YouVersion Logo
Search Icon

ESÉGIËL 21

21
Die swaard van die Here.
1EN die woord van die Here het tot my gekom en gesê:
2Mensekind, rig jou aangesig teen Jerusalem en laat jou rede druppel teen die heiligdomme en profeteer teen die land van Israel;
3en sê aan die land van Israel: So spreek die Here: Kyk, Ek het dit teen jou, en Ek sal my swaard uit sy skede trek en uit jou uitroei die regverdige en die goddelose.
4Omdat Ek uit jou uitroei die regverdige en die goddelose, daarom sal my swaard uit sy skede uitgaan teen alle vlees, van die suide tot die noorde.
5En alle vlees sal weet dat Ek, die Here, my swaard uit sy skede getrek het; dit sal nie meer daarin terugkeer nie.
6Maar jy, o mensekind, sug; sug voor hulle oë met verbreking van lendene en bitterheid.
7En as hulle vir jou sê: Waarom sug jy? dan moet jy antwoord: Oor die tyding, want dit kom; en elke hart sal versmelt, en al die hande sal slap word en elke gees sal verstomp en al die knieë sal wegvloei soos water. Kyk, dit kom, en dit sal gebeur, spreek die Here Here.
8En die woord van die Here het tot my gekom en gesê:
9Mensekind, profeteer en sê: So spreek die Here. Sê: 'n Swaard, 'n swaard is skerpgemaak en ook geskuur;
10om 'n slagting aan te rig, is dit skerpgemaak, om soos weerlig te wees, is dit geskuur. (Of moet ons bly wees deur te sê: Die septer van my seun verag elke hout?)
11En Hy het dit gegee om te skuur, dat hulle dit in die hand kan vat; dit is skerpgemaak, die swaard, en dit is geskuur om dit in die hand te gee van hom wat doodslaan.
12Skreeu en huil, mensekind; want dit gaan teen my volk, dit gaan teen al die vorste van Israel: aan die swaard is hulle oorgelewer saam met my volk; daarom, slaan op die heup.
13Want die proef is gemaak — en hoe dan as ook die septer wat verag, daar nie meer sal wees nie? spreek die Here Here.
14En jy, mensekind, profeteer en slaan hand teen hand, sodat die swaard verdubbel word, tot drievoudig toe, 'n moordende swaard is dit, 'n moorddadige swaard, die grote, wat hulle omsweef.
15Ek het die slagbank van die swaard opgestel teen al hulle poorte, dat die hart kan smelt en die struikelblokke baie kan wees. Ag, dit is gemaak tot 'n weerligstraal, dit is glad gemaak om te slag.
16Bly aanmekaar, o swaard! Gaan regs, maak 'n aanval, gaan links, waarheen jou snykant ook al gerig is.
17So sal Ek dan ook my hand teen my hand slaan en my grimmigheid tot rus bring; Ek, die Here, het dit gespreek.
18Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê:
19En jy, mensekind, maak vir jou twee paaie waarlangs die swaard van die koning van Babel kan kom; uit een land moet altwee uitgaan; en sny 'n wegwyser uit; sny dit uit by die begin van die pad na 'n stad;
20jy moet 'n pad maak, dat die swaard kan kom na Rabba, van die kinders van Ammon, en na Juda, in die versterkte stad Jerusalem.
21Want die koning van Babel gaan staan waar die paaie uitmekaarloop, by die begin van die twee paaie, om van waarsêery gebruik te maak: hy skud die pyle, raadpleeg die huisgode, bekyk die lewer.
22In sy regterhand is die lot: Jerusalem, om stormramme op te stel, om die mond met geskreeu oop te maak, om die stem te verhef met krygsgeroep, om stormramme op te stel teen die poorte, om 'n wal op te werp, om forte te bou.
23Maar dit is vir hulle soos 'n bedrieglike waarsêery in hul oë (die plegtigste eedsweringe tog is hulle s'n!); maar hy bring die ongeregtigheid in herinnering, dat hulle gegryp kan word.
24Daarom, so sê die Here Here: Omdat julle jul ongeregtigheid in herinnering bring deurdat julle oortredinge openbaar word, sodat julle sondes in al jul handelinge gesien word — omdat julle in herinnering gebring is, sal julle met die hand gegryp word.
25En jy, onheilige, goddelose, vors van Israel, wie se dag gekom het in die tyd van die uiteindelike afrekening —
26so sê die Here Here: Die tulband moet weg, en die kroon moet af! Dit bly nie so nie: Na bo met wat nederig is! Na onder met wat hoog is!
27Puinhoop, puinhoop, puinhoop sal Ek dit maak. Ook dit sal nie bly nie — totdat Hy kom wat daarop reg het, en aan Hom sal Ek dit gee.
28En jy, mensekind, profeteer en sê: So spreek die Here Here aangaande die kinders van Ammon en hulle smaadrede; en jy moet sê: 'n Swaard, 'n swaard is getrek om te slag; dit is geskuur tot die uiterste toe om soos 'n weerligstraal te wees —
29onderwyl hulle vir jou, o swaard, 'n bedrieglike gesig sien, onderwyl hulle vir jou leuens voorspel — dat jy gesit sou word op die nekke van goddelose wat onheilig is, wie se dag gekom het in die tyd van uiteindelike afrekening!
30Steek dit weer in die skede. In die plek waar jy geskape is, in die land van jou oorsprong, sal Ek jou oordeel.
31En Ek sal oor jou my toorn uitgiet; Ek sal op jou blaas met die vuur van my grimmigheid en jou oorgee in die hand van barbare, mense wat verderf smee.
32Voedsel sal jy wees vir die vuur; jou bloed sal binne-in die land wees; aan jou sal nie meer gedink word nie; want Ek, die Here, het dit gespreek.

Currently Selected:

ESÉGIËL 21: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy