YouVersion Logo
Search Icon

ESTER 2

2
Ahasvéros trou met Ester, 'n Jodin, wat 'n sameswering teen die koning openbaar maak namens Mórdegai.
1TOE ná die dinge die woede van koning Ahasvéros bedaar het, het hy aan Vasti gedink en aan wat sy gedoen het en wat oor haar besluit is.
2Toe sê die jongmanne van die koning wat hom dien: Laat hulle vir die koning jongmeisies soek wat mooi van aansien is;
3en laat die koning beamptes aanstel in al die provinsies van sy koninkryk, dat hulle al die jongmeisies wat mooi van aansien is, bymekaar laat kom in die vesting Susan, in die vrouehuis, onder toesig van Hegai, die hofdienaar van die koning, die bewaker van die vroue; en laat hulle skoonheidsmiddele aan hulle gee.
4En die jongmeisie wat die koning geval, moet in die plek van Vasti koningin word. Hierdie woord dan was goed in die oë van die koning, en hy het so gedoen.
5Daar was 'n Joodse man in die vesting Susan met die naam van Mórdegai, die seun van Jaïr, die seun van Símeï, die seun van Kis, 'n Benjaminiet,
6wat uit Jerusalem weggevoer was onder die ballinge wat in ballingskap moes gaan saam met Jegónja, die koning van Juda, wat Nebukadnésar, die koning van Babel, weggevoer het.
7En hy was die opvoeder van Hadássa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy het geen vader of moeder gehad nie; en die jongmeisie was skoon van gestalte en mooi van aansien, en by die dood van haar vader en haar moeder het Mórdegai haar as sy dogter aangeneem.
8En toe die bevel van die koning en sy wet bekend gemaak is, en baie meisies in die vesting Susan onder toesig van Hegai byeengebring is, het hulle Ester ook saamgeneem na die paleis van die koning, onder toesig van Hegai, die bewaker van die vroue.
9En die meisie het hom geval en guns by hom gevind; daarom het hy gou gemaak om haar die nodige skoonheidsmiddele en die regte ete te gee en haar die sewe uitgesoekte meisies uit die paleis van die koning te verskaf; en hy het haar met haar meisies verplaas na die beste gedeelte van die vrouehuis.
10 Ester het haar volk en haar afkoms nie te kenne gegee nie, omdat Mórdegai haar beveel het om dit nie te vertel nie.
11En Mórdegai het dag vir dag voor die voorhof van die vrouehuis gewandel om te verneem na die welstand van Ester en wat met haar sou gebeur.
12En as die beurt van elke meisie aankom om na koning Ahasvéros in te gaan, nadat twaalf maande lank met haar volgens die wet vir die vroue gehandel is — want so lank het die dae van hulle voorbereiding geduur: ses maande lank met mirre-olie en ses maande met balsem en ander skoonheidsmiddele van die vroue —
13as die meisie dan so na die koning ingaan, word alles wat sy sê, aan haar gegee, dat dit saam met haar uit die vrouehuis na die koninklike paleis kan gaan.
14As sy in die aand ingaan en in die môre terugkom na die tweede vrouehuis onder toesig van Saäsgas, die hofdienaar van die koning wat die byvroue bewaak, dan mag sy nie weer by die koning ingaan nie, behalwe as die koning behae in haar vind en sy by die naam geroep word.
15Toe die beurt van Ester, die dogter van Abígail, die oom van Mórdegai, wat haar as sy dogter aangeneem het, kom om in te gaan na die koning, het sy niks verlang nie, behalwe wat Hegai, die hofdienaar van die koning wat die vroue bewaak, gesê het; en Ester het guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het.
16Ester is toe by koning Ahasvéros in sy koninklike paleis opgeneem in die tiende maand, dit is die maand Tebet, in die sewende jaar van sy regering.
17En die koning het Ester liefgekry meer as al die vroue, en sy het guns en welwillendheid voor hom gevind meer as al die jongmeisies; en hy het die koninklike kroon op haar hoof gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti.
18En die koning het 'n groot maaltyd aangerig vir al sy vorste en sy dienaars, die maaltyd van Ester; en hy het 'n vrye dag bepaal vir die provinsies en geskenke gegee, eg koninklik!
19En toe die jongmeisies vir die tweede keer versamel is, terwyl Mórdegai in die poort van die koning sit —
20 Ester het haar afkoms en haar volk nie te kenne gegee nie, soos Mórdegai haar beveel het; en Ester het die bevel van Mórdegai opgevolg soos toe sy by hom opgevoed is —
21in dié dae dan, terwyl Mórdegai in die poort van die koning sit, het Bigtan en Teres, twee hofdienaars van die koning, drumpelwagters, kwaad geword en getrag om die hand aan koning Ahasvéros te slaan.
22Maar Mórdegai het dit te wete gekom en dit aan koningin Ester meegedeel; en Ester het dit uit naam van Mórdegai aan die koning gesê.
23Toe die saak ondersoek en so bevind is, is hulle twee aan 'n galg opgehang; en dit is in die Kroniekboek voor die koning beskrywe.

Currently Selected:

ESTER 2: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy