Parallel
4
Party verdraai die goeie nuus
1Die Heilige Gees het baie duidelik gesê dat in die tyd voor die Here weer kom party mense niks meer met geloof te doen sal wil hê nie.
Hulle sal eerder agter geeste aanhardloop wat hulle op verkeerde paaie lei en sal gretig luister na wat demone vir hulle vertel. Dit sal gebeur wanneer hulle hulle ore uitleen aan mense wat kamma goed is, maar eintlik almal kul en vir almal lieg.
2Hierdie mense sal nie eens omgee om hulle op allerhande verkeerde paaie te lei nie, want hulle het geen gewete meer oor nie. Hulle sal nie eens sleg voel oor al die godsdienstige onsin wat hulle verkoop nie. 3Dink net, hulle sê mense mag nie trou nie en vertel vir hulle dat hulle sekere kos nie mag eet nie. Wat hulle vergeet, is dat God alles gemaak het, ook die kos. 4Ons wat op God vertrou en weet wat waar is en wat nie, eet daardie selfde kos sonder enige probleme, want God het dit mos gemaak. Om die waarheid te sê, ons sê ook nog vir Hom dankie daarvoor. En dit is reg so, want alles wat God gemaak het, is goed. ’n Mens hoef nie jou neus op te trek vir enigiets as jy vir God daarvoor dankie sê nie. God self het vir ons gesê dat alles wat gemaak is Syne is. 5Deur gebed sê ons vir Hom dat ons Hom erken as die Een wat alles gemaak het.
Lewe voluit op die regte pad
6Jy sal doen wat Christus Jesus van jou as sy werker vra as jy die mense van hierdie gevare vertel. Die boodskap waarin jy glo, moet jou sterk maak. Jy het mos die Christelike leer aanvaar. 7Juis daarom moet jy jou nie steur aan al die stories wat mense uitdink en wat eintlik niks met God te doen het nie.
Sorg jy liewer dat jy God reg dien. 8Jy moet oefen om dit te doen soos ’n atleet oefen om fiks te bly. ’n Atleet wat oefen om fiks te bly doen goed, maar dit help nie vir alles nie. Om egter geestelik te oefen om fiks te bly deur God te dien, is regtig die moeite werd. Dit help ’n mens op alle maniere, vir die lewe hier op aarde én die lewe wat vir ons wag in die toekoms.
9Hierna kan julle maar luister, want dit is die absolute waarheid.
10Hiervoor probeer ons ons uiterste bes en ons werk hard daarvoor. Ons weet mos dat die lewende God alles wat Hy beloof het, sal doen. Hy is die Een wat almal red, veral dié wat op Christus vertrou.
Leer ander gelowiges waaroor
die goeie nuus regtig gaan
11Jy moet vir mense hierdie dinge leer en vir hulle sê om dit te doen. 12Moenie dat mense op jou neersien omdat jy so jonk is nie. Neem liewer die leiding onder hulle en wys vir hulle hoe ’n Christen moet praat en wat ’n Christen moet doen. Ja, wys vir hulle hoe ’n Christen moet liefhê en op God en Christus moet vertrou, en hoe skoon ’n Christen se lewe moet wees.
13Hou aan om vir mense uit die Skrif voor te lees en praat met hulle daaroor sodat hulle ook meer van God se boodskap kan verstaan. 14Moenie ophou of vergeet om die gawe te gebruik wat God jou so onverdiend gegee het nie. Dit is die gawe wat God jou gegee het toe die leiers in die gemeente hulle hande op jou gesit het omdat God mense gelei het om sulke mooi dinge oor jou te voorspel. 15Probeer jou bes en doen jou deel so goed jy kan sodat almal kan sien hoe jy as Christen ryper word. 16Maak doodseker dat jy reg lewe en ander so leer. Moenie ’n duim van hierdie pad afwyk nie. As jy op hierdie pad bly, sal nie net jy by God uitkom nie, maar ook almal wat luister na wat jy vir hulle sê.