YouVersion Logo
Search Icon

Johannes 19

19
1Toe het Pilatus vir die soldate gesê hulle moet vir Jesus met 'n sweep slaan.
2Die soldate het 'n kroon van dorings gevleg en hulle het dit op Jesus se kop gesit. Hulle het vir Jesus pers klere aangetrek. 3Toe het hulle weer en weer na Hom toe geloop en gesê: “Ons groet jou, Koning van die Jode!”
Elke maal het hulle Hom geklap.
4Pilatus het weer buitetoe gegaan. Hy het vir die Jode gesê: “Kyk, ek sal nou vir Jesus buitetoe laat kom na julle toe, sodat julle kan weet ek dink Jesus het niks verkeerd gedoen nie.”
5Toe het Jesus buitetoe gekom. Die doringkroon was nog op sy kop en Hy het nog die pers klere aangehad. Pilatus het vir die Jode gesê: “Kyk hoe lyk die man nou!”
6Toe die priesterleiers en hulle wagte vir Jesus sien, skree hulle vir Pilatus: “Jy moet hom kruisig! Jy moet hom kruisig!”
Pilatus het vir hulle gesê: “Nee, vat júlle hom en gaan kruisig hom. Ek dink hy het niks verkeerd gedoen nie.”
7Die Jode het vir Pilatus gesê: “Ons het wette en ons wette sê ons moet vir Jesus doodmaak, want hy het gesê hy is die Seun van God.”
8Toe Pilatus hoor wat die Jode sê, het hy nóg banger geword. 9Pilatus het weer ingegaan in sy huis. Hy het vir Jesus gesê: “Jy moet vir my sê van waar jy kom.”
Maar Jesus het nie vir Pilatus geantwoord nie. 10Toe sê Pilatus vir Jesus: “Hoekom praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek kan besluit of jy vry sal wees en of die soldate jou sal kruisig nie?”
11Jesus het vir Pilatus gesê: “Nee, jy kan dit nie self besluit nie. God het besluit jy mag sê wat met My moet gebeur. Daarom doen die mense wat My na jou toe gebring het, groter sonde as jy.”
12Toe Pilatus hoor wat Jesus sê, het hy probeer om vir Jesus te laat gaan, maar die Jode het hard geskree: “As jy vir Jesus laat gaan, dan is jy nie die keiser se vriend nie. Jesus het gesê hy is 'n koning. Daarom is hy 'n vyand van die keiser.”
13Toe Pilatus hoor wat die Jode sê, het hy vir Jesus buitetoe laat bring. Pilatus het op die regterstoel gaan sit. Die plek waar die regterstoel gestaan het, se naam was die Klipstoep. Die Hebreeuse naam van die plek is Gabbata. 14Dit was die dag voor die Paasfees, die dag waarop die Jode alles gereedgemaak het vir die Paasfees. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Pilatus het vir die Jode gesê: “Kyk, hier is julle koning!”
15Hulle het hard geskree: “Jy moet vir Jesus wegvat! Jy moet hom wegvat! Jy moet hom laat kruisig!”
Pilatus het vir hulle gevra: “Moet ek vir Jesus, julle koning, laat kruisig?”
Die priesterleiers het vir Pilatus gesê: “Jesus is nie ons koning nie! Ons het net een koning, en dit is die keiser!”
16Toe het Pilatus gesê die priesterleiers mag vir Jesus vat en Hom laat kruisig.
Die soldate kruisig vir Jesus
(Ook Matt 27:26,31,33,35-38,55-56; Mark 15:15,20,22,24-27,40-41; Luk 23:25-26,32-34,38,49)
Die soldate het vir Jesus weggevat om Hom te kruisig.
17Jesus het self sy kruis gedra en Hy het uit die stad gegaan, na die Kopbeenplek. Die Hebreeuse naam van die plek is Golgota. 18Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het twee ander mans saam met Hom gekruisig, een links langs Jesus en een regs langs Hom. 19Pilatus het op 'n plank bo-aan die kruis laat skryf: “Hier hang Jesus van Nasaret, die koning van die Jode.”
20Baie Jode het gelees wat daar geskryf was, want die plek waar die soldate vir Jesus gekruisig het, was naby die stad. Die woorde op die plank was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die Joodse priesterleiers het toe vir Pilatus gaan sê: “Jy moenie skryf: ‘Jesus, die koning van die Jode’ nie. Jy moet skryf: ‘Jesus het gesê hy is die koning van die Jode.’ ”
22Pilatus het vir hulle gesê: “Ek het dit geskryf en ek sal dit nie verander nie.”
23Nadat die soldate vir Jesus gekruisig het, het hulle sy klere gevat. Hulle het sy bo-klere in vier dele gedeel, en elke soldaat het 'n deel gekry. Jesus se onderkleed was alles een stuk materiaal, dit het nie 'n naat gehad nie. 24Die soldate het vir mekaar gesê: “Ons moenie die onderkleed stukkend skeur nie. Dit sal beter wees as ons lootjies trek om te sien wie dit moet kry.”
Dit het gebeur sodat dit waar kan word wat in die Ou Testament geskryf is. Daar is geskryf:
Hulle het my klere
tussen hulle gedeel.
Hulle het lootjies getrek
oor my klere.
Dit is wat die soldate gedoen het.
25Jesus se ma het naby sy kruis gestaan. Haar suster was ook daar, ook Maria vrou van Klopas, en Maria Magdalena. 26Jesus het gesien sy ma staan daar en ook die dissipel vir wie Hy lief was. Toe sê Jesus vir sy ma: “Mevrou, daardie dissipel is nou jou seun.”
27En Hy sê vir daardie dissipel: “Daardie vrou is nou jou ma.”
Van toe af het daardie dissipel vir Jesus se ma by hom laat woon.
Jesus sterf
(Ook Matt 27:48-50; Mark 15:36-37; Luk 23:36,46)
28Jesus het geweet al sy werk op aarde was nou klaar. Daarom het Hy gesê: “ Ek is dors.”
Hy het dit gesê sodat dit waar kan word wat in die Ou Testament geskryf is. 29Daar het 'n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het 'n spons vol suur wyn gemaak en hulle het dit op 'n hisop-tak gesit. Hulle het dit teen Jesus se mond gedruk. 30Jesus het die wyn gedrink en gesê: “Nou het Ek my werk klaar gedoen!”
Hy het sy kop vorentoe gebuig en Hy het gesterf. 31Dit was die dag toe die Jode alles gereedgemaak het vir die Sabbatdag, 'n baie belangrike Sabbatdag. Die Jode wou nie hê Jesus en die ander twee mans se liggame moet op die Sabbatdag aan die kruise hang nie. Daarom het die Jode vir Pilatus gevra dat sy soldate eers hulle bene moet breek voordat die soldate die liggame van die kruise afhaal. 32Die soldate het gegaan en hulle het die eerste man se bene gebreek. Toe het hulle ook die bene gebreek van die ander man wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe die soldate by Jesus kom, sien hulle Jesus is klaar dood. Daarom het hulle nie sy bene gebreek nie, 34maar een van die soldate het 'n spies in Jesus se sy gesteek en dadelik het daar bloed en water uitgekom. 35Die man wat dit alles sien gebeur het, het dit vertel. Wat hy vertel het, is die waarheid. Hy weet dat hy die waarheid praat. Hy doen dit sodat julle kan glo. 36Dit alles het gebeur sodat dit waar kon word wat in die Ou Testament geskryf is: “ Die mense sal nie sy bene breek nie.”
37Op 'n ander plek in die Ou Testament is geskryf: “ Hulle sal Hom sien, Hy is die Een, hulle het Hom met 'n spies gesteek.”
Josef van Arimatea en Nikodemus sit Jesus se liggaam in 'n graf
(Ook Matt 27:57-60; Mark 15:42-43,45-46; Luk 23:50-54)
38Josef van die stad Arimatea was 'n dissipel van Jesus, maar dit was 'n geheim, want hy was bang vir die Jode. Nadat Jesus gesterf het, het Josef vir Pilatus gevra of hy Jesus se liggaam mag wegneem. Pilatus het gesê hy mag dit doen. Toe het Josef gegaan en hy het Jesus se liggaam gaan afhaal van die kruis. 39 Nikodemus, wat voorheen in die nag na Jesus toe gekom het, het ook kom help. Hy het 'n groot klomp mirre en aalwyn gemeng en hy het dit saamgebring. 40Josef van Arimatea en Nikodemus het Jesus se liggaam geneem en hulle het dit met lappe toegedraai saam met die mirre en aalwyn. Die Jode het dit altyd gedoen voordat hulle iemand begrawe het.
41Op die plek waar die soldate vir Jesus gekruisig het, was daar 'n tuin. In die tuin was daar 'n nuwe graf. Die mense het nog nooit iemand in daardie graf begrawe nie. 42Josef van Arimatea en Nikodemus het Jesus se liggaam in daardie graf gaan sit, want die graf was daar naby en dit was die dag voor die Sabbatdag, die dag wanneer die Jode alles moes gereedmaak vir die Sabbatdag.

Currently Selected:

Johannes 19: ABA

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy