YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 16

16
Laaste onderwys aan die dissipels (slot). Van die Trooster en van Jesus se wederkoms.
1 HIERDIE dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle nie mag struikel nie.
2Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom 'n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy 'n diens aan God bewys.
3En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie.
4Maar hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat wanneer die uur kom, julle kan onthou dat Ek julle dit gesê het. Maar Ek het julle dit nie van die begin af gesê nie, omdat Ek saam met julle was.
5En nou gaan Ek na Hom wat My gestuur het; en niemand van julle vra My: Waar gaan U heen nie?
6Maar omdat Ek dit vir julle gesê het, het droefheid julle hart vervul.
7Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur;
8en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel:
9 van sonde, omdat hulle in My nie glo nie;
10en van geregtigheid, omdat Ek na my Vader gaan en julle My nie meer sal sien nie;
11en van oordeel, omdat die owerste van hierdie wêreld geoordeel is.
12Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie.
13Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.
14Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.
15 Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.
16'n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan.
17 Sommige van sy dissipels het toe onder mekaar gevra: Wat is dit wat Hy vir ons sê: 'n Klein tydjie, en julle sien My nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien; en: Ek gaan na die Vader?
18Hulle het dan gevra: Wat is dit wat Hy sê: 'n Klein tydjie? Ons weet nie wat Hy sê nie.
19En Jesus het gemerk dat hulle Hom wou vra, en Hy sê vir hulle: Ondervra julle mekaar daaroor dat Ek gesê het: 'n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer 'n klein tydjie, en julle sal My sien?
20Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle sal ween en rou bedryf, maar die wêreld sal bly wees. En julle sal bedroef wees, maar julle droefheid sal in blydskap verander.
21'n Vrou het droefheid wanneer sy baar, omdat haar uur gekom het; maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan haar benoudheid nie, om die blydskap dat 'n mens in die wêreld gebore is.
22Julle het dan ook nou droefheid, maar Ek sal julle weer sien en julle hart sal bly word, en niemand neem julle blydskap van julle weg nie.
23En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.
24Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.
25Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse tot julle gespreek, maar daar kom 'n uur wanneer Ek nie meer deur gelykenisse tot julle sal spreek nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel.
26In daardie dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie;
27want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het.
28 Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader.
29Sy dissipels sê vir Hom: Kyk, nou spreek U ronduit en gebruik geen gelykenis nie.
30Nou weet ons dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U iets vra nie. Daarom glo ons dat U van God uitgegaan het.
31Jesus antwoord hulle: Glo julle nou?
32Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is.
33Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.

Currently Selected:

JOHANNES 16: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy