YouVersion Logo
Search Icon

II KORINTHIËRS 7

7
1 TERWYL ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.
Paulus is bly oor die koms van Titus en oor die goeie gevolg wat sy eerste brief gehad het.
2MAAK vir ons ruimte in julle harte. Ons het niemand onreg aangedoen nie, ons het niemand benadeel nie, ons het op niemand voordeel behaal nie.
3Ek sê dit nie om te veroordeel nie, want ek het vantevore gesê dat julle in ons harte is om saam te sterwe en saam te lewe.
4Ek het groot vrymoedigheid teenoor julle; my roem oor julle is groot; ek is vervul met troos; ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking.
5Want ook toe ons in Macedónië gekom het, het ons vlees geen rus gehad nie, maar ons is op allerhande maniere verdruk; van buite was daar aanvegtinge, van binne verskrikkinge.
6Maar Hy wat die nederige troos, naamlik God, het ons getroos deur die koms van Titus;
7en nie deur sy koms alleen nie, maar ook deur die troos waarmee hy oor julle getroos is, deurdat hy aan ons berig gebring het van julle verlange, julle verdriet, julle ywer vir my, sodat ek my nog meer verbly het.
8Want, al het ek julle ook deur die brief bedroef gemaak, is ek nie jammer nie, al was ek ook jammer. Want ek sien dat daardie brief, al was dit vir 'n kort tydjie, julle bedroef gemaak het.
9Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God, sodat julle deur ons in niks skade gely het nie.
10Want die droefheid volgens die wil van God werk 'n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.
11Want kyk, juis dit, dat julle bedroef geword het volgens die wil van God — wat 'n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoording, verontwaardiging, vrees, verlange, ywer, bestraffing. In alles het julle bewys dat julle in die saak rein is.
12Al het ek ook aan julle geskrywe, dan was dit nie ter wille van hom wat onreg gedoen het nie, of ter wille van hom wat onreg gely het nie, maar dat ons ywer vir julle aan julle duidelik kan word voor God.
13Daarom is ons getroos oor julle vertroosting en het veral bly geword oor die blydskap van Titus, omdat sy gees deur julle almal verkwik is.
14Want as ek iets by hom oor julle geroem het, is ek nie beskaam nie; maar soos ons alles met waarheid tot julle gespreek het, so het ook ons roem by Titus waarheid geword.
15En sy hart is julle veral toegeneë as hy hom die gehoorsaamheid van julle almal herinner, hoe julle hom met vrees en bewing ontvang het.
16Ek verbly my dus dat ek my in alle opsigte op julle kan verlaat.

Currently Selected:

II KORINTHIËRS 7: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy