YouVersion Logo
Search Icon

SPREUKE 17

17
1 BETER is 'n stuk droë brood en rus daarby as 'n huis vol offermaaltye met getwis.
2'n Verstandige dienaar sal heers oor 'n seun wat skande maak, en onder die broers sal hy die erfenis verdeel.
3 Die smeltkroes is vir die silwer en die oond vir die goud, maar die Here toets die harte.
4Die kwaaddoener gee ag op 'n bedrieglike lip, 'n leuenaar luister na 'n tong wat onheil stig.
5Hy wat die arme bespot, versmaad sy Maker; hy wat bly is oor 'n ongeluk, sal nie ongestraf bly nie.
6 Kindskinders is 'n kroon vir grysaards, en vir die kinders is hulle vader 'n eer.
7Aanmatigende taal pas nie by 'n dwaas nie, hoeveel minder leuentaal by 'n edele!
8Kosbare edelgesteentes is die omkoopgeskenk in die oë van sy besitter; oral waar hy heengaan, sal hy slaag.
9Wie 'n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat 'n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar.
10'n Berisping gaan by 'n verstandige dieper in as om 'n dwaas honderd maal te slaan.
11Die wederstrewige soek net onheil, maar 'n wrede boodskapper word teen hom uitgestuur.
12 Laat 'n beer wat van kleintjies beroof is, 'n mens ontmoet, maar nie 'n dwaas in sy sotheid nie.
13 Hy wat kwaad vir goed vergelde, die kwaad sal uit sy huis nie wyk nie.
14Die begin van 'n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek.
15Hy wat die goddelose regverdig verklaar en die regverdige skuldig verklaar, hulle altwee is vir die Here 'n gruwel.
16Waarom tog is daar geld in die hand van 'n dwaas om wysheid te koop terwyl hy geen verstand het nie?
17 Die vriend het altyd lief, en die broer word gebore met die oog op die nood.
18Dit is 'n verstandelose mens wat handslag gee, wat borg staan vir sy naaste.
19Wie twis liefhet, het oortreding lief; hy wat sy deur hoog maak, soek verbreking.
20Wie verkeerd van hart is, vind die goeie nie; en hy wat vals is met sy tong, val in die ongeluk.
21 Hy wat 'n dwaas verwek, vir hom sal dit 'n bekommernis word; en die vader van die dwaas sal nie bly wees nie.
22 'n Vrolike hart bevorder die genesing, maar 'n verslae gees laat die gebeente uitdroog.
23Die goddelose neem 'n omkoopgeskenk aan wat uit die boesem kom om die paaie van die reg te buig.
24Die verstandige hou die wysheid voor oë, maar die oë van die dwaas is by die einde van die aarde.
25'n Dwase seun is 'n verdriet vir sy vader en bitter smart vir haar wat hom gebaar het.
26Is dit alreeds nie goed om die regverdige te beboet nie — om edeles te slaan is onbetaamlik.
27Wie sy woorde inhou, besit kennis; en hy wat kalm is van gees, is 'n man van verstand.
28Selfs 'n sot sal as hy swyg, vir wys gereken word; as hy sy lippe toehou, vir verstandig.

Currently Selected:

SPREUKE 17: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy