YouVersion Logo
Search Icon

1 Timoteus 1:8-17

1 Timoteus 1:8-17 DB

God se wet is goed, dit weet ons. ’n Mens moet dit net reg gebruik. Die wet is eintlik nie bedoel vir mense wat leef soos God dit van hulle verwag nie. Dit is vir die ander mense bedoel. Ek praat van mense wat niks omgee vir God se wet of enige reëls nie; hulle steur hulle nie aan God nie en lê in die sonde rond; hulle maak die dinge van God belaglik; hulle het so min respek vir hulle ouers dat hulle niks daarvan dink om hulle dood te maak nie, wat nog te sê van ander mense. Die wet is daar vir mense wat hulle nie aan die reëls van die huwelik steur nie en allerhande perverse seksuele dinge doen. Dit geld ook vir mense wat nie respek vir ander mense het nie en hulle ontvoer of verkoop vir geld. Die wet is ook bedoel vir leuenaars wie se woord nie hulle eer is nie of vir mense wat nie meer doen wat hulle as Christene geleer is om te doen nie. Wat het hulle geleer? Hulle het die wonderlike boodskap geleer wat ek vir ander moes vertel. Dit gaan oor hoe groot en goed God is. Ek is Christus Jesus baie dankbaar dat Hy my vertrou en my gevra het om hierdie werk vir Hom te doen. Hy gee my ook die krag om dit te kan doen. Hy het my die werk gegee om te doen al het ek vroeër lelike dinge oor Hom gesê, sy volgelinge in die moeilikheid probeer bring en hulle selfs met geweld seergemaak. Maar God het my jammer gekry omdat ek nie geweet het wat ek doen nie, want ek het nog nie in God geglo nie. Die Here het my toe eenvoudig oorweldig met sy goedheid. By Hom het ek geleer om op Hom te vertrou en om ander lief te hê soos Hy my liefhet. Luister hierna, want niemand kan hieroor stry nie: Jesus Christus het na die wêreld toe gekom om mense wat verkeerd lewe, te help om weer God se vriende te word; ek weet, want as dit by ’n slegte lewe kom, het ek voor in die ry gestaan. Juis daarom was Jesus so goed vir my. Slegter as wat ek was, kan niemand wees nie, maar so het Jesus duidelik gewys dat Hy nie moed verloor met selfs die slegstes onder ons nie. Ons moet dit onthou as voorbeeld vir almal wat Jesus nog gaan teëkom en wat dan vir ewig saam met God gaan lewe omdat hulle op Jesus vertrou. Laat ons nooit ophou om die enigste God groot te maak en vir almal te vertel hoe wonderlik Hy is nie. Hy is ons Heerser vir altyd; niemand kan Hom sien nie en Hy gaan ook nie dood nie. So is dit en so sal dit bly.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy