YouVersion Logo
Search Icon

I KORINTHIËRS 4

4
Die dienaars van Christus en die bedienaars van die verborgenhede van God.
1SO moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God.
2En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word.
3Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie,
4want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here.
5Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.
Die hoogmoed van die Korinthiërs: nederigheid en gesag van die apostels.
6HIERDIE dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen 'n derde nie.
7Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?
8Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers. Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!
9Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek aangewys het as tot die dood veroordeel; want ons het 'n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense.
10 Ons is dwaas ter wille van Christus, maar julle is verstandig in Christus. Ons is swak, maar julle sterk. Julle is in aansien, maar ons in oneer.
11Tot op hierdie uur ly ons honger en dors, is ons naak en word geslaan, en swerwe ons rond,
12en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit;
13word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe.
14Ek skrywe hierdie dinge nie om julle te beskaam nie, maar ek vermaan julle as my geliefde kinders.
15Want al sou julle tienduisend tugmeesters in Christus hê, dan het julle tog nie baie vaders nie; want in Christus Jesus het ek julle vader geword deur die evangelie.
16Ek vermaan julle dan, word my navolgers.
17Daarom het ek Timótheüs, wat my geliefde en getroue seun in die Here is, na julle gestuur. Hy sal julle herinner aan my handelwyse in Christus, soos ek oral in elke gemeente leer.
18Maar sommige het opgeblase geword, asof ek nie na julle sou kom nie;
19tog sal ek gou na julle kom, as die Here wil, en dan sal ek te wete kom, nie die woorde van die wat opgeblase is nie, maar hulle krag;
20want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag.
21Wat wil julle hê? Moet ek met die roede na julle kom of met liefde en in die gees van sagmoedigheid?

Currently Selected:

I KORINTHIËRS 4: AFR53

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy