YouVersion Logo
Search Icon

DEUTERONÓMIUM 6

6
Bevel om die gebooie van God te bewaar en om Hom lief te hê. Beloftes van God.
1DIT is dan die gebod, die insettinge en die verordeninge wat die Here julle God beveel het om julle te leer, sodat julle dit kan doen in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem;
2dat jy die Here jou God kan vrees om al sy insettinge en sy gebooie wat ek jou beveel, te hou — jy en jou kind en jou kindskind al die dae van jou lewe; en dat jou dae verleng kan word.
3Hoor dan, Israel, en onderhou dit sorgvuldig, dat dit met jou goed kan gaan en dat julle baie kan vermenigvuldig soos die Here die God van jou vaders jou beloof het, 'n land wat oorloop van melk en heuning.
4 Hoor, Israel, die Here onse God is 'n enige Here.
5Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.
6En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees;
7en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.
8 Ook moet jy dit as 'n teken bind op jou hand, en dit moet as 'n voorhoofsband tussen jou oë wees.
9 En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe.
10En as die Here jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met 'n eed beloof het om jou te gee — groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie,
11en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie — en jy eet en versadig word,
12neem jou dan in ag dat jy die Here nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie.
13Jy moet die Here jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer.
14Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie —
15want die Here jou God is 'n jaloerse God by jou — sodat die toorn van die Here jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie.
16 Julle mag die Here julle God nie versoek soos julle Hom by Massa versoek het nie.
17Julle moet die gebooie van die Here julle God en sy getuienisse en sy insettinge wat Hy jou beveel het, ywerig onderhou.
18En jy moet doen wat reg en goed is in die oë van die Here, dat dit met jou goed kan gaan en jy kan inkom en in besit neem die goeie land wat die Here aan jou vaders met 'n eed beloof het,
19 terwyl Hy al jou vyande voor jou uit verjaag soos die Here gespreek het.
20 As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die Here onse God julle beveel het?
21dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die Here het ons deur 'n sterke hand uit Egipte uitgelei.
22En die Here het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen.
23En Hy het ons daarvandaan uitgelei om ons in te bring, sodat Hy ons die land kan gee wat Hy aan ons vaders met 'n eed beloof het.
24En die Here het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die Here onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is.
25En dit sal geregtigheid vir ons wees as ons sorgvuldig al hierdie gebooie hou voor die aangesig van die Here onse God soos Hy ons beveel het.

Currently Selected:

DEUTERONÓMIUM 6: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy