1 Korintiërs 14
DB
14
Die Gees van God gee baie gawes aan die gemeente
1Gee alles om hierdie liefde in julle lewe te hê. Maar moenie van die spesiale geskenke vergeet wat die Gees vir julle gee nie. Gee jouself ook daarvoor, veral om God se boodskap vir die gemeente te bring. 2Ek weet daar is van julle wat baie daarvan dink om in “spesiale tale” te praat. Maar as iemand so praat, verstaan mense hom nie. God verstaan hom wel, want hy praat mos met God. Wat hy egter vir God sê, is vir mense net naklanke. Wat hy mos so onder die invloed van die Gees sê, is intieme dinge net tussen hom en God wat ander nie verstaan nie. 3Vergelyk dit nou met iemand wat in verstaanbare taal met mense oor die boodskap van God gesels. Mense verstaan dit en dit maak hulle geestelik baie sterker. Hulle skep moed vir wat voorlê en voel baie meer gerus. 4Maar as iemand in ’n “spesiale taal” in die gemeente praat, beteken dit eintlik net vir homself iets. As iemand God se boodskap vir die gemeente vertel, beteken dit vir die hele gemeente iets. Dit is nou nie dat ek sê julle moenie in spesiale tale praat nie. 5Ek gun dit vir elkeen. Wat ek wel sê, is dat julle eerder in die gemeente moet konsentreer op die bring van God se boodskap. In die gemeente is dit meer werd om die boodskap van God te bring as om in spesiale tale te praat, tensy daar iemand in die gemeente is wat kan verduidelik wat met die spesiale tale gesê word. So sal dit vir die gemeente iets kan beteken.
Praat liewer so oor God dat almal kan verstaan
6My liewe, goeie vriende, stel julle nou voor dat ek daar by julle aankom en net in spesiale tale praat wat nie een van julle verstaan nie. Sal dit julle baie help? Ons almal weet dit sal nie. Wat wel vir julle baie kan beteken, is as ek met julle oor dinge gesels wat julle verstaan: dit kan dinge wees wat God spesiaal vir my gewys het, of raad oor hoe julle in moeilike situasies moet optree; of ons kan sommer maar net lekker sit en gesels oor wat God se boodskap vir ’n spesifieke situasie is, of ek kan julle miskien meer van Jesus leer.
7Dit is baie soos iemand wat sommer net op ’n fluit of ’n harp blaas. As hy nie mooi note speel nie, maar net ’n deurmekaar klomp geraas maak, sal niemand hulle daaraan steur nie. 8As ’n radio nie op ’n stasie gestel is nie en net ’n gekrap maak, sal jy mos nie kan verstaan wat daar oor die radio gesê word nie. 9Net so gaan dit in die gemeente. As jy ’n klomp geluide maak wat niemand verstaan nie, hoe sal enigiemand weet wat jy besig is om te sê? Vir die mense rondom jou is jy dan nie beter as daardie fluit of harp wat net ’n klomp geraas maak nie. 10Ek weet dat daar honderde verskillende tale in die wêreld gepraat word. Elkeen van hierdie tale het ook sin as ’n mens dit net kan verstaan. 11As ek egter nie die taal verstaan nie, weet ek ook nie wat die ander een wil sê nie. Daar is niks met die taal verkeerd nie, maar ek kan dit net nie verstaan nie. Die persoon kan praat en verduidelik tot hy blou word in die gesig, maar ons sal nie by mekaar uitkom nie. 12Dis presies wat in die gemeente gebeur as iemand in ’n spesiale taal praat wat niemand anders verstaan nie. Ek weet die spesiale geestelike geskenke wat God vir julle gee, is vir julle belangrik. Wees daarom opgewonde oor daardie geestelike geskenke wat vir ander ook iets beteken en die gemeente sterker kan maak.
13Iemand wat dan so ’n spesiale taal van die Gees gekry het om te praat, moet God vra om hom ook te help om te verstaan wat hy besig is om te sê. Ek het al baie ervaring daarvan. 14As ek in so ’n spesiale taal in gebed met God praat, is my gees nou betrokke, maar my verstand is afgeskakel - ek weet nie wat om te dink oor dit wat ek besig is om te sê nie, want ek verstaan nie wat gesê word nie. 15Hoe moet dit dan nou presies wees? Eintlik is die ideaal dat jy as mens heeltemal betrokke is, gees en verstand saam. As jy bid, moet jou gees bid, maar jy moet ook verstaan wat jy bid. As jy God loof deur te sing, moet dit uit jou gees borrel, maar so dat jy ook presies weet wat jy besig is om te sing. 16Dit is belangrik. Sê nou maar jy is daar in jou gees besig om allerhande mooi dinge van God te sê, hoe kan iemand wat niks verstaan wat jy sê nie saam met jou bid? Hoe kan hy die Here vra om dit wat jy besig is om te sê waar te laat word, as hy nie eens weet wat jy sê nie? 17Jy kan miskien voel dat wat jy in die gemeente doen, goed is en dat die Here ook daarvan hou, maar die mense wat saam met jou in die kerk sit, het niks daarvan nie. Vir hulle beteken dit net mooi niks.
18Ek sê vir God dankie dat ek meer in spesiale tale met Hom praat as julle almal saam. Ek is daarom nie teen die praat van spesiale tale nie. 19Maar as ’n mens darem in die kerk kom, verkies ek om liewer net vyf woorde te sê wat mense kan verstaan en wat iets vir hulle kan beteken as om die hele aand daar op my eie te staan en spesiale tale te praat.
As iemand God se boodskap
verstaan, kan dit hom diep tref
20Liewe broers en susters, moet nou nie soos balhorige kinders wees wat nie na goeie raad wil luister nie. Druk wel julle ore toe as mense vir julle sê dat julle verkeerde dinge moet doen. Maar as dit by goeie dinge kom, spits julle ore en luister soos grootmense wat rede verstaan. 21Daar staan mos in die boek waarin ons van die wil van God leer, geskryf:
“Mense sal kom met tale wat ons nog nooit gehoor het nie, vreemde mense sal met ons kom praat. Deur hierdie mense sal God met die volk praat, maar al doen God dit, sal hulle nog steeds nie luister na wat God sê nie.”
22Om so in spesiale tale te praat is in hierdie sin ’n bewys van God se krag vir mense wat nie glo nie, en nie vir Christene nie. Om die boodskap van God vir mense te verduidelik is weer bedoel vir Christene en nie vir ongelowiges nie. 23Kom ons wees realisties: sê nou die hele gemeente is bymekaar en almal praat tegelyk in spesiale tale. Dan kom daar iemand ingestap wat nie in Jesus glo nie en niks verstaan wat in die kerk aangaan nie. Wat dink julle sal hy sê? Wel, ek dink hy sal sê dit lyk vir hom na ’n groot deurmekaarspul.
24Maar sê nou dieselfde ongelowige persoon wat niks van die Christendom verstaan nie, kom in terwyl julle op ’n verstaanbare manier met mekaar oor die boodskap en wil van God praat, wat sal dan gebeur? Sal hy nie dalk luister en diep getref word nie? Sal hy nie besef dat hy op die verkeerde pad is en dat God so ontevrede met hom is dat God hom gaan straf nie? 25Dit sal vir hom wees of alles hier diep binne-in hom wat hy voorheen nie verstaan of selfs van geweet het nie, skielik opborrel en vir hom glashelder word. Hy sal net daar op sy knieë neersak en God se Naam grootmaak. Hy sal openlik sê: “God is regtig hier by en tussen julle.”
’n Gemeentebyeenkoms moet nie
op ’n deurmekaarspul uitloop nie
26Wat moet dan nou gebeur as julle bymekaarkom? Wel, dit kan gebeur dat elkeen iets het om te doen. Die een wil ’n lied vir God sing, die ander een wil vertel wat hy van Jesus geleer het, ’n ander een het weer iets wat die Here hom spesiaal gewys het. Daar is miskien ook iemand wat in ’n spesiale taal wil praat of wat wil verduidelik wat met die spesiale taal gesê word. Onthou net, elke dingetjie wat gedoen word as die gemeente so saam is, moet krag in die gemeente inblaas. Die hele gemeente moet daardeur sterker gemaak word.
27Met ander woorde, as iemand in ’n spesiale taal praat, moet dit nie oordryf word nie. Net twee, of op die meeste drie, moet ’n kans kry, en nie almal gelyk nie. Elke keer moet daar iemand wees wat aan die ander kan verduidelik wat die persoon besig is om te sê. 28As daar nie iemand in die gemeente is wat die spesiale taal verstaan en kan verduidelik wat gesê word nie, moet die een stilbly wat in die spesiale taal wil praat. Hy moet dit maar tussen God en hom hou waar hy alleen is.
29Twee of drie mense aan wie God sy boodskap gegee het, moet aan die gemeente vertel wat God sê. Die res van die gemeente moet goed luister en versigtig opweeg wat gesê word. 30As die Here egter ’n spesiale boodskap vir iemand gee wat in die gemeente sit en luister, moet die een wat aan die praat is, eers stilbly. 31Almal vir wie die Here ’n boodskap gegee het om aan die gemeente te gee, moet ’n kans kry om dit te doen. So sal die hele gemeente van hulle kan leer en moed kan skep. 32Iemand wat iets van die Here af gekry het om te sê, moet sy kans afwag om dit te sê. God hou nie van ’n deurmekaarspul nie. 33Hy hou daarvan as dinge mooi en op hulle plek gebeur. Sorg dat dit in die gemeente so gaan.
Luister na wat die Here sê
Nou wil ek met julle praat oor iets wat oral in die gemeentes gebeur. 34Vroue moet nie praat in gemeentebyeenkomste nie. Die wet van die Here gee vir ons riglyne wat hierdie dinge betref. Daar lees ’n mens dat vroue nie in die byeenkoms moet praat nie, maar dat hulle die gesag van die man daar moet erken. 35Dit is ons gebruik dat elkeen haar man by die huis moet gaan vra as sy iets wil weet. Dit is nie mooi dat die vrou dit sommer in die kerk vir haar man vra en so die erediens deurmekaarkrap nie. Is daar miskien party van julle wat voel dat julle dit nie wil doen nie? 36Dan moet julle julle afvra: Is die woord van God miskien deur julle geskryf sodat julle daaraan kan verander soos julle wil, of is dit God wat deur daardie woord met julle praat? 37’n Persoon wat rondvertel dat hy God se boodskap vir ander kan vertel of dat die Heilige Gees hom lei, behoort ook dadelik te weet dat wat ek hier sê, is hoe die Here wil hê ons moet maak. 38As hy hom nie daaraan steur nie en maak of dit nie waar is nie, sal God hom ook nie kan gebruik nie. 39Laat ek saamvat: doen alles wat julle kan om vir mense van God se dinge te vertel.
As daar ander is wat in spesiale tale wil praat, moet julle nie in hulle pad staan nie. 40Wat julle ook al doen, moet julle met smaak doen sodat alles nie in ’n deurmekaarspul ontaard nie.

2002. Gebruik met toestemming van Christelike Uitgewersmaatskappy,Posbus 1599, Vereeniging, 1930. Alle regte voorbehou.

Learn more about Die Boodskap