YouVersion Logo
Search Icon

ESÉGIËL 46

46
1SO sê die Here Here: Die poort van die binneste voorhof wat na die ooste kyk, moet gedurende die ses werkdae gesluit wees; maar op die sabbatdag moet dit oopgemaak word; ook moet dit op die dag van die nuwemaan oopgemaak word.
2En die vors moet deur die voorportaal van die poort van buite af ingaan en by die deurpos van die poort gaan staan, en die priesters moet sy brandoffer en sy dankoffers berei; en hy moet aanbid by die drumpel van die poort en dan uitgaan; maar die poort moet nie gesluit word tot die aand toe nie.
3Ook moet die volk van die land aanbid voor die ingang van dié poort, op die sabbatte en op die nuwemane, voor die aangesig van die Here.
4En die brandoffer wat die vors aan die Here moet bring op die sabbatdag, is ses lammers sonder gebrek en 'n ram sonder gebrek;
5en die spysoffer: 'n efa vir die ram; maar vir die lammers moet die spysoffer wees wat sy hand kan gee; en 'n hin olie vir 'n efa.
6Maar op die dag van die nuwemaan: 'n jong bul sonder gebrek en ses lammers en 'n ram — sonder gebrek moet hulle wees;
7en as spysoffer moet hy gereedmaak: 'n efa vir die bul en 'n efa vir die ram, maar vir die lammers volgens wat hy kan bekostig; en 'n hin olie vir 'n efa.
8En as die vors ingaan, moet hy deur die voorportaal van die poort ingaan en met dieselfde weg weer uitgaan.
9Maar as die volk van die land voor die aangesig van die Here kom op die feestye, moet hy wat deur die noordpoort ingaan om te aanbid, deur die suidpoort uitgaan; en hy wat deur die suidpoort ingaan, moet deur die noordpoort uitgaan; hy mag nie teruggaan deur die poort waardeur hy ingegaan het nie, maar moet reguit vorentoe uitgaan.
10En die vors moet tussen hulle ingaan as hulle ingaan; en as hulle uitgaan, moet hy saam uitgaan.
11Verder moet op die feeste en op die feestye die spysoffer wees: 'n efa vir 'n bul en 'n efa vir 'n ram, maar vir die lammers, wat sy hand kan gee; en 'n hin olie vir 'n efa.
12En as die vors 'n vrywillige offer gereedmaak, 'n brandoffer of dankoffers as vrywillige offer aan die Here, dan moet hulle vir hom die poort oopmaak wat na die ooste kyk; en hy moet sy brandoffer en sy dankoffers berei soos hy op die sabbatdag doen; en as hy uitgaan, moet hulle die poort sluit nadat hy uitgegaan het.
13 Verder moet jy 'n jaaroud lam sonder gebrek daagliks berei as brandoffer aan die Here; elke môre moet jy dit berei.
14En jy moet elke môre daarby as spysoffer gereedmaak: 'n sesde van 'n efa en 'n derde van 'n hin olie om die fynmeel te bevogtig, as spysoffer aan die Here — ewige insettinge, altyddeur.
15So moet hulle dan die lam en die spysoffer en die olie elke môre berei as 'n voortdurende brandoffer.
16So sê die Here Here: As die vors aan een van sy seuns 'n geskenk gee van sy erfdeel, dan moet dit vir sy seuns wees: dit is hulle besitting as erfenis.
17Maar as hy van sy erfdeel 'n geskenk aan een van sy dienaars gee, dan sal dit syne wees tot by die jaar van vrylating; dan moet dit aan die vors terugval; net vir sy seuns moet sy erfdeel wees.
18En die vors mag niks neem van die erfdeel van die volk om hulle uit hul besitting te verdring nie; van sy besitting moet hy aan sy seuns 'n erfdeel gee, sodat my volk nie verstrooi word elkeen uit sy besitting nie.
19Daarop het hy my gebring deur die ingang wat by die symuur van die poort was, na die heilige kamers vir die priesters wat na die noorde kyk; en kyk, daar was 'n plek aan die agterkant, na die weste toe.
20En hy het vir my gesê: Dit is die plek waar die priesters die skuldoffer en die sondoffer moet kook, waar hulle die spysoffer moet bak, dat hulle dit nie uitbring in die buitenste voorhof waardeur hulle die volk sou heilig nie.
21Toe het hy my uitgebring in die buitenste voorhof en my verder gelei na die vier hoeke van die voorhof; en kyk, in elke hoek van die voorhof was daar nog 'n voorhof.
22In die vier hoeke van die voorhof was daar afgeslote voorhowe, veertig el die lengte en dertig die breedte; al vier die hoekruimtes het dieselfde afmeting gehad.
23En daar was 'n ringmuur in hulle rondom, om al vier, en daar is kookplekke gemaak onderaan die ringmure rondom.
24En hy het vir my gesê: Dit is die kookhuis waar die dienaars van die huis die slagoffer van die volk moet kook.

Currently Selected:

ESÉGIËL 46: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy