YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 37

37
Jy moet glo die Here lei jou op jou pad
1Van Dawid.
Jy moenie kwaad word
oor wat slegte mense doen nie,
jy moenie ontsteld wees oor mense
wat slegte dinge doen nie,
2want gras verlep gou,
en groen plante word droog,
en so sal dit gaan met daardie mense.
3Jy moet glo dat die Here sal doen
wat Hy belowe het
en jy moet goeie dinge doen.
Dan sal jy in hierdie land woon en jy sal veilig wees.
4As jy gelukkig voel omdat jy aan die Here behoort,
dan sal Hy vir jou alles gee wat jy wil hê.
5Jy moet glo dat die Here jou op jou pad sal lei
en dat Hy sal doen wat Hy belowe het.
As jy dit glo, dan sal Hy dit doen
6en Hy sal vir almal wys dat jy onskuldig is,
Hy sal vir almal sê jy is iemand wat reg doen.
7Jy moet stilbly en geduldig wag
totdat die Here iets doen.
Jy moenie kwaad word wanneer dit goed gaan
met iemand wat skelm planne maak nie.
8Jy moenie kwaad en ontsteld word nie,
jy moet dit los.
Jy moenie kwaad word nie,
dit bring net probleme.
9Want mense wat slegte dinge doen,
sal moet weggaan uit die land.
Die mense wat glo dat die Here hulle sal red,
húlle sal die land kry.
10Oor 'n kort tydjie
sal die mense wat verkeerd doen, weg wees.
Jy sal kyk na die plek waar hulle was,
en hulle sal nie daar wees nie.
11Maar die mense wat hulleself nie kan help nie,
sal die land kry
en hulle sal gelukkig voel omdat alles goed sal gaan.
12Die mens wat verkeerd doen, maak slim planne
teen die mens wat reg doen, hy wil hom laat sterf.
13Maar die Here lag vir die mense wat verkeerd doen,
want Hy weet wat met hulle sal gebeur.
14Die mense wat verkeerd doen, vat die swaard
en hulle trek die boog styf,
hulle wil die mense doodmaak
wat hulleself nie kan beskerm nie
en wat niks het nie,
hulle wil die mense vermoor wat eerlik lewe.
15Maar hulle swaard sal deur hulle eie hart steek,
en hulle boog sal stukkend breek.
16Wanneer die mens wat reg lewe, min het,
dan is dit beter as die baie dinge
wat die mense het wat verkeerd doen,
17want die Here sal die mense wat verkeerd doen,
swak laat word,
maar Hy beskerm die mense wat reg doen.
18Die Here sorg altyd vir mense wat net goed doen,
en die land sal altyd hulle land wees.
19Hulle sal weet wat om te doen
wanneer dit sleg gaan,
en wanneer daar min kos in die land is,
dan sal hulle genoeg hê om te eet.
20Maar die mense wat verkeerd doen, sal sterf.
Die vyande van die Here is soos die veldblomme,
hulle verdwyn in die rook en hulle is weg.
21Die mens wat verkeerd doen,
leen van ander mense en hy gee nie terug nie.
Die mens wat reg doen,
is iemand wat vir ander mense goed is
en wat gee.
22Wanneer die Here mense seën,
dan sal hulle die land kry,
wanneer Hy mense vervloek,
dan jaag Hy hulle weg uit die land.
23Wanneer die Here tevrede is oor hoe 'n mens lewe,
dan lei Hy hom en dan beskerm Hy hom.
24Wanneer so 'n mens val, dan val hy nie hard nie,
want die Here hou sy hand vas.
25Ek is nou oud, maar vandat ek jonk was tot nou toe,
het ek nie gesien dat die Here
'n mens los wat reg lewe nie,
ek het ook nie gesien dat so 'n mens se nageslag
nie kos het nie.
26Die mens wat reg lewe, kan die hele dag lank
goed wees vir ander mense en vir hulle dinge leen,
en sy nageslag laat dit goed gaan met ander mense.
27Jy moenie verkeerd doen nie,
jy moet doen wat goed is,
dan sal jy altyd in die land woon.
28Want die Here hou daarvan
dat mense reg doen aan ander mense
en Hy los nie die mense wat in Hom glo nie.
Hy beskerm hulle altyd,
maar Hy jaag die nageslag van die mense
wat verkeerd doen, weg.
29Die mense wat reg lewe, sal die land kry
en altyd daar woon.
30Wanneer die mens wat reg lewe,
sy mond oopmaak en praat,
dan wys hy dat hy wysheid het
en dat hy reg wil doen aan ander mense.
31Hy weet wat die Here wil hê hy moet doen,
en hy doen nie verkeerd nie.
32Die mens wat verkeerd doen,
probeer om die mens wat reg doen,
te vang wanneer hy iets verkeerd doen,
hy wil hê dat hy moet sterf.
33Maar die Here los nie die mens
wat reg doen nie,
daardie mens is nie skuldig wanneer mense hom oordeel nie.
34Jy moet glo dat die Here sal doen wat Hy belowe
en jy moet lewe soos Hy wil hê.
Dan sal Hy jou die hoof van die land laat word,
en jy sal sien hoe die mense wat verkeerd doen,
uit die land moet weggaan.
35Ek het gesien dat 'n mens wat verkeerd doen,
ander mense verdruk,
ek het gesien dat dit met hom goed gaan,
hy lyk soos 'n boom wat altyd groen is.
36Maar toe ek weer daar verbykom,
toe was hy nie meer daar nie.
Ek het hom gesoek,
maar ek het hom nie gekry nie.
37Kyk hoe dit gaan met die goeie mens,
die eerlike mens.
Ja, die mens wat vrede wil hê, het 'n nageslag.
38Maar die mense wat opstandig is teen die Here,
sal sterf.
Die nageslag van die mense wat verkeerd doen,
sal verdwyn.
39Dit is die Here wat die mense red wat reg doen,
Hy beskerm hulle wanneer hulle swaarkry.
40Die Here help hulle en Hy maak hulle vry,
Hy maak hulle vry van die mense wat verkeerd doen
en Hy red hulle, want hulle vra
dat Hy hulle moet beskerm.

Currently Selected:

Psalms 37: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy