Hy was egter nie bereid om dit te drink nie en het dit as ’n offer vir die Here op die grond uitgegooi. 19Hy het gesê: “Mag God my daarvan bewaar dat ek so iets sou doen! Die water is so goed as dié manne se bloed, hoe kan ek dit drink? Hulle het hulle lewe in gevaar gestel om die water vir my te bring.” Daarom het hy dit nie gedrink nie.
Dit is die soort ding wat dié drie helde gedoen het.
20Abisai, Joab se broer, was die leier van die Dertigtal. Hy het met sy spies 300 man doodgemaak en vir homself naam gemaak onder die soldate. 21Hy was die beroemdste van die Dertigtal en was hulle aanvoerder, al was hy nie een van die Drietal nie.
22Benaja, Jojada se seun, het van Kabseël af gekom. Hy was dapper en ’n man van die daad. Hy het eenkeer twee van Moab se dapperste vegters doodgemaak. ’n Ander keer het hy op ’n dag wat dit gesneeu het, in ’n put afgeklim en die leeu doodgemaak wat daarin was. 23Op ’n ander keer het hy ’n Egiptenaar doodgemaak wat twee en ’n kwart meter lank was. Die Egiptenaar se spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel. Benaja het net ’n stok by hom gehad, maar hy het die Egiptenaar se spies uit sy hand geruk en hom met sy eie spies doodgemaak. 24Dít is die tipe dinge wat Benaja gedoen het en waarmee hy so beroemd soos die Drietal geword het. 25Hy is hoër geag as die res van die Dertigtal, maar was nie een van die Drietal nie. Dawid het hom in bevel van sy lyfwag geplaas.
26Die dapper helde was verder: Asael, Joab se broer; Elganan, Dodo se seun uit Betlehem; 27Samma uit Garod; Geles uit Pelet; 28Ira, Ikkes se seun uit Tekoa; Abiëser uit Anatot; 29Sibbekai uit Gusa; Ilai uit Agoag; 30Marai uit Netofa; Geled, Baäna se seun uit Netofa; 31Ittai, Ribai se seun uit Gibea in Benjamin; Benaja uit Piraton; 32Hiddai uit Nagale-Gaäs; Abi-Albon uit Bet-Araba; 33Asmawet uit Bagurim; Eljagba uit Saälbon; 34die seuns van Jasen uit Gison; Jonatan, Sage se seun uit Harar; 35Agiam, Sarar se seun uit Harar; Elifal, Ur se seun; 36Gefer uit Mekera; Agija uit Pelon; 37Gesro uit Karmel; Naärai, Esbai se seun; 38Joël, Natan se broer; Mibgar, Hagri se seun; 39Selek die Ammoniet; Nagrai uit Beërot, die wapendraer van Joab, Seruja se seun; 40Ira uit Jeter; Gareb uit Jeter; 41Urija die Hetiet; Sabad, Aglai se seun; 42Adina, Sisa se seun, ’n leier uit die Rubenfamilie wat 30 man by hom gehad het; 43Ganan, Maäka se seun; Josafat die Mitneër; 44Ussia uit Astarot; Sama en Jeïel, seuns van Gotam uit Aroër; 45Jediael, Simri se seun; Joga, sy broer uit Tis; 46Eliël uit Magawi; Jeribai en Josauja, Elnaäm se seuns; Jitma die Moabiet; 47Eliël, Obed en Jaäsiël uit Soba.

Currently Selected:

1 Kronieke 11: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy