YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 63

63
Die wraakgerig in Edom.
1WIE is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos.
2 Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap?
3Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het.
4Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom.
5En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun.
6En Ek het volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop.
Boet- en smeekgebed.
7EK sal die goedertierenhede van die Here prys, die roemryke dade van die Here, ooreenkomstig alles wat die Here aan ons bewys het, en die veelvuldige goedheid jeens die huis van Israel wat Hy aan hulle bewys het, na sy barmhartighede en na die grootheid van sy goedertierenhede.
8Want Hy het gesê: Hulle is tog my volk, kinders wat nie sal lieg nie. So het Hy dan vir hulle 'n Heiland geword.
9 In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hý hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.
10 Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in 'n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry.
11Toe het sy volk gedink aan die dae van die ou tyd, van Moses: Waar is Hy wat hulle uit die see laat optrek het saam met die herder van sy kudde? Waar is Hy wat sy Heilige Gees in hulle midde gegee het?
12Wat sy heerlike arm laat trek het aan die regterhand van Moses; wat die waters voor hulle uit gekloof het, om vir Hom 'n ewige Naam te maak?
13Wat hulle deur die watervloede laat trek het soos 'n perd deur die woestyn, sonder om te struikel?
14Soos vee wat aftrek in die laagte, het die Gees van die Here hulle na die rus gelei. Só het U u volk gelei, om vir U 'n heerlike Naam te maak.
15Kyk van die hemel neer en aanskou uit u heilige en heerlike woning! Waar is u ywer en u magtige dade? Die ontroering van u binneste en u barmhartighede het hulle jeens my ingehou.
16 Want U is ons Vader! Want Abraham weet van ons nie, en Israel ken ons nie. U, o Here, is ons Vader; ons Verlosser is van ouds af u Naam.
17 Here, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!
18 U heilige volk het dit vir 'n kort rukkie besit; ons teëstanders het u heiligdom vertrap.
19Ons het geword soos hulle oor wie U nie van ouds af geheers het nie, oor wie u Naam nie uitgeroep is nie.

Currently Selected:

JESAJA 63: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy