YouVersion Logo
Search Icon

ESÉGIËL 40

40
Die nuwe tempel. Die voorhowe met die poorte.
1IN die vyf-en-twintigste jaar van ons ballingskap, in die begin van die jaar, op die tiende van die eerste maand, in die veertiende jaar nadat die stad ingeneem is, op daardie selfde dag, was die hand van die Here op my, en Hy het my daarheen gebring.
2 In gesigte van God het Hy my in die land van Israel gebring en my neergesit op 'n baie hoë berg, en daarop iets wat soos 'n stad gebou was, teen die suide.
3En Hy het my daarheen gebring; en kyk, daar was 'n man wat in sy voorkoms soos koper gelyk het; en in sy hand was 'n linnetou en 'n meetroede; en hy het by die poort gestaan.
4En die man het met my gespreek: Mensekind, kyk met jou oë en hoor met jou ore en gee ag op alles wat ek jou sal laat sien; want om jou dit te laat sien, is jy hierheen gebring. Verkondig aan die huis van Israel alles wat jy sien.
5En kyk, daar was 'n muur aan die buitekant van die huis al rondom, en in die man se hand was die meetroede van ses el (elkeen was 'n el en 'n handbreedte); en hy het die dikte van die bouwerk gemeet: een roede, en die hoogte: een roede.
6Toe het hy gekom by 'n poort waarvan die voorkant na die ooste lê, en hy het met sy trappe opgegaan en die drumpel van die poort gemeet: een roede die breedte, en die ander drumpel: een roede die breedte.
7En elke sykamer: een roede die lengte en een roede die breedte; en tussen die sykamers: vyf el; en die drumpel van die poort langs die voorportaal van die poort aan die binnekant: een roede.
8Ook het hy die voorportaal van die poort aan die binnekant gemeet: een roede.
9Toe het hy die voorportaal van die poort gemeet: agt el, en sy deurposte: twee el; die voorportaal van die poort was aan die binnekant.
10En die sykamers van die poort na die ooste was drie aan die een en drie aan die ander kant; al drie het dieselfde afmeting gehad; ook het die deurposte aan weerskante dieselfde afmeting gehad.
11Verder het hy die wydte van die poortingang gemeet: tien el; die lengte van die poort: dertien el.
12En daar was 'n afskorting voor die sykamers van een el aan die een kant, en 'n afskorting van een el aan die ander kant; en elke kamer was ses el aan die een, en ses el aan die ander kant.
13Toe het hy die poort gemeet van die dak van die een sykamer af na die dak van die ander toe: die breedte was vyf-en-twintig el, deur teenoor deur.
14Ook het hy die deurposte gemaak; sestig el; en die voorhof, al rondom die poort, het gekom tot by die deurposte.
15En van die voorkant van die ingangspoort af tot by die voorkant van die voorportaal van die binneste poort: vyftig el.
16En daar was vensters van latwerk in die sykamers ingebou en in hulle deurposte, na binne toe in die poort al rondom; so ook in die voorportale; ja, vensters was al rondom na binne toe, en op die deurposte was palmbome.
17Verder het hy my in die buitenste voorhof gebring, en kyk, daar was kamers, en rondom die voorhof was 'n plaveisel gemaak; dertig kamers was op die plaveisel.
18En die plaveisel was aan die sykant van die poorte, ooreenkomstig die lengte van die poorte; dit was die onderste plaveisel.
19Toe het hy die breedte gemeet van die voorkant van die onderste poort af tot by die buitenste voorkant van die binneste voorhof: honderd el, aan die ooste- en aan die noordekant.
20Aangaande die poort wat na die noorde lê, by die buitenste voorhof — hy het sy lengte en sy breedte gemeet.
21En sy sykamers was drie aan die een en drie aan die ander kant; en sy deurposte en sy voorportaal het dieselfde afmeting gehad as by die eerste poort: vyftig el sy lengte en die breedte vyf-en-twintig el.
22En sy vensters en sy voorportaal en sy palmbome het dieselfde afmeting gehad as by die poort waarvan die voorkant na die ooste lê: en 'n mens kon daarin opklim met sewe trappe; en sy voorportaal was daarvoor.
23En daar was 'n poort na die binneste voorhof teenoor die poort na die noorde en na die ooste; en hy het gemeet van poort tot poort: honderd el.
24Daarop het hy my na die suide laat gaan; en kyk, daar was 'n poort na die suide; en hy het sy deurposte en sy voorportaal gemeet volgens die vorige afmetinge.
25En dit het vensters gehad, ook sy voorportaal, al rondom soos die vorige vensters; die lengte was vyftig el en die breedte vyf-en-twintig el.
26 En sy trap het sewe trappies gehad, en sy voorportaal was daarvoor; en dit het palmbome gehad, een aan die een en een aan die ander kant, op sy deurposte.
27Ook was daar 'n poort na die binneste voorhof na die suide; en hy het van poort tot poort gemeet, na die suide: honderd el.
28Verder het hy my deur die suidpoort gebring na die binneste voorhof; en hy het die suidpoort gemeet: dit het dieselfde afmetinge gehad.
29En sy sykamers en sy deurposte en sy voorportaal was volgens dié mate; en dit het vensters gehad, ook sy voorportaal, al rondom; die lengte was vyftig el en die breedte vyf-en-twintig el.
30En daar was voorportale al rondom; die lengte was vyf-en-twintig el en die breedte vyf el.
31En sy voorportaal het na die buitenste voorhof gelê; ook was daar palmbome op sy deurposte, en sy trap het agt trappies gehad.
32Daarop het hy my na die binneste voorhof gebring, na die ooste; en hy het die poort gemeet: dit het dieselfde afmetinge gehad.
33Ook sy sykamers en sy deurposte en sy voorportaal volgens die vorige afmetinge; en dit het vensters gehad, ook sy voorportaal, al rondom; die lengte was vyftig el en die breedte vyf-en-twintig el.
34En sy voorportaal het na die buitenste voorhof gelê; ook was daar palmbome op sy deurposte aan weerskante; en sy trap het agt trappies gehad.
35Daarop het hy my na die noordpoort gebring; en hy het gemeet volgens die vorige afmetinge:
36sy sykamers, sy deurposte en sy voorportaal; ook het dit vensters gehad al rondom; die lengte was vyftig el en die breedte vyf-en-twintig el.
37En sy voorportaal was na die buitenste voorhof toe; ook was daar palmbome op sy deurposte aan weerskante; en sy trap het agt trappies gehad.
38En 'n kamer met sy ingang was by die deurposte by die poorte; daar het hulle die brandoffer afgespoel.
39En in die voorportaal van die poort was twee tafels aan die een en twee tafels aan die ander kant om daarop die brandoffer en die sondoffer en die skuldoffer te slag.
40En aan die buitenste symuur, noord van wie na die ingang van die poort opgaan, was twee tafels; en aan die ander symuur wat by die voorportaal van die poort was, twee tafels:
41vier tafels aan die een en vier tafels aan die ander kant, by die symuur van die poort: agt tafels waar hulle op geslag het.
42En daar was vier tafels vir die brandoffer, van gekapte klippe, die lengte anderhalf el, en die breedte anderhalf el, en die hoogte een el — daarop het hulle die gereedskap neergesit waarmee hulle die brandoffer en die slagoffer geslag het.
43En die gaffelvormige hake van 'n handbreedte was aan die binnekant al rondom bevestig; en op die tafels was die offervleis.
44En buitekant die binneste poort was twee kamers in die binneste voorhof, een aan die symuur van die noordpoort, met die voorkant na die suide toe; een was aan die symuur van die suidpoort, met die voorkant na die noorde toe.
45En hy het vir my gesê: Hierdie kamer, waarvan die voorkant na die suide lê, is vir die priesters wat die diens van die huis waarneem.
46En die kamer waarvan die voorkant na die noorde lê, is vir die priesters wat die diens van die altaar waarneem; dit is die seuns van Sadok wat uit die kinders van Levi na die Here mag nader kom om Hom te dien.
47En hy het die voorhof gemeet: die lengte honderd el en die breedte honderd el, 'n vierkant; en die altaar was voor die huis.
48Toe het hy my gebring in die voorportaal van die huis; en hy het elke deurpos van die voorportaal gemeet: vyf el aan die een en vyf el aan die ander kant; en die breedte van die poort: drie el aan die een, en drie el aan die ander kant.
49 Die lengte van die voorportaal was twintig el, en die breedte elf el, en dit by die trappe waarmee 'n mens daarheen opgaan; ook was daar pilare by die deurposte, een aan die een en een aan die ander kant.

Currently Selected:

ESÉGIËL 40: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy