YouVersion Logo
Search Icon

MIGA 7

7
Die verdorwenheid van Sion en 'n gebed om die tussenkoms van die Here.
1WEE my, want ek het geword soos ná die insameling van somervrugte, soos die natrossies van die wynoes: geen tros om te eet nie, my siel begeer vroeë vye.
2 Die vrome het verdwyn uit die land, en daar is geen opregte meer onder die mense nie; hulle loer almal op bloed; hulle jaag elkeen sy broer met die net.
3Na die kwaad gaan die hande uit, om dit dapper te doen. Die vors eis, en die regter vra betaling, en die groot man spreek die begeerte van sy siel uit, en hulle verdraai dit alles.
4Die beste van hulle is soos 'n doringstruik, die mees opregte erger as 'n doringheining. Die dag van jou wagte, jou besoeking, kom; nou sal hulle verwarring daar wees.
5 Vertrou geen metgesel nie, maak op geen vriend staat nie, let op die poorte van jou mond teenoor haar wat in jou skoot lê.
6Want die seun minag die vader, die dogter staan op teen haar moeder, die skoondogter teen haar skoonmoeder, die man se vyande is sy huisgenote!
7Maar ek sal uitsien na die Here, ek wil wag op die God van my heil, my God sal my hoor.
8Wees nie bly oor my nie, o my vyandin! Al het ek geval, ek staan weer op; al sit ek in duisternis, die Here is 'n lig vir my.
9Die toorn van die Here sal ek dra, want ek het teen Hom gesondig; totdat Hy my saak verdedig en my reg verskaf. Hy sal my uitlei in die lig; ek sal met welgevalle sien hoe Hy geregtigheid oefen.
10Ook sal my vyandin dit sien, en skaamte sal haar bedek wat vir my sê: Waar is die Here, jou God? My oë sal met welgevalle op haar neersien. Nou sal sy vertrap word soos modder van die strate.
11Daar kom 'n dag om jou mure te herbou! In dié dag sal die gebied ruim wees.
12Dit is 'n dag dat hulle na jou sal kom van Assur en die stede van Egipte, en van Egipte tot by die Eufraat, en van see tot see, en van berg tot berg.
13Maar die aarde sal 'n wildernis word vanweë sy inwoners, as gevolg van hulle handelinge.
14Wei u volk met u staf, die kudde wat u erfdeel is, wat afgesonderd woon in 'n bosveld op Karmel; laat hulle wei in Basan en Gílead soos in die ou dae.
15 Soos in die dae van jou uittog uit Egipteland sal Ek hom wonders laat sien.
16Die nasies sal dit sien en skaam wees ondanks al hulle krag: hulle sal die hand op die mond lê, hulle ore sal doof word.
17 Hulle sal stof lek soos die slang, hulle sal soos grondkruipers bewende uit hulle vestings te voorskyn kom, hulle sal sidderende kom na die Here onse God, en hulle sal vir U vrees.
18 Wie is 'n God soos U, wat die ongeregtigheid vergewe en by die oortreding van die oorblyfsel van sy erfdeel verbygaan? Hy hou toorn nie vir ewig vas nie, maar het 'n welbehae in goedertierenheid.
19Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp.
20U sal trou bewys aan Jakob, goedertierenheid aan Abraham, wat U aan ons vaders met 'n eed beloof het sedert die dae van die voortyd.

Currently Selected:

MIGA 7: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy