YouVersion Logo
Search Icon

GÉNESIS 13

13
Abram en Lot skei van mekaar.
1SO het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom.
2En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud.
3En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai,
4na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die Here aangeroep.
5En Lot, wat saam met Abram getrek het, het ook kleinvee en beeste en tente gehad.
6En die land kon hulle nie dra om saam te woon nie, want hulle besittings was groot, sodat hulle nie saam kon woon nie.
7En daar het twis ontstaan tussen die veewagters van Abram en die veewagters van Lot. Ook het die Kanaäniete en Feresiete destyds in die land gewoon.
8Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers.
9Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan.
10Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die Here Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die Here, soos Egipteland.
11En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei.
12Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan.
13En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die Here.
14En die Here sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste;
15want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid.
16En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.
17Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee.
18Toe het Abram al verder tente opgeslaan en gaan woon by die terpentynbome van Mamre wat by Hebron is; en hy het daar vir die Here 'n altaar gebou.

Currently Selected:

GÉNESIS 13: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy